Het die kultuur ons geloof vasgevang?

God does not, for our convenience, become a direct object of scientific investigation, since God by definition is not finite and thus not subject to the measurements required by empirical sciences. — Thomas Oden

Het die kultuur ons geloof vasgevang?

Nadat Konstantyn, die Romeinse keiser,  die Christelike geloof gewettig het, het Pous Sylvester (pous van 314 – 335) ‘n droom gehad. Hy verstaan sy droom soos volg: “Nou is gif in die kerk gegooi.” Of die pous nou werklik dit gedroom het, is onseker, maar dit weerspieël ‘n werklikheid dat iets giftig besig is om met die kerk te gebeur. Marcus Borg sê dit het gebeur toe die kerk ‘n bondgenoot van die heersende kultuur geword het.

 

 Hierdie beeld van die kerk wat vergiftig is, verwys na “die kulturele gevangeneming van die kerk.” Dit beteken dat die kerk gekoöpteer word deur en die gebruike van die kultuur navolg. Hierdie gebruike gaan meestal oor oorheersing, mag en rykdom.

 Die nakom deur die kerk van die waardes van die dominante kultuur is deel van die geskiedenis tot vandag toe nog. Toe die heersende kultuur slawerny goedgekeur het, het meeste Christene dit aanvaar. Hierdie kulturele gevangenskap vorm steeds Christene. Ons kan nie verhoed dat die kultuur waarin ons grootgeword en gelewe het ons vorm nie, maar ons moet bewus wees op watter maniere ons gevorm is en dat die Christelike geloof se siening van hierdie dinge mag verskil.

 Borg bespreek dan een so ‘n waarde wat ons Christelike geloof gevorm het: die etos en ideologie van individualisme. Ons moenie individualisme as ideologie met die waarde van individue verwar nie. Vir God is almal belangrik. Individue, individuele regte en menseregte is belangrik.

 Individualisme as ideologie is iets heeltemal anders. Dit is die siening dat ons lewens bepaal word deur ons individuele prestasies. Diegene wat goed doen in die lewe, doen goed, want hulle het hulle geleenthede gebruik – die “selfgemaakte mens.”

 Diegene wat sukses behaal verdien die vrugte van dit wat hulle bereik het. Dit gaan egter verder. Moraliteit gaan nou primêr oor persoonlike optrede. Dit staan in teenstelling met sosiale moraliteit: kommer oor die welstand van die gemeenskap. Die blatantste voorbeeld van individualisme is die voorspoedsteologie.

 Die Christelike verstaan van verlossing word ook nou individualisties: dit gaan oor die verlossing van individue. Die Christelike geloof word nou ‘n lewenspolis vir individue wat glo en hulle reg gedra – hulle gaan hemel toe.

 Natuurlik gaan die Christelike geloof oor individue en ons verhouding met God as individue. Maar as dit opreg is, gaan dit ook oor God se droom van ‘n wêreld van geregtigheid en vrede. Dit gaan oor die welstand van almal en nie net oor die welstand van die individu nie.