Hoe hanteer ek lyding? (2)

—Will Durant

 

Hoe hanteer ek lyding? (2)

Lyding is sekerlik een van die ernstigste probleme waarmee ‘n Christen gekonfronteer word. Hoe kan ‘n liefdevolle God lyding toelaat. Ek gaan ‘n hele aantal blogs hieraan wy. In die proses gaan ek onder andere van Tullian Tchividjian (Billy Graham se kleinseun) se boek Glorious Ruin (2012) gebruik maak.

As ons praat oor lyding dink ons onmiddellik aan die boek Job. Dit is die duidelikste en mees uitgebreide nadenke oor die onderwerp in die Bybel.

Job het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy was ryk en vroom en opreg. Satan beweer dat Job God dien, want God beskerm hom en maak alles wat hy doen voorspoedig. As God egter sy besittings sou wegneem, sal hy God in sy gesig vervloek. God gee toestemming dat Satan vir Job kan toets.

Job se besittings word vernietig; sy vee word gesteel of deur weerlig vernietig; ‘n sterk wind kom en waai die huis waarin Job se kinders feesgevier het se mure om – hulle is almal dood. Wat doen Job? Hy skeur sy klere; hy sny sy hare af; hy gaan lê op die grond en sê: Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here (1:21).

Omdat Job nie vir God vervloek het nie, vra Satan toestemming om aan Job se liggaam te raak. God gee toestemming dat Satan dit mag doen – net sy lewe mag jy nie neem nie. Job word met pynlike swere van sy kop tot by sy tone getref. Hy gaan sit op ‘n ashoop en krap hom met ‘n potskerf. Sy vrou kom na hom: Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf (2:9). Toe kom sy drie vriende – Bildat, Elifas en Sofar – daar aan om hom te troos. Vir sewe dae sit hulle by Job en sê nie ‘n woord nie. Toe het Job begin praat en sy geboortedag vervloek (3:1). Daarna volg ‘n lang bespreking van Job se lot.

Ons worstel met die hoe en hoekom van pyn en lyding – eerlike vrae. Maar hulle laat ons dikwels verward – net soos Job verward was toe sy vriende hulle antwoorde vir sy probleem geformuleer het. Inligting is baie selde genoeg om ‘n gewonde hart te genees. Ons sal nooit ten volle verstaan waarom God pyn en lyding toelaat nie; ons sal ook nie altyd die antwoord kry om uit ons dilemma te kom nie. Daar mag selfs nie ‘n silwer randjie – soos ons dit wil hê – wees nie. Ons het nie so seer antwoorde nodig nie, maar God se teenwoordigheid in en deur ons lyding. Waarvan ons seker kan wees, is dat God se groot kommer in ons lyding, is om by ons te wees.

Hoe lyk ‘n God wat teenwoordig in lyding is? Hy is ‘n God wat self lyding ondervind het – sy enigste Seun het immers aan ‘n kruis gesterf. Pyn en lyding mag selfs een van die primêre maniere wees waarop God mense bereik. C.S. Lewis sê: Pain is God’s megaphone to rouse a deaf world.

Volgende keer kyk ons na die werklikheid van lyding.