Het jy geweet? Dokters en medisyne

 

Het jy geweet? Dokters en medisyne – Jan van der Watt

 

Wat het die mense destyds gedoen as hulle siek geword het? Om die vraag te beantwoord, moet ons eers uitvind hoe hulle destyds oor siekte gedink het.

 

Daar was gewone siektes

 

Woestynmense het tipiese siektes. Hulle het dikwels dieetsiektes gekry soos ontwatering, maagkwale en beri-beri. Dit is egter baie moeilik om altyd uit die Bybel af te lei wat se tipe siektes daar ter sprake is. Daarmee saam was blindheid algemeen, vanweë die sand wat so kwaai gewaai het. Dit is ook te wagte dat baie ma’s en kinders met geboorte gesterf het. Vroedvroue was egter van die vroegste tye af algemeen. Minder as die helfte van die kinders het volwasse ouderdom bereik.

 

Hoe het hulle oor siekte gedink?

 

Die mense van destyds het anders oor siekte gedink as ons. Hulle het siekte met sonde verbind. Die siekte het dus nie noodwendig ʼn biomediese rede gehad nie, maar ook ʼn godsdienstige rede. Daarom vra Jesus se dissipels in Johannes 9 vir Hom wie gesondig het dat die blinde man inderdaad blind was. Hulle het so geargumenteer: God is ʼn God van lewe. As jy siek word, verloor jy ʼn stukke van jou ‘lewe’, met ander woorde, iets wat God vir jou gegee het. Dit kan nie God wees wat dit weggeneem het nie – dit moet sonde of die bose wees. Daarom is siekte met die betrokkenheid van die bose verbind wat stukkies lewe van jou wegneem. Die rede waarom die bose so aktief in jou lewe kan wees, is jou sonde.

 

Daar kom egter ʼn tweede belangrike dimensie by. Siekte was ook gesien in terme van jou verhouding met jou gemeenskap. As jy deur jou gemeenskap uitgeskuif word (en hulle is natuurlik bang vir die bose wat die siekte in jou werk), is dit ook as ʼn vorm van siekte gesien. Daarom stuur Jesus dikwels die mense wat Hy gesond maak terug na die priester (Matteus 8:4) of na sy huis (Markus 5:19), want dit was ʼn besliste teken van genesing as jy weer deur jou groep opgeneem word.

 

As ons na die beskrywings in die Bybel kyk, lyk dit of daar verskillende ‘dokters’ was: dit lyk of daar gewone dokters was (ons lees onder andere van dokters in Jeremia 8:21-22 en Kolossense 4:14), nie-professionele genesers en wonderwerkers (1 Korintiërs 12:28). Uit die Joodse geskrifte lyk dit of hierdie ‘dokters’ deur die gemeenskap hoog aangeslaan is. Rituele gekombineer met speserye en ander tipes medisyne was standaard praktyk in die behandeling van ʼn persoon. As Jesus dus spoeg en grond meng en op iemand se oë sit of Jesus raak hom aan (Markus 8:23), is dit ʼn rituele aksie waarin daar van die krag van Jesus op die ander persoon oorgaan. Dit is dus merkwaardig dat Jesus soveel mense gesond maak deur doodgewoon te praat. In Israel het hierdie persone as ‘dokters’ opgetree, maar God is as die werklike Geneser gesien (Eksodus 15:26). As Jesus dus genees, is dit ʼn illustrasie van sy nabyheid aan God. Dit lyk ook of doktersfooie nog altyd ʼn probleem was – die koning van Babilonië, Hammurabi, moes al in 1750 vC doktersfooie vasstel!

 

In die Griekse wêreld is siektes ook aan die bonatuurlike verbind en die god Asklepios, die beskermgod van die ‘dokters’, was veral daarmee gemoeid om mense gesond te maak. ʼn Mens kon selfs ʼn aand in sy tempel gaan slaap met die hoop dat jou siekte genees sal word.

 

Die Griek Hippokrates (middel 5e tot middel 4e eeu vC) het egter op goeie waarneming staatgemaak. Hy het gesê dat ʼn mens goed moet kyk wat gebeur en volgens die ondervinding behandeling moet toepas. Hy het dus mediese behandeling van godsdienstige praktyke probeer skei, maar vir die gewone mense was die priesters en gode nog die belangrikste ‘genesers’.

 

Ons sien egter met die verhaal van die Barmhartige Samaritaan dat hy die man wat deur die rowers verwond is, met wyn en olie behandel (Lukas 10:34). Dit is goeie mediese praktyk om die wond te ontsmet en te behandel. Hulle het ook pynstillers geken, want Jesus word so ’n pynstiller (wyn met kruie gemeng) aan die kruis aangebied. Die Egiptenare kon al tande stop (daar is mummies met goue stopsels) en Herodotus vertel dat daar al 500 vC valstande deur die Fenisiërs gemaak is. Brille is deur Nero (middel eerste eeu nC) ‘ontdek’. Hy het waarskynlik met sy oë gesukkel, wat vir hom waarskynlik ʼn ramp was, want hy was ʼn skrywer (onder andere van gedigte). Hy het eendag deur die bodem van ʼn Egiptiese glas gekyk en daar kon hy sien wat hy lees! Natuurlik is die ‘ontdekking’ opgevolg sodat ʼn groot deel van die mense vandag twee glase voor hulle oë dra.

 

As n mens verder na die Joodse wette kyk, is baie van die wette gemik op persoonlike higiëne. Dit het siektes voorkom. ʼn Mens moet dus aanvaar dat behandeling goeie algemene kennis en nugterheid met godsdienste fasette gekombineer het. Daar is egter geen teken dat daar in die Ou-Testamentiese tyd operasies gedoen is nie. Daar is wel krukke gebruik as jy jou been gebreek het.

 

Jesus word nie as ‘dokter’ geskets nie, hoewel Hy mense gesondmaak. Sy genesings is egter eerder tekens van God se direkte krag wat deur Jesus werk. Op die manier kan mense ook sien dat Hy van God af kom en dus inderdaad die Messias en Seun van God is.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt