Het jy geweet? Gedigte is nie altyd gedigte nie
Het jy geweet? Gedigte is nie altyd gedigte nie – Jan van der Watt
Op skool het ons klomp “rugbyspelers” nooit gedigte ernstig opgeneem nie. Met sarkastiese knipoog onder mekaar en gesnork het ons na gedigte geluister soos “My meisie is ’n nartjie, haar mond soos die van ’n varkie”. Dit staan ver van die harde werklikheid op die rugbyveld. Jy kon eenvoudig nie ernstig wees oor iets soos ’n gedig nie.
In die Nuwe Testament werk dit heeltemal anders. As ’n Griek destyds ’n stuk teks goed gestruktureer het (soos ’n gedig), het dit beteken dat hy iets belangriks wou sê en tyd spandeer het om dit mooi en behoorlik te sê. Dan moes jy mooi kyk en luister.
Lees maar Filippense 2:6-11 of Kolossense 1:15-20 of die liedere in Openbaring byvoorbeeld 4:9-11. In al daardie gevalle kry ons swaar leerstellige dele wat baie kompak en diepsinnig praat. Gedigte in die Nuwe Testament kan en moet ’n mens dus ernstig neem.
Die destydse Grieke was ook daarop ingestel. In hulle teaters is daar dikwels dramas aangebied en die mense het daarheen gestroom. Langs die verhoog was daar altyd ’n plek waar ’n sogenaamde “koor” gestaan het. Elke nou en dan het die koor die toneelstuk onderbreek en ’n soort van ’n gedig (goed gestruktureerde teks) gesing of voorgedra. So het hulle vir die mense vertel waaroor die toneelstuk “eintlik” gaan. Hulle verduidelik dus so aan die gehoor wat die betekenis presies is van alles wat op die verhoog plaasvind.
So werk die gedigte (ook genoem “himnes”) in die Nuwe Testament ook. Dit wil vir ons vertel waaroor alles gaan – lees gerus weer Filippense 2:5-11 of Kolossense 1:15-20.