Historiese bewyse vir Jesus se bestaan

Historiese bewyse vir Jesus se bestaan – Hermie van Zyl

Die vraag is of daar buiten die Nuwe Testament ander bewyse is vir Jesus se bestaan. Daar is inderdaad Romeinse en Joodse geskiedskrywers wat na Jesus verwys. 

Die vraag is of daar, buiten die Nuwe Testament, historiese bewyse is vir Jesus se bestaan. Die volgende kan aanduidings wees:

1.         Literêre getuienis

Tacitus

Die Romeinse geskiedskrywer, Tacitus, verwys in sy Annale (XV.44) (omtrent 115nC) na die brand in Rome tydens keiser Nero se bewind (54-68nC), en dat die Christene beskuldig is vir die stig van hierdie brand. Dan voeg hy by: “Christus, van wie hulle naam kom, was ter dood veroordeel deur die prokurator Pontius Pilatus tydens die regering van Keiser Tiberius.”

So word bevestig:

a. dat daar iemand soos Jesus geleef het;

b. dat Hy op bevel van Pontius Pilatus tussen 26-36nC (Pilatus se regeertyd in Palestina) gesterf het, en

c. dat Jesus “Christus” genoem is deur sy volgelinge in Rome.

 

Suetonius

Ongeveer dieselfde tyd as Tacitus skryf Suetonius, ook ‘n Romeinse geskiedskrywer, in sy Lewe van Klaudius (laasgenoemde was keiser van 41-54nC): “Klaudius het die Jode verban uit Rome. Hulle het ‘n oproer veroorsaak onder die aanhitsing van Chrestus.”

Dit is nie seker of Suetonius na Jesus Christus verwys nie (vanweë die verkeerde spelling van sy naam). Maar volgens die Griekse uitspraak van woorde destyds was daar nie ‘n groot verskil tussen die uitspraak “Christus” en “Chrestus” nie (die “i” en “e” is soms dieselfde uitgespreek). Dit is dus hoogs waarskynlik dat Suetonius verwys na ‘n stryd in Rome tussen die Jode wat in Christus geglo het en dié wat nie in Hom geglo het nie, en dat Suetonius hom misgis het deur te dink die opstand is veroorsaak deur ‘n Romeinse Jood met die naam Chrestus.

 

Plinius die Jongere

Plinius die Jongere, Romeinse goewerneur in Bitinië, Klein-Asië, skryf ‘n brief aan keiser Trajanus in 111nC dat mense in sy regeergebied ” ‘n lied gesing het vir Christus asof vir ‘n god”. Hoewel nie ‘n direkte bewys vir Christus nie, is dit ten minste ‘n aanduiding dat daar in sy regeergebied mense was wat iemand met die naam Christus aanbid het.

 

Josefus

Josefus, ‘n Joodse geskiedskrywer, gee heelwat gegewens oor Jesus. Hy skryf ongeveer 95nC, en maak melding van “Jakobus, die broer van Jesus wat Christus genoem is” (Antiquitates XX.9.1). Hy het ander verwysings ook na Jesus, maar die vermoede is dat hulle oorgewerk is deur latere Christenskrywers. Dit is dus moeilik om te weet wat alles van Josefus se hand self kom.

 

Rabbynse bronne uit die eerste en tweede eeu nC bevat ook heelwat verwysings na Jesus. Hulle is egter, soos te wagte, taamlik vyandige bronne. So weet hulle van die verhale oor Jesus se maagdelike geboorte (maar lei daaruit af dat Hy ‘n buite-egtelike kind was), hulle sê dat Jesus toordery bedryf het (is dus bewus van sy wonderwerke), dat Hy gespot het met die wyses se woorde (dit bevestig Jesus se kritiese houding teenoor die Joodse geestelike leiers), dat hy die volk verlei het (wys dat Jesus ‘n groot aanhang gehad het), en dat Hy tydens die Paasfees tereggestel is. Hoewel polemies, klop hierdie verwysings met die basiese gegewens omtrent Jesus in die Evangelies.

 

2.         Argeologiese gegewens (dit wil sê artefakte: voorwerpe wat opgegrawe is)

Ongelukkig is daar geen argeologiese bewyse vir Jesus se bestaan nie. Daar was nogal vir ‘n kort rukkie so-iets, maar dié is intussen as bedrog uitgewys.

In 2002 het ‘n beendere-kissie (Engels: ossuary) aan die lig gekom met die inskripsie op die deksel: “Jakobus, seun van Josef, broer van Jesus”. Aanvanklik was daar groot opgewondenheid oor hierdie vonds, en ‘n paar geleerdes het verklaar dat dit eg is. Maar in Junie 2003 is dit onteenseglik bewys dat die inskripsie ‘n stukkie moderne bedrog is, dit wil sê, dat die inskripsie eers onlangs aangebring is en laat lyk is asof dit antiek is. Oded Golan, die eienaar van die beendere-kissie, en sy trawante, is van bedrog aangekla in ‘n hof in Israel. Die apparaat en gereedskap waarmee hulle die inskripsie aangebring het, het ook aan die lig gekom. Die gebeure het nogal ‘n hele paar geleerdes met rooi gesigte gelaat.

Uiteindelik is dit net die Nuwe Testament wat ons redelik uitvoerig vertel van Jesus se lewe. Maar van twee dinge kan ons seker wees:

a. Buite-Bybelse gegewens klop met die basiese data in die Nuwe Testament omtrent Jesus; en

b. Daar is geen rede om die basiese historiese gegewens van die Nuwe Testament omtrent Jesus te betwyfel nie. Hoewel die oogmerk van die Nuwe Testament nie is om blote historiese gegewens oor Jesus te gee nie, rus die gegewens in die Evangelies en in die res van die Nuwe Testament op geverifieerde ooggetuie getuienis. 

 

Outeur: Prof Hermie van Zyl