Herdoop; die doop as verbondsteken
Herdoop; die doop as verbondsteken – Jan van der Watt
ʼn Leser vra:
(1) Waarom kan n’ mens nie herdoop nie? Met ander woorde: waarom as ek as kind gedoop is, kan ek my nie laat grootdoop nie?
(2) Waarom word daar gesê dat die klein-doop ʼn verbondsteken is soos die besnydenis in die Ou Testament was? Ek lees dit nie so in die Bybel nie?
Antwoord:
Prof Jan van der Watt antwoord:
Ons het reeds baie inligting oor die doop op die webblad. Lees dit eers. Hoe beter ʼn mens die sisteem waarbinne die doop in die Christendom inpas verstaan, hoe makliker is dit om die probleme te verstaan en op te los.
a) Waarom nie herdoop nie? Hierdie vraag is reeds elders op die webblad beantwoord, maar tog net weer ʼn paar opmerkings. Doop is die teken dat ʼn mens ʼn plek het binne die familie van God. Byna 1,5 biljoen Christene (die Rooms Katolieke Kerk en die Ortodokse Kerk) glo daarom dat redding deur die doop bemiddel word, met ander woorde, dat as ʼn mens gedoop word, jy ook gered is. Die Protestantse deel sê egter dat die doop net ʼn teken is van die redding en nie self redding bewerk nie (lees 1 Korintiërs 10). Met die kinderdoop word daar gesê dat die kind van gelowige ouers nie uit die familie uitgegooi word om buitekant groot te word nie, maar binne die geestelike familie van God grootword. Daarom lê ouers (en die gemeente) beloftes af dat hulle die kind so sal grootmaak dat hy of sy niks en niemand anders sal wil dien as vir God as hulle grootword nie. Deur hulle lewe sal hulle hulle plek binne die geestelike familie van God later bevestig. Nou: God is nie onbetrokke of afsydig hiervan nie. Met die doop maak Hy sy arms oop en dui hy aan dat die kind welkom is in sy familie. Soos kinders in Israel wat as Israeliete gebore was, welkom was in die volk Israel, is die kinders van gelowiges welkom in die geestelike volk van God. Dit verklaar God en die doop is die teken daarvan. As ons nou ons weer en weer laat doop, beteken dit dat ons God oor en oor vra of Hy seker is van wat Hy die eerste maal gesê het. Dit kan nie. Juis daarom doop ons nie weer en weer nie. Wat God verklaar het, het Hy verklaar. Die beste voorbeeld van hoe dit werk kan gesien word met die verlore seun in Lukas 15. Die seun loop weg en toe hy terugkeer het die vader nie weer gevra dat hy van voor af kind word nie. Nee, sy kindskap is gewoon bevestig deur die oop arms van sy pa. Selfs as ons afdwaal en van God wegloop, bly God se genade daar.
b) Wat die besnydenis betref: daar is inderdaad nie veel in die Nuwe Testament oor die verband tussen die doop en die besnydenis nie. Die naaste wat die Nuwe Testament daaraan kom is in Kolossense 2:11vv. Bybeluitleggers is egter nie eens dat die doop en die besnydenis hier verbind word nie. Dit maak deel uit van twee afsonderlike voorbeelde wat Paulus hier gee. Die verband tussen die twee is meer ʼn dogmatiese (leerstellige) saak van die kerk, met ander woorde, dit is die kerk se manier om te verklaar hoe dit werk. Die twee sake loop parallel: dit gaan om kinders wat deel word van die familie, die teken dat hulle wel deel is; die verantwoordelikheid van die ouers en die gemeente om hulle godvresend op te voed, ens. Ons het nie meer die besnydenis nodig nie (lees Galasiërs), want ons is nie meer Jode nie. Tog is die teken vir ons kinders dat hulle binne die volk van God gaan grootword die doop (soos dit die besnydenis vir die Israeliete was). Dit gaan dus meer om die vergelykingswaarde as die vervangingswaarde.
Outeur: Prof Jan van der Watt