Hoe het die Nuwe Testament ontstaan?

Hoe het die Nuwe Testament ontstaan? – Kobus Kok

Anton vra:

Baie dankie vir Dr Kobus Kok wat gister in die diens genoem het van hierdie webwerf. Die volgende is iets waaroor ek al lankal wou navraag doen, met betrekking tot die samestelling van veral die Nuwe Testament van die Bybel: Sover ek verstaan, is die NT uit ‘n hele reekse bronne (ontdekkings van geskrifte, ens.) saamgestel, wat oor ‘n redelike lang tyd “ontdek” is. Vir my as Christen is dit belangrik, soos ek ouer word, om die egtheid en seleksie van hierdie bronne vir myself te bevestig. Hoe is die NT saamgestel, en kan ons met 100% sekerheid glo dat alles wat daarin vervat is, werklik is soos God dit aan ons wou oordra? Baie dankie.

Antwoord: Dr Kobus kok antwoord:

Anton Kruger wil weet: “Bestaan die Bybel uit verskillende ‘bronne’ wat oor ʼn lang tyd ‘ontdek’ is? Miskien kan ons die vraag na die aard van die Nuwe Testament as kanon (riglyn) effens anders vra: “Uit watter bronne is die Nuwe Testament saamgestel, en wanneer het dit nou eintlik “Bybel” geword?” Hierdie vraag is baie kompleks, en by die Universiteit bied ons hierdie kwessie oor ʼn hele module aan vir ons teologiese studente en daarvoor gebruik ons ʼn boek van nie minder nie as 300 bladsye. Ek sal poog om in die toegelate lengte van die huidige artikel dit so volledig moontlik te verduidelik en dan ook vir jou die bronne voorstel wat jy kan lees om dit te bestudeer. Die proses van kanonvorming is inderdaad ʼn opwindende en reuse interessante proses.

Ek onthou hoe my leermeester prof Jan van der Watt eendag in die klas dit vir ons verduidelik het deur ʼn teks uit Johannes se evangelie as vertrekpunt te gebruik. Dit bly my tot vandag toe by en ek dink dit behoort jou ook te help. In Johannes 20:30-31, so teen die einde van die evangelie, skryf Johannes waarom hy nou eintlik die evangelie geskryf het: “Jesus het nog baie ander wondertekens voor sy dissipels gedoen wat nie in hierdie boek beskrywe is nie. Hierdie wondertekens waarvan ek in hierdie boek vertel het is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in Sy Naam die lewe kan hê.” In Johannes 21:25, in die heel laaste vers van Johannes wat ons vandag het, staan daar: “Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” Hieruit is dit duidelik dat Johannes, baie meer inligting tot sy beskikking gehad het en eintlik baie meer van Jesus kon vertel. Om hierdie rede sal geleerdes dan postuleer dat daar ʼn groter bron van inligting in die tradisie of oorlewering was wat in sirkulasie was. Johannes het dus ʼn seleksie gemaak van die beskikbare materiaal tot sy beskikking en dit kunstig in ʼn evangelie gegiet. Eintlik kon dit nie anders nie. Dink maar aan jou eie lewe. Hoe vertel mens vir iemand van jou lewe? Mens vertel vir iemand die verhaal van jou lewe wat oor 50 jaar verloop het in ʼn verhaal wat jy in een uur kan vertel. Jy maak dus ʼn seleksie van die belangrikste dinge. Net so het die dissipels en volgelinge van Jesus dit wat hulle onder die leiding van die Heilige Gees gelei was om te vertel. Grafies kan ons dit soos volg voorstel:

nuwetestament

 

Volgens ons navorsing het daar ten minste ses fases plaasgevind in die transmissie van die evangeliese tradisie. Die proses is egter baie kompleks en dit wat hier volg is ʼn reuse vereenvoudiging.

 

Fase 1: Die historiese Jesus

Jesus doen wonders op aarde, transformeer mense se lewens en spreek God geïnspireerde woorde. Op hierdie stadium is die enigste “Bybel” wat mense gehad het die Ou Testament.

 

Fase 2: Die vroegste tradisie

Jesus sterf, staan op uit die dood en gee sy dissipels die sendingopdrag, vgl. Matt 28:19 – Gaan dan na al die nasies toe, maak die mense my dissipels en leer hulle alles wat ek julle beveel (geleer) het. Die dissipels van Jesus onthou wat Jesus gesê en gedoen het en deel hierdie herinneringe en woorde met mekaar en met die wêreld. Ten einde dit nog beter te kan onthou en te kan bewaar het sommige van Jesus se navolgers na sy dood dit wat Jesus gedoen en gesê het op skrif neergepen. Dit was egter nog nie volledige evangelies nie, maar geskifte wat van Jesus se wonders vertel en ander wat van sy wyse God geïnspireerde woorde op skrif gesit het.

 

Fase 3: Die Paulus tradisie en geskrifte

Paulus kom ongeveer 33/34 n.C. tot bekering en begin kort daarna die evangelie verkondig soos Christus dit aan hom geopenbaar het (vgl. Gal 1:11-12), en ook dit wat aan hom oorgelewer (lees 1 Kor 15:3) is uit die vroegste tradisie of oorlewerings van die ooggetuies van Jesus (lees Gal 1:18-24). Paulus het sy sendingreise rondom die jaar 48 n.C. begin en so vroeg as die jaar 50 n.C. sy eerste brief aan die Tessalonisense geskryf en kort daarna sy brief aan die Galasiërs. Daarteenoor is die eerste evangelie, Markus waarskynlik eers na die val van die tempel in 70 n.C. geskryf en Johannes se evangelie in sy finale vorm so laat as 90 n.C.

 

Fase 4: Die samestelling van die Evangelies

Teen die agtergrond van vervolgings deur die Romeinse ryk en die val van die tempel in 70 n.C. skryf die Evangelieskrywers hulle meesterwerke.  Die evangelieskrywers put hulle inligting uit die mondelinge oorgelewerde tradisie en die geskrewe bronne tot hulle beskikking en natuurlik ook dit wat hulle as ooggetuies van die Jesus-gebeure beleef het.

 

Fase 5: Verspreiding van die manuskripte

Van die heel begin af het die apostels die suiwer tradisie beskerm. Van tyd tot tyd het vreemde leerstellings opgespring. Dit het al so vroeg as 48 n.C. gebeur toe sommige streng Joodse Christene van Jerusalem die Heidense Christene in Klein Asië in ou Joodse wette en reëls soos die besnydenis wou indwing. Later teen die einde van die eerste eeu het groepe soos die Gnostisisme opkoms gemaak en allerlei dwaalleringe begin verkondig. Die apostoliese tradisie het egter elke keer gewen en terug gegaan na dit wat Jesus gesê en gedoen het.

 

Fase 6: Die vasstelling van die kanon

Die behoefte het al meer gegroei om ʼn eie “Testament” of Bybel te hê. Van die vroegste tye af was daar verskillende opinies oor wat nou ingesluit moet wees en wat nie. In die vroegste kerk se eredienste het hulle uit die Ou Testament gelees en dan ook gelees uit die geskrifte wat later die Nuwe Testament sou word (vgl. Justinus die Martelaar  110 n.C.-165 n.C.). In die tweede eeu het Marsion probeer om alle Ou Testamentiese invloede uit die Evangelie te haal en hy was van mening dat die Christendom se God anders is as die Ou Testamentiese God. Hierteenoor het die apostoliese tradisie geveg en gesê dat dit nie is wat Jesus geleer het nie. Sommige ander het teen die tweede eeu na Christus hulle eie geskrifte begin skryf en dit boonop toegeskryf as werke wat uit die hand van die apostels sou kom. Hulle wou dan ook hê dat hierdie geskrifte as normatief moes geld vir die Christendom. Hierteen het die wat die apostoliese tradisie voorstaan sterk gereageer. Vir hulle was dit belangrik om net dit wat van die begin af oorgelewer is en teruggaan na Jesus se woorde en dade as gesagvol te erken. Uiteindelik sou die 27 boeke wat ons vandag in die NT het as gesagvol erken word. Daar was egter van die begin af onsekerheid oor boeke soos Hebreërs, Jakobus, 2 Petrus, 2 Johannes, 3 Johannes, Judas en Openbaring. Die meeste boeke was egter van die vroegste tye as gesagvol erken en beskou as ʼn ware verteenwoordiging van die evangelie wat Jesus gebring het.  Sommige boeke wat in die kerk gebruik was, is egter nie in die kanon ingesluit nie, juis omdat die kanon vasstellers nie eenvormigheid oor hulle insluiting gehad het nie (bv. Openbaring van Petrus, Die Herder van Hermas, 1 Klemens, Didage, die Handelinge van Paulus, die Brief van Barnabas). Teen die laaste dekades van die vierde eeu, na die groot (Christelike) Romeinse Keiser Konstantyn op die toneel gekom het, het daar ʼn al groter behoefte ontwikkel om die Christene se Bybel vas te stel en in ʼn kanon te vorm. In die jare 393 en 397 n.C. was daar belangrike sinode sittings gehou – die van Hippo Regius en Kartago. Uiteindelik, met die hele kerk se leiers van die tyd  is daar finaal besluit dat die 27 boeke wat ons vandag as die Nuwe Testament ken die Bybel van die Christene sal wees. Hierdie boeke het almal teruggegaan op die *apostoliese tradisie, hulle is die *oudste boeke wat die naaste teruggaan aan Jesus en dus is hulle beskou as die *mees betroubare geskrifte, hulle is gekoppel aan *ooggetuies wat self Jesus se groot woorde en dade gesien het, en dit *verkondig ‘n suiwer leer wat teruggaan op die boodskap van Jesus, en hulle word *algemeen deur die kerk as gesagvol aanvaar van die vroegste tye af.

 

Konklusie

Myns insiens kan ons dus die Bybel vertrou as betroubare inligting oor Jesus, sy lewe en leweskeppende boodskap. Ons kan egter ook die buite-Bybelse boeke bestudeer, omdat dit vir ons ʼn venster oopmaak na die antieke wêreld van die eerste eeue. Indien mens daardie vensters verstaan, dan maak die Bybel ook op ʼn nuwe manier sin en waardeer mens dit sommer nog meer. Jy kan gerus die boek van professore Jan van der Watt en Francois Tolmie koop: Apokriewe Ou en Nuwe Testament. Cum Uitgewers.

Vir verdere studie oor die onderwerp: Koop A.B. Du Toit & J.H. Roberts. Handleiding by die Nuwe Testament band 1. Kanoniek van die Nuwe Testament. Pp 1-294.

Hierdie boek kan by Protea boekwinkel in Hatfield gekoop word. Sommige dominees behoort ook van hierdie boeke op hulle boekrak te hê

 

Outeur: Dr Kobus Kok