Hoe hanteer ek lyding? (1)
Those who give much without sacrifice are reckoned as having given little. —Erwin Lutzer
Hoe hanteer ek lyding? (1)
Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat? Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.
Lyding is universeel. Daar is min waarborge in die lewe, maar almal ondervind pyn – nie of nie, maar wanneer. Dit kan ‘n skielike katastrofe wees of iets meer alledaags soos ‘n verhouding wat skeef geloop het en voortduur as ‘n dowwe pyn. Daar is fisiese en emosionele oorsake vir lyding. Soms is die oorsaak duidelik, soms is dit verborge. Vir sommige mense is pyn so ‘n deel van hulle lewe dat hulle dit nie meer voel nie. Ander voel dit akuut aan en probeer alles in hulle vermoë om dit te verlig.
Die manier waarop mense pyn, verlies en tragedies hanteer, vererger dikwels die probleem. Soms vertel ons van ons moeilike omstandighede en iemand kom onmiddellik na vore met ‘n oplossing – of ‘n geestelike gemeenplaas. Kerke skep dikwels ‘n omgewing waarin oppervlakkige godsdienstige antwoorde gegee word vir pynlike, ingewikkelde vrae in die lewens van mense wat werklik seer het. Hierdie kultuur van verpligte blydskap – Christene is altyd bly – lei dikwels tot oneerlikheid en verdere lyding.
Hoekom ly ons? Hoekom laat God so baie lyding toe? Wat, indien enigiets, kan ons uit ons lyding leer? Wanneer hou dit dan op? Lyding dwing ons om die dieper vrae van die lewe te beantwoord. Filosowe en teoloë stoei reeds jare met die probleem van lyding en die implikasies van lyding. Reeds in die 4de eeu het Augustinus gesê: You have made us for Yourself, and our hearts are restless until they find rest in You. Die mens is gemaak vir iets groter – iets minder pynlik; iets hoër … God.
As ons swaarkry of ly, is ons geneig om op een van twee manier te reageer: ons moraliseer dit (lyding is die gevolg van my ongehoorsaamheid aan God) of ons minimaliseer dit. (Ons gaan later hierdie twee benaderings verder bespreek.) Beide benaderings probeer om lyding in te perk. As ons voel ons moet teen lyding baklei en dit nie aanvaar nie, is ons op die verkeerde pad. God is teenwoordig in ons lyding; ons moet Hom daar raaksien.
Lyding en die boek Job is sinoniem. Volgende keer kyk ons nader na Job – kan ons dalk iets by hom leer?