Het ons ons godsdiens afgewater? ‘n Verhaal van ‘n Moslemvrou
If there be a man before me who says that the wrath of God is too heavy a punishment for his little sin, I ask him, if the sin be little, why does he not give it up? – C. H. Spurgeon
Het ons ons godsdiens afgewater? ‘n Verhaal van ‘n Moslemvrou
Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie. Lees die verhaal van Ayan. In haar geval was daar veel meer op die spel.
Ayan is ‘n Moslem. Haar persoonlike identiteit, eer en sosiale status is nou verbonde aan haar godsdiens – Islam. Sy weet dat as sy haar geloof sou verlaat, sy haar lewe kan verloor – nie noodwendig letterlik nie, maar sy sal ‘n uitgeworpene in haar samelewing wees. As haar familie agterkom dat sy nie meer ‘n Moslem is nie, sal hulle haar keel afsny. Jy begin met haar oor Jesus Christus praat. Met verloop van tyd kom jy agter dat haar hart versag. Sy bewe as sy net dink aan die prys wat sy sal moet betaal as sy ‘n Christen sou word.
Met geloof in haar hart, maar met vrees in haar oë, vra sy: “Hoe word ek ‘n Christen?” Wat sê jy vir haar?
- Aanvaar sekere waarhede; bid ‘n sekere gebed en jy is verlos. Dit is al wat nodig is. OF
- God roep jou om te sterf. Jy moet letterlik sterf van jou lewe, jou gesin, jou vriende, jou toekoms … Die EK moet eers doodgaan voor ek vir Christus kan lewe. Dan word ek deel van ‘n globale familie van alle ouderdomme.
Hulle het vir haar die tweede antwoord gegee. Sy het Jesus Christus as haar Verlosser aangeneem, maar sy moes vlug van haar familie en vriende. Om Jesus Christus te volg het sekere opofferings van haar vereis. Die vraag is of ons bereid is om dit vir mense te sê wat vir ons vra wat hulle moet doen om Christene te word. Of skram ons weg en gee ‘n maklike, oppervlakkige antwoord? Glo ons nog dat om Christus te volg, ‘n prys van ons vra?
Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie probleem spandeer. Volgende keer kyk ons na vier vissermanne en wat hulle moes opoffer.