God se skepping – Lodewyk Sutton

Daan vra:

Wie/Wat is reg ?
Ek as gelowige Christen word gekonfronteer met dat evolusie die WAARHEID is.

Antwoord

Lodewyk Sutton antwoord:

Die skeppingsverhale in die Ou Testament is werklik besonders. Dit is van die mooiste omskrywings van die skepper God van Israel. Dit is sekerlik die eerste gedagte wat ons moet besef wanneer ons begin praat oor die skepping. Dat daar nie slegs een skeppingsverhaal in die Ou Testament is nie. Daar is menigte, onder ander: Gen 1; Gen 2; Job 9, 34-38, 39-42, Pss 8, 19, 33, 65, 104, 139, Spr 8 en nog baie meer. Hierdie tekste se verhale verskil in hul inhoud en omskrywing van die skepping. Kyk maar net hoe verskil die Genesis 1 verhaal van die Genesis 2 verhaal.

Dit bring ons by ons tweede belangrike gedagte. Dat ons moet besef dat die skeppingsverhale tekste is wat geskryf is in verskillende skryfstyle of anders gestel genres. Van hulle is narratiewe, van hulle is poëtiese tekste of ʼn kombinasie. Dit maak dat hoe ons elkeen van hierdie tekste moet benader, ook verskil.   

Dit bring ons by die derde gedagte. Dat hierdie tekste deur verskillende skrywers, in verskillende tye as gevolg van verskillende kontekste geskryf is. Alhoewel die Genesis 1 teks deel is van die oer tekste in Genesis 1-11, beteken dit glad nie dat die teks noodwendig so oud is nie. Die teks het in alle waarskynlikheid eers sy ontstaan gekry na die Babiloniese ballingskap, met ander woorde na 586vC. Die konteks van die ontstaan van die teks (rede vir ontstaan) is die ballingskap en die reaksie van die priesters op die ander skeppingverhale van die antieke Nabye Ooste. Daarom is die Genesis 1 teks ʼn pragtige teologiese geloofsbelydenis oor God. Die Genesis 1 teks se fokus is nie om ʼn historiese omskrywing te kom bied oor hoe God die aarde geskape het nie, maar handel eerder oor wie die God is wat die aarde geskape het. In ander woorde nie die hoe nie, maar die wie. As dit oor die hoe sou gaan bring dit ons by ʼn probleem wanneer ons besig is met die ander skeppings verhale in die Bybel. Die een kan tog nie reg wees en die ander verkeerd nie. Daarom moet ons besef dat ons is besig met ʼn teologiese teks wat deur die narratief of poëtiese taal kom verduidelik oor wie is die skepper God.

Dit bring ons by ons vierde gedagte, die verhouding tussen Genesis 1 en evolusie. Genesis 1 is ʼn teologiese teks wat vir ons verduidelik wie die skepper God is, terwyl evolusie ʼn natuurwetenskaplike teorie is oor hoe die aarde en heelal tot stand gekom het. Net soos wat die Genesis 1 teks nie verduidelik hoe die aarde geskape is nie, net so kan die wetenskaplike teorieë nie kom en verduidelik wat die teologiese belydenis omtrent God moet wees nie. Indien ʼn persoon dit sou verduidelik in terme van sport sou jy kon sê dat jy nie krieket met rugby reëls kan speel nie of andersom. So sou mens nie met die Genesis 1 teks kon sê dat evolusie nie ʼn moontlike teorie vir die totstandkoming van die heelal is nie. So ook sou natuurwetenskaplikes nie kon sê as gevolg van evolusie dat God nie bestaan nie. Die skeppingsverhale in die Bybel kom en bely wie die skepper God is. Die fokus is nie om te verduidelik hoe God dit gedoen het nie, daarop sou die natuurwetenskaplikes vir ons ʼn beter antwoord of moontlikehede kan bied. Daarom hoef die twee nie teenoor mekaar te staan nie.

Skrywer: Lodewyk Sutton