Godsdienstige Pluralisme (1)
Our death as a church – as with any church – comes only by separating ourselves from His Headship. If we remember the gospel faithfully then nothing can destroy us. If we forget the gospel, then nothing we do can save us, or should – – Timothy Tennent
Godsdienstige Pluralisme (1)
Godsdienstige pluralisme is vandag ‘n ernstige probleem vir die kerk. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie probleem spandeer.
Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6)
Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie (Handelinge 4:12)
Verse soos hierdie maak mense ongemaklik. Hoekom? Hoe kan mense vandag nog glo dat daar net een ware godsdiens is? Kyk net na al die goeie mense in ander godsdienste. Selfs gelowiges het probleme met hierdie eksklusiewe benadering. Die kerk moet ‘n teologies gesonde en kultuur sensitiewe reaksie oor pluralisme ontwikkel.
Voordat ons toepaslik kan reageer, moet ons eers verstaan wat die aard van die uitdagings is en die faktore wat aanleiding gee tot ‘n kulturele konteks waarin pluralisme so aanvaarbaar is. Die tradisionele perspektief van die Christelike geloof tot die middel van die 20ste eeu was eksklusiwiteit. Ons kan hierdie benadering teologies definieer in terme van die volgende beginsels:
- Die Bybel is God se unieke openbaring – waar en gesagvol. Waar die aansprake van die Skrif dus bots met dié van ander godsdienste moet hierdie godsdienste verwerp word.
- Jesus Christus is God se unieke Seun wat mens geword het- volledig God en volledig mens.
- Net deur die persoon en werk van Jesus Christus is verlossing moontlik.
- God se verlossende genade word nie deur ander onderrig, praktyke of instellings of ander godsdienste bemiddel nie.
Dit beteken nie dat mense wat hierdie benadering aanhang nie kultureel sensitief en verdraagsaam kan wees teenoor mense van ander godsdienstige tradisies nie. Dit beteken ook nie dat daar niks van waarde in ander godsdienste kan wees nie.
Teen die 1970’ en 80’s begin sekere teoloë vra dat ‘n kritiese aanname – dat verlossing net in Jesus Christus verkry kan word – verwerp moet word. Pluralisme verwerp die siening dat daar iets uniek of normatief oor Jesus Christus en die Christelike geloof is. Verlossing is teenwoordig in alle godsdienste op sy eie unieke manier. Geen godsdiens is uniek of beter as ander nie. Pluraliste glo dus dat Christene kan glo hulle Christus is uniek en normatief vir hulle. Jesus Christus is die Verlosser vir Christene, maar nie noodwendig die Verlosser vir alle mense nie. Hier is vier aannames van belang:
– Mense dwarsoor die wêreld is inherent godsdienstig
– Dit wat ons glo en dit wat ons in godsdienste ondervind, is nie ‘n waanbeeld nie.
– Daar is ‘n enorme diversiteit in godsdienstige geloof en praktyke
– Daar is ‘n algemene element in al die belangrikste godsdienstige tradisies – die transformaasie van mense wat op hullelself gesentreerd is na mense wat op die werklikheid gesentreerd is.
Alle tradisionele godsdienste is basies geldig. Gelowiges kan hulle dus volledig aan hulle spesifieke godsdiens toewy terwyl hulle ander godsdienstige tradisies ook aanvaar. Hierdie tradisies moet dus as geldige alternatiewe verlossingswyses aanvaar word.
Pluralisme bied ‘n tweeledige uitdaging vir die Christelike geloof:
– Die idee dat een besondere godsdienstige perspektief universeel geldig en normatief vir alle mense is, is intellektueel onaanvaarbaar.
– As ons glo dat een godsdiens universeel normatief is, hoekom moet die Christelike geloof en Jesus Christus in hierdie bevoorregte posisie wees? Hoekom Jesus en nie Boeddha nie?
Wat is die faktore onderliggend aan die hedendaagse aanspraak van Pluralisme? Daarna kyk ons volgende keer.