Here as U hier was!
Let those be thy choicest companions who have made Christ their chief companion. —Thomas Brooks
Here as U hier was!
Soms voel dit vir ons of God nie optree soos ons dink Hy behoort op te tree nie. Ons glo in ‘n liefdevolle God wat vir ons persoonlik omgee – ‘n God wat ons beste belange op sy hart dra. Maar soms kry ons die indruk Hy luister nie – Hy hoor ons nie. Ons glo ons planne en idees is goed en reg, maar God help ons nie. Kom ons kyk na God se tydsberekening. Ons bid en vra dat Hy ons moet help, maar Hy daag nie op nie – Hy is laat!
In Johannes 11 lees ons die verhaal van Jesus en sy drie vriende – Lasarus, Marta en Maria. Hierdie vriende van Jesus woon in Betanië, ‘n dorpie naby aan Jerusalem. Jesus het dikwels by hulle gekuier en daar geëet. En toe word Lasarus siek. Die susters stuur iemand na Jesus om vir Hom te sê hulle broer was siek – ernstig siek, sterwend. Nou lees ons ‘n verbasende ding: Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was.
Jesus het hulle lief, maar Hy besluit om nie onmiddellik te gaan om hulle te help nie. Hoe sou jy voel as jou leraar besluit om twee dae te wag voor hy jou in die hospitaal besoek? Hoe sou jou familie voel as jy sou doodgaan voor die leraar mog daar aankom? Dit is wat met Lasarus en sy familie gebeur het. Hier was dit nie die leraar wat vir hulle kom bid het nie, maar Jesus. Hulle het geweet dat Hy hulle broer kon genees het.
Toe Jesus uiteindelik daar opdaag, konfronteer die susters Hom: Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. In werklikheid wou hulle weet waarom Hy nie gekom het toe Hy die boodskap gekry het nie – hoekom is U laat? Is dit nie vrae wat mense vandag nog algemeen vra nie? Hoekom het Jesus nie dadelik gekom en sy vriend genees nie?
- Toe Jesus die nuus gekry het, sê Hy vir sy dissipels: Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word. Hy weet dat iets gaan gebeur wat God se mag gaan openbaar en wat sy Seun gaan verheerlik.
- Toe Jesus en sy dissipels uiteindelik na Betanië vertek, sê Jesus vir sy dissipels: Lasarus is dood, en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe. Jesus sê vir hulle dat wat nou gaan gebeur hulle ‘n verdere rede sal gee om in Hom te glo.
Vir die dissipels is dit ‘n raaisel. Hulle verstaan glad nie wat Jesus bedoel nie. Dit is moeilik om so te dink as ons in pyn verkeer en sukkel en verlang vir God om op te tree. Baie Christene wat dit goed bedoel sê vir mense wat ernstig siek is: “Moenie bekommerd wees nie. God word in jou situasie verheerlik.” “Alles is reg – God toets net jou geloof. God wil hê dat jy sterker anderkant uitkom.” Jesus het dit gesê, maar ek dink nie ons moet dit doen nie. Jesus het dit gesê, want Hy het geweet wat gaan gebeur – Hy was op pad om Lasarus op te wek.
Ons weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie; ons weet nie wat God gaan doen nie. Mense in sulke omstandighede verlang nie Christelike cliches nie. Ons kan nie waarborg wat God gaan doen of hoe Hy dit gaan doen nie. Jesus kon dit sê, want Hy het geweet hoe God gaan optree. Maar Jesus stel ook vir ons hier ‘n goeie voorbeeld: Hy was by sy vriende in hulle seerkry; Hy het saam met hulle gehuil. Hy gee ook vir hulle hoop waaraan hulle kan vashou: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.
Jesus wek vir Lasarus uit die dood uit op. Dit is inderdaad ‘n bewys van God se heerlikheid en dit gee aanleiding tot geloof by baie mense. Hierdie vrae oor Jesus se afwesigheid is onvermydelike vrae in ons lewens. Dit is deel van ons geloofslewe. Maar, al dink ons Jesus is afwesig, is Hy by ons – Hy huil saam met ons en Hy gee hoop.
Here is the world [God says to us]. Beautiful and terrible things will happen. Don’t be afraid. I am with you. Nothing can ever separate us. It’s for you I created the universe. I love you. (Frederick Buechner)