Het lidmate ‘n rol te speel in bediening?

 

Common people respect more a preacher’s life than his learning. —Richard Bernard

 

Het lidmate ‘n rol te speel in bediening?

As ons praat oor God se sending en die kerk, is daar ‘n onderskeid tussen lidmate (vrywilligers) en leraars? Ons het ongelukkig die siening aanvaar dat as jy geroep is vir die voltydse bediening dan is dit jou taak. As jy nie geroep is vir die voltydse bediening nie, word jy verskoon van werk in die kerk. Daarom glo lidmate hulle taak is om te bid, te betaal en uit die pad te kom. Dit is verkeerd. In ons gemeentes moet ons ‘n atmosfeer van afwagting en verantwoordelikheid skep.

 

Ed Stetzer sê dat ons van hierdie lidmaat/leraar kastesisteem ontslae moet raak; dat ons die priesterskap van alle gelowiges moet terugeis; dat ons ‘n gevoel van eienaarskap moet ontwikkel; dat ons die kultuur van die kerk moet verander. Dit beteken geensins dat die amp van die leraar nie baie belangrik is nie. Die probleem is egter die eksklusiwiteit van leraars in bediening.

 

Maak die kastesisteem dood

Lidmate is die eienaars van bediening. Lidmate moet ‘n nuwe vlak van eienaarskap van bediening ontvang … en hulle moet dit wat aan hulle gegee word aanneem. God se begeerte is ‘n gemeente waar lidmate leef asof hulle sendelinge is. Maar as ons dan die kastesisteem doodgemaak het, hoe bemagtig ons die gelowiges in die banke?

 

Eis weer die priesterskap van gelowiges op

Almal in die liggaam van Christus het ‘n rol te speel in die gemeente; elkeen moet sy geestelike gawes beoefen – en elkeen het ‘n gawe(s). Wat gemeentes nodig het is ‘n kultuur van diens – van gedeelde verantwoordelikheid. Daarom moet elke gemeente ‘n strategie en proses hê om lidmate toe te rus. Dit beteken lidmate moet bemagtig word en in staat gestel word om te dien. As jy die liggaam bemagtig, verander hulle van kliënte na eienaars van die gemeente se visie.

 

Van kliënte na eienaars

‘n Algemene probleem in gemeentes is die lidmate wat blote toeskouers is – hulle is die ontvangers van bediening en nie mede-arbeiders nie; hulle ontvang godsdienstige “goedere en dienste.” Dit vereis harde werk om hierdie nuwe waarde van aktiewe diens in lidmate te vestig. Leraars moet daaroor preek; kleingroepe moet dit bespreek; mense moet opgelei word. As mense hulleself nie meer as toeskouers maar as eienaars van bediening sien, kry ons ‘n nuwe soort gemeente.

 

Verander die kultuur van verwagting in die gemeente

Een van God se grootste hulpbronne om sy sending te voltooi is mense wat tans of niks of baie min doen nie – en hulle is geleer dat dit is wat hulle veronderstel is om te doen. Gemeentes sit vol passiewe toeskoeuers eerder as aktiewe deelnemers in die sending van God. Hierdie kultuur moet van passiwiteit na aktiwiteit verander; die verbruikerskultuur in gemeentes moet gebreek word.

 

Hoe verander ons die kultuur in die gemeente

Daar is twee kernelemente van belang. Die eerste een is kommunikasie. Kommunikeer die gemeente se visie, verwagtings en ‘n plan om die verandering te weeg te bring. Die tweede element is om mense te bemagtig – veral die leiers. ‘n Gebrek aan leiers wat bemagtig is, ondermyn die gesondheid van die gemeente. Hindernisse vir ‘n gemeente om te groei het meestal met leierskap te doen. As jou visie om die gemeente se kultuur te verander van verbruik na bydrae duidelik is en goed gekommunikeer word en wanneer jou leiers bemagtig word om daardie visie te implementeer, sal jy ‘n dramatiese verandering sien.