Het jy geweet? Wat word van “beendere”?
Het jy geweet? Wat word van “beendere”? – Jan van der Watt
Daar was destyds eerbare en oneerbare begrafnisse. ’n Eerbare begrafnis het beteken dat mense rou oor die gestorwene (vir sewe dae intensief en vir die direkte nabye familie tot ’n jaar lank) en dat die gestorwene in ’n familiegraf begrawe moes word.
Grafte was gewoonlik in Jesus se tyd uit rots uitgekap en het soos ’n tipe “grotjie” gelyk. Van die “grafte” is opgegrawe en in van hulle is daar “hope” mensbene iewers in die “grotjie” gekry. Waar kom die bene vandaan?
Die gebruik was dat die lyk in die graf gelê is en na ’n jaar of so, as net die bene oorgebly het, is die bene bymekaar gemaak en op die hoop bene, wat reeds in die graf gelê het, gegooi. So is die persoon se beendere by die beendere van sy “vaders” versamel (dit was mos ’n familiegraf).
In ander gevalle is die beendere deur die familie saamgeneem en in die huis gebêre. Veral toe gedagtes oor God wat in die toekoms weer sal kom, lewendig begin word het, is daar geglo dat hierdie bene weer in die opstandingsliggaam opgeneem gaan word. Daarom moes dit naby die familie bly. Dit was egter nie sonder probleme nie. Ons weet van gevalle waar die vyande van die Jode na ’n oorlogsoorwinning of aanval die beendere sou gevat en weggegooi het (dikwels in ’n rivier of in die see, wat beteken dat die beendere na die “onderwêreld” sou “afsak”). Die implikasie was dan dat die “beendere” nie sou kon “opstaan” as God weer kom nie, want dit is weg, die onderwêreld in. So is die familielid van die res “geskei”. Gelukkig weet ons as Christene beter – ons God is ook in beheer van wat in die onderwêreld gebeur. Hoe anders sou Jesus immers uit die mag van die dood (graf) kon uitstap as God se mag nie ook daar die botoon gevoer het nie?