Hoe Christene praat
The best way of manifesting our affection to our friends is by praying and giving thanks for them. —Matthew Henry
Hoe Christene praat
Michael Kruger het ‘n artikel geskryf oor die taal wat Christene gebruik. Een voorbeeld is: Die Christen se lewe is om deursigtig en kwesbaar te wees. Egtheid is nou die nommer een deug van Christene. (Vroeër was dit waarskynlik gehoorsaamheid.) Ons moet hierdie frase ontleed deur drie vrae te vra:
- Hoekom gebruik mense hierdie frase?
- Wat is reg en behulpsaal in hierdie frase?
- Wat is problematies met hierdie frase?
Hierdie frase word dikwels misverstaan en kan dus misbruik word.
Hoekom gebruik mense hierdie frase: Die Christen se lewe is om deursigtig en kwesbaar te wees?
Mense gebruik hierdie frase waarskynlik weens die gebrek aan deursigtigheid in vroeër geslagte. Christene is moeg van Sondae kerk toe gaan, sit ‘n vroom gesig op en gee voor dat alles reg is. Intussen is hulle lewe besig om ineen te stort. Die klem op egtheid is ‘n reaksie op Christelike valsheid. In hierdie opsig is dit ‘n goeie ding.
Die klem op egtheid het ook ‘n teologiese rasionaal. As mense nou werklik sondaars deur en deur is waarom voorgee dat dit nie waar is nie? Hoekom nie net jou sonde erken nie? As Jesus die oplossing vir ons sondes is, beklemtoon ons nie sy genade en vergifnis as ons eerlik oor ons sonde is nie? Vir hierdie mense beteken om kwesbaar te wees God se genade – ons vertrou op Hom en nie op onsself nie.
Wat is reg en behulpsaam in hierdie frase?
Daar is baie in hierdie frase om aan te beveel. Christus haat valsheid. Om voor te gee dat Christene uiterlik reg is, maar innerlik verberg ons ons sonde, is wat die Fariseërs gedoen het. Jesus het gesê dat hulle witgeverfde grafte wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbeendere en allerhande onsuiwerheid is (Matteus 23:27 – 28). Die Bybel sê dat ons ons sondes eerlik moet bely. As ons ons sonde bely moet ons na Jesus Christus kyk vir genade en vergifnis. So verstaan, is deursigtigheid en kwesbaarheid positief.
Wat is problematies met hierdie frase?
Ongelukkig word hierdie frase soms verkeerd gebruik. Om kwesbaar te wees, kan as plaasvervanger vir belydenis en bekering gebruik word. As eerlikheid en oopheid die einddoel word, kan mense die indruk kry dat om hulle sonde met ander te deel al is wat nodig is. Daar is geen kultuur van berou nie. Dit mag lei tot ‘n meer intieme verhouding met medegelowiges, maar nie noodwendig met God nie. Ons prioritiseer die horisontale oor die vertikale.
Die strewe na kwesbaarheid kan kommunikeer dat daar geen werklike krag in die Christen se lewe is om sonde te beveg nie. Ons minimaliseer hiermee die kagtige werking van die Heilige Gees in elke gelowige. Die doel is nie hernude gehoorsaamheid nie, maar eerder ‘n erkenning van mislukking. Die ware Christene is nou daardie persone wat massiewe mislukkings erken. Diegene wat vorder op die weg van heiligmaking word nou met suspisie bejeën – hulle is wettisiste.
Die frase – die Christelike lewe gaan oor deursigtigheid en kwesbaarheid –kan beide positief en negatief wees. As dit reg verstaan word, is dit wonderlik – dit verafsku valsheid en moedig eerlikheid oor ons sonde aan. Gebruik ons dit verkeerd, is daar die gevaar dat ons ‘n Christelike kultuur skep wat meer oor egtheid as oor berou en belydenis gaan. Dit gaan meer oor om dinge te erken as om dinge te verander. As dit verkeerd gebruik word, gaan die frase meer oor onsself as oor Christus.