Griekse invloed in Paulus se tyd – Francois Malan

Willie vra

Kan n mens die afleiding maak dat Paulus ʼn Hellinistiese Christen was,eerder as n Hebreeuse Christen in aggenome sy vermoë om te kon redeneer en dat sommige van sy skrywes ingewikkeld is, maar ook dat die Griekse invloed wel baie groot was in Israel?

Kan n mens die Griekse invloed sover as die Israeliete in ballingskap terugneem en op grond van dit aanvaar dat die meeste Israeliete ( na die balingskapperiode a.g.v Griekse wêreldoorheersing in daardie tyd) wel Grieks magtig was en op grond van dit kan aflei dat Petrus tog wel instaat was om n goeie Grieks te praat en skryf en nie noodwendig iemand nodig gehad het om uit Hebreeus of Aramees te moes vertaal nie ? Sy broer se naam wil tog die indruk gee dat dit Grieks is – ANDREAS ( FONETIES GRIEKS=ANDREAS?)

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Aramees het reeds in Abram se tyd (1750v.C.) in Mesopotamië vanuit Ur tot in Haran die ou taal Akkadies begin verdring (vgl. Gen. 10:22; 22:21 vir die voorvader van die Arameërs). Dit was die taal van die Assiriërs wat die tien stamme in 622v.C. in ballingskap weggevoer het en in Mesopotamië verstrooi het (2 Kon 18:11).

In 597v.C. het Nebukadnesar vir Jojagin en die leiers van Juda weggevoer na Babel, en vir Sedekia as regent aangestel. Sedertdien het Aramees ook in Palestina die handels- en politieke taal en van die administrasie geword. Met Sedekia se opstand teen Babel is Jerusalem in 587v.C. verwoes en die res van die Jode na Babel geneem, waar Aramees Hebreeus as volkstaal gedurende die ballingskap verdring. Na die ballingskap, toe Kores die Pers met sy verdraagsame beleid die Assiries-Babiloniese ryk in 539v.C. oorneem, die Joodse ballinge in 538 v C toelaat om na Jerusalem terug te keer en die tempel te herbou, is die tempeldiens in Serubbabel se tyd heringestel. Aramees is egter as algemene spreektaal gevestig. Slegs as Bybeltaal en in die kultus sou Hebreeus voortbestaan. Ook Jesus en die vroegste kerk het Aramees gebesig.

In 332v.C. verower Alexander die Grote Jerusalem sonder slag of stoot. Hy gee die plaaslike godsdienste, politieke instansies en kulture soveel moontlik ruimte. In sy voetspore volg die Hellenisme, die magtige Griekse kultuurbeweging wat die gebiede rondom die Middellandse See vir baie eeue sou oorheers. Sedertdien begin die vereenvoudigde Grieks-Attiese spreektaal (koine) spoedig die algemene kommunikasie-medium van die groot kosmopolitaanse wêreld word waaroor die opvolgers van Alexander bewind gevoer het. Die boeke van die Nuwe Testament is in koine geskryf en het die evangelie vir groot dele van die destydse wêreld toeganklik gemaak. Selfs as Paulus aan die Christene in Rome skryf, kan hy dit in Grieks doen. Naas Grieks het die plaaslike tale egter bly voortbestaan (vgl. Hand 14:11). In Palestina het Aramees naas Grieks as gesproke taal bly voortleef.

Die Betsaida waar Petrus grootgeword het (Joh 1:44) lê in Galilea, 9km noord van Tiberias. Van Petrus en Johannes sê Hand. 4:13 dat hulle ongeletterd is. Hulle was vissers wat nie skool gegaan het nie. In Galilea het hulle Aramees gepraat maar kon waarskynlik Grieks verstaan. Hoewel 1 Petrus in goeie Grieks geskryf is, sê Petrus self in 1 Petr 5:12: ‘Ek het deur Silvanus..kortliks aan julle geskryf…’ Daarom sal die goeie Grieks van die brief van Silvanus kom, oor die dinge wat Petrus vir hom vertel het. So is die kerklike tradisie ook dat Markus sy Evangelie geskryf het omdat die gemeente in Rome hom gevra het om die verhale oor Jesus, wat Petrus aan hulle vertel het, op te teken.

Toe Tiglapeleser in 622v.C. die bevolking van Galilea, wat reeds soos die heidene geleef het (2 Kon 17:15), na Assirië weggevoer het (2 Kon 15:29), word die oorblywende bevolking met heidene vermeng (2 Kon 17:24). In Petrus se tyd het egte Jode die inwoners van Galilea geminag oor hulle gemengde bevolking en lewenswyse (Joh 1:47; 7:52). Matteus 4:13-15 haal Jesaja 8:23-9:1 aan oor Jesus se verblyf in Kapernaum in ‘Galilea van die heidene.’ Petrus se provinsiale uitspraak van Aramees vestig die aandag op hom as Galileër, soos op Jesus (Mat 26:73; Mark 14:70).

Die Jood Paulus kom van Tarsus (Hand 9:11) in die Klein-Asiese provinsie, Silisië, ’n burger van ’n nie onbelangrike stad nie (Hand 21:39), vermaard deur sy skole wat wedywer met Atene en Alexandrië. Hier het die ou Oosterse beskawing en die nuwe Griekse kultuur saamgekom. Hulle godsdienstige lewe was treurig met Baäl-Tars as hoofgod. Of Paulus hier op skool was, weet ons nie. Maar volgens sy eie getuienis is hy Jerusalem toe om by die gematigde Gamaliël opgevoed te word streng volgens die wet van die voorvaders, dit wil sê die Ou Testament (Hand 22:3). Gamaliël was ’n volgeling van Rabbi Hillel, bekend om sy soepelheid en vredeliewendheid (vgl. Hand 5:34-39 oor Gamaliël se optrede), teenoor die skool van die strenge rigoris Rabbi Sjammai.

Paulus se briewe, in koine Grieks geskryf, getuig van sy wye kennis van die Ou Testament. Sy aanhalings is meestal uit die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, wat 200 jaar voor Christus uit die Hebreeus vertaal is, en wat die Bybel van die eerste Christelike gemeentes in die Grieks-Romeinse wêreld geword het.

Paulus roem daarop dat Hy ’n Fariseër is, die seun van Fariseërs (Hand 23:23:6) . Die Fariseërs het o.a. geglo dat die geskiedenis deur die goddelike voorsienigheid bepaal word, terwyl die Sadduseërs gesteld was op die vryheid van die indiwidu om sy lewe en geskiedenis te bepaal.

Die Fariseërs glo aan ’n opstanding na die dood, en ’n buitewêreldse bestaan waar die mens beloon of gestraf word volgens sy optrede in hierdie wêreld. Hierin is hulle grotendeels beïnvloed deur Persiese en Hellenistiese denke. Die Sadduseërs het die opstanding verwerp en gehou by die leer oor die doderyk (vgl. Hand 23:8).

In Jerusalem verdedig hy hom voor die volk in die Hebreeuse dialek, dit is in Aramees (Hand 22:2). Vir die Jode het hy soos ’n Jood geword om Jode te wen….vir diegene sonder die wet soos iemand sonder die wet (maar onder die wet van Christus) om hulle wat sonder die wet is, te wen (1 Kor 9:20-21).

Hieruit kan nie afgelei word dat hy eerder ’n Hellenistiese Christen was as ’n Hebreese Christen nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan