Hoe bedryf ‘n mens argeologie?
Hoe bedryf ‘n mens argeologie? – Daan Pienaar
Vandag let ons op die vereistes wat gestel is vir die vestiging van ‘n nedersetting en op die ontstaan van puinhope (tells). In hierdie puinhope is daar gewoonlik duidelike lae sigbaar. Laastens word gelet op die verskillende dateringsmoontlikhede van artefakte asook op verskillende skrifsoorte in die Ou Midde-Ooste.
Identifiseer ʼn projek: Dit is die eerste stap. Dit kan byvoorbeeld beteken dat ʼn mens die besettingspatrone van die Israeliete wil bestudeer, of die huise wat in ʼn bepaalde tydperk gebou is, of ʼn bepaalde stad en sy funksie in die geskiedenis. Daar kan ook ruïnes wees wat die aandag trek en dus bestudeer kan word. Met ander woorde ʼn projek word bepaal en dan die plek waar dit ondersoek sal word en dan kan die metodes aangewend word wat ter sake is.
Indien dit ʼn opmetings- of ondersoekprojek is, sal die metodes verskil van ʼn stad wat opgegrawe word.
Indien ʼn bepaalde plek geïdentifiseer is kan dit in terme van die projek ondersoek word.
Die vereistes waaraan ʼn plek in die antieke tyd gekies is om ʼn nedersetting te begin, is gewoonlik omdat dit naby ʼn konstante waterbron was (ʼn fontein, soos Jerusalem, of ʼn rivier soos Dan), genoeg ruimte vir die bewerking van die grond of weiding vir vee, ʼn verdedigbare plek (heuwel) en naby aan ʼn kommunikasie- en handelsroete. Latere geslagte en beskawings het dieselfde vereistes gestel en hulle het dus op dieselfde plek gebou met die gevolg dat die plek later soos ʼn groeiende heuwel geword het. Sulke ruïnehewels het ʼn kenmerkende voorkoms naamlik dat dit ʼn plat kruin het en skuinstes rondom die kruin. Hierdie kunsmatige heuwels is bekend as ʼn tell. Die gemiddelde oppervlakte van so ʼn tell is tussen 3 en 7 hektaar. Die grootste tell in Israel is tell van die stad Hasor. Sy maksimum uitbreiding het ±60 hektaar terwyl die minimum ±,25 hektaar beslaan het.
Van hierdie tells is oor ʼn tydperk van tussen 1000 en 2000 jaar lank bewoon wat beteken dat by sommige van hulle soms meer as twintig lae van vernietigde stede te vinde is.
Afgesien van tells is daar ook ander ruïnes wat ondersoek kan word.
Stratigrafie: As ʼn ruïneheuwel opgegrawe word, is daar duidelike lae opmerkbaar. Gewoonlik is daar ʼn verandering in die grondtekstuur, kleur en die inhoud van die puinlae merkbaar. Die argeoloog sal dan hierdie verskillende lae bestudeer en die inhoud, kleur en tekstuur daarvan uitmekaar hou en afsonderlik beskryf. Soms word hierdie lae versteur deur diere, grondverskuiwings en latere bewoning. Die opgeleide argeoloog sal dan baie noukeurig moet werk. Vroeër is die lae een vir een afgeskil. Die probleem daarmee is dat alles vernietig word daardeur en dit is ook ʼn baie duur proses. Tans word sogenaamde toetsslote op strategiese plekke gegrawe en slegs die inhoud daarvan ondersoek. Bevindinge kan dan deur latere argeoloë gekontroleer word. ʼn Klassieke voorbeeld van so ʼn metode is by Megiddo toegepas en latere argeoloë soos Yigael Yadin het toe bittermin reste gehad waarop hy die vroeëre bevindinge kon kontroleer. Hy het wel daarin geslaag om bepaalde korreksies aan te bring.
In 1904 het Ernst Sellin by Taänak opgrawings onderneem. Ongelukkig het hy die stratigrafie verwaarloos vanweë personeel wat nie behoorlik opgelei was nie. Schumacher wat onder Sellin gewerk het, het sy eie projek by Megiddo aangepak en het wel goeie sketse van vondste gemaak maar ook weer het die stratigrafie in die slag gebly. In 1907 het Sellin en Watzinger by Jerigo begin met opgrawings wat tot 1909 onderneem is. Hulle het van die beste metodes gebruik gemaak en het hulle resultate in 1913 gepubliseer. Ongelukkig was hulle kennis van die pottebakkersware nog onvoldoende en het hulle die Middelbronsmure aan die Laatbrons/Ystertydperk toegeskryf en toe tot verkeerde konklusies geraak aangaande die muur wat tydens die Intog sou geval het.
By Samaria is daar deur Reisner en Fisher opgrawings onderneem. Hulle resultate is in 1942 gepubliseer en hulle metodes was besonder akkuraat aangesien hulle alle beskikbare wetenskaplike metodes aangewend het. Die beginsel van stratigrafie wat deur Dörpfeld en Koldewey by Babilon verder ontwikkel is en die pottebakkersdatering wat Reisner onder Petrie studeer het, is toegepas. Daarmee is die Palestynse argeologie op ‘n stewige basis geplaas.
Datering: Een van die ingewikkeldste probleme is om dit wat met uitgrawings gevind word, te dateer. Verskillende hulpmiddels word aangewend soos die studie van die vorms van pottebakkersware, argitektuur, munte en dan die radioaktiewe koolstof 14 metode.
Pottebakkersware is in so ʼn oorvloed by antieke plekke dat dit die meeste inligting oor datering bied. Daaruit kan bv. die chronologie, etnisiteit, buitelandse betrekkinge ens. Afgelei word.
Daar word gewoonlik dmv ʼn intensiewe studie van die keramiekware gemaak om alle aspekte rakende die vervaardiging, petrografie (mikroskopiese ondersoek van deurskynende snitte van die pottebakkerswerk) wat insig in die fisiese samestelling van die klei bied, neutron aktiveringsanalise bied ʼn duidelik afbraak van die chemiese samestelling van kleisoorte, wat dit moontlik maak om die plek van oorsprong vas te stel. Voorts is daar ook die tipologie, morfologie en vergelykende studie van die relatiewe chronologie van die pottebakkersware van elke plek, streek en tydperk.
Dieselfde soort studie word ook gemaak van voorwerpe uit allerlei soorte stowwe bv. metaal, klip, ivoor en hout sowel as plant- en dierereste as omgewingsfaktore. Dit word dan verbind met ʼn historiese ondersoek. Hierdie soort ondersoek het as basis enige relevante opgetekende materiaal.
Sir Flinders Petrie, wat eintlik ʼn Egiptoloog was, is deur die Palestine Exploration Fund gevra om in Palestina met werk te kom help. In Maart 1890 het hy daar aangekom en het toe na die veronderstelde plek, Eglon, gegaan om daar met opgrawings te begin. Toe hy die plek ondersoek het, kon hy net Romeinse pottebakkersware daar sien en hy het toe verskuif na Lakis. Hier het hy ook ontmoedig geraak en het toe verskuif na ‘n heuwel om en by 8 km daarvandaan. By die plek, deur die Arabiere Tell el-Hesi genoem, was daar ʼn magdom van ou potteskerwe. Hier is die Palestynse vertakking van die Bybelse Argeologie gebore.
Petrie is terug na Egipte nadat hy ses weke daar gewerk het en is opgevolg deur ʼn Amerikaner met die naam van F.J. Bliss. Hy is deur Petrie opgelei voordat hy daar begin werk het. Hy het vir drie jaar daar gewerk en geen stuk gekry wat in ʼn museum uitgestal kan word nie. Wat hy wel gekry het, was ʼn kleitablet van 5×6 cm met ‘n Egiptiese inskripsie daarop. Die tablet kon gedateer word in die tyd van Aken-aton in die veertiende eeu v.C. en dit het ook die naam van ʼn bekende prins van Lakis, Zimreda, vermeld. Alles wat onderkant hierdie laag gelê het was ouer as die 14de eeu en alles bo-op uiteraard later. Die belangrikheid van hierdie vroeë opgrawings is dat Petrie en Bliss gedemonstreer het hoe belangrik die studie van pottebakkersware was. Dit is wel brokstukke van gebruiksvoorwerpe maar dit self is onvernietigbaar en dit verteenwoordig veranderende modes en vorms wat uiteindelik gelei het tot die intensiewe studie daarvan vir dateringsdoeleindes.
Palaeografie is die wetenskap wat die ontwikkeling van ‘n bepaalde skrifsoort nagaan. Al hoe meer skrifsoorte word in die Ou Midde-Ooste ontdek soos Ugaritiese spykerskrif, Akkadiese spykerskrif, Egiptiese hiërogliewe, Oud-Hebreeus en die latere kwadraatskrif.
Dateringsmetodes kan nie net op een aspek van die materiële kultuur gebou word nie, maar op verskillende aspekte wat in samehang met mekaar gebruik word.
Registrasie en publikasie van ontdekkings en studieresultate
Dit is belangrik dat die resultate van opgrawings noukeurig bestudeer en opgeteken word. Dit moet ook toeganklik vir ander navorsers gemaak word sodat resultate van verskillende ekspedisies met mekaar vergelyk kan word.
Ongelukkig is heelwat van die publikasies slegs toeganklik vir die ingewydes toeganklik. Gelukkig is daar vakkundiges wat hulle resultate interpreteer en so toeganklik maak vir die belangstellende nie-vakkundige.
Outeur: Prof Daan Pienaar