Hoe is Judas dood?
Hoe is Judas dood? – Francois Malan
Japie vra:
My vraag gaan oor Judas waar daar twee verskillende dinge oor sy dood in die Bybel staan. ‘n Vriend van my het my daaroor gevra en ek sal hom wil antwoord met julle verduideliking, want ek het geen antwoord oor hoekom dit so verskil nie. Baie dankie Groete Japie
Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:
Volgens Mt 27:3-10 neem Judas die 30 silwerstukke terug na die leierpriesters en familiehoofde en sê: Ek het gesondig, want ek het onskuldige bloed verraai. Toe hulle nie gehoor wou gee aan sy onskuldverklaring van Jesus nie, gooi hy die geld in die tempel neer en gaan weg en het homself opgehang. Die leiers oordeel dat dit ontoelaatbaar is om die geld in die skatkis te gooi omdat dit bloedgeld is. Hulle koop toe daarmee die grond van die pottebakker as begraafplaas vir vreemdelinge. Matteus sien daarin ‘n vervulling van Jeremia (Jer 18:2-3 praat van afgaan na die pottebakker se huis, Jer 19:4 praat van onskuldige bloed vergiet; 19:10-13 van die potskerwe wat gegooi word op die ashoop Tofet waar kinderoffers gebring is aan die god Molog, as beeld van wat met Jerusalem sal gebeur). Matteus se aanhaling kom eintlik uit Sagaria 11:12-13 waar o.a. staan: ek het die dertig silwerstukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.’
(Matteus het voor Jesus se vonnisoplegging twee getuies van sy onskuld, vgl. Deuteronomium 17:6; 19:15 se vereiste vir die doodstraf: Judas getuig van sy onskuld voor die Joodse Raad, en die vrou van Pilatus van sy regverdigheid voor haar man die Romeinse vonnis van kruisiging uitspreek; Mt 27:19).
Markus en Lukas Evangelies vertel niks van Judas se optrede na sy verandering van gedagte nie (die Griekse woord vir berou en bekering word nie in Mt 27:3 gebruik nie, maar ‘spyt kry’), maar in Lukas se tweede verhaal, Handelinge 1:16-20, verwys Petrus na Ps 41:10 in sy toespraak voor die gelowiges oor Judas se optrede teen Jesus: ‘Selfs my vriend, wat ek vertrou het en wat saam met my eet, het die hakskeen teen my gelig.’
Petrus se weergawe van die gebeure is dan dat Judas ‘mos ‘n stuk grond aangeskaf het uit die geld wat hy as beloning vir sy bose daad ontvang het. Hy het egter vooroor geval, in die middel oopgebars en al sy ingewande het uitgepeul. Dit het onder die inwoners van Jerusalem bekend geword, met die gevolg dat daardie stuk grond in hulle eie taal as Akeldama bekend staan, dit is: ‘Bloedgrond’. Want daar staan in die boek van die Psalms geskryf: Laat sy woonplek verlate word en laat geen inwoner daarin bly nie (Ps 69:2). En: Laat ‘n ander sy amp as opsiener oorneem (Ps 109:8).’ Daarom het hulle toe vir Mattias in Judas se plek gekies en by die elftal gevoeg.
Matteus en Handelinge se weergawe van Judas se dood het twee punte van ooreenkoms: Hy het geweldadig gesterf, en hy is verbind aan ‘bloedgrond’. Maar daar is opmerklike verskille: volgens Matteus het hy selfmoord gepleeg, die priesters het die grond gekoop, die grond was bekend as die pottebakker se grond. Volgens Handelinge het Judas self die grond gekoop, dit is bloedgrond genoem omdat Judas daar geweldadig dood is (moontlik per ongeluk) – nie omdat dit met bloedgeld gekoop is nie. Hier is duidelik twee onafhanklike weergawes van die basiese verhaal oor Judas se dood wat hom aan die stuk grond, nl bloedgrond verbind. Matteus verbind die naam aan die onskuldige bloed van Jesus; Handelinge aan die skuldige bloed van die verraaier. Volgens Matteus is Judas se einde die gevolg van sy oordeel oor homself; volgens Lukas die oordeel van God – in Deuteronomium 27:25 staan: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om ‘n onskuldige dood te maak.
Matteus skryf waarskynlik vir Christene wat in Palestina woon, en Lukas verduidelik in Handelinge vir sy lesers, wat buite Palestina bly, wat gebeur het. Hy verduidelik bv. vir hulle wat nie Aramees ken nie, die Aramese naam Akeldama as ‘bloedgrond’.
Matteus se hele Evangelie wil telkens vir sy lesers wys dat wat met Jesus gebeur het ‘n vervulling is van die Skrif (vgl. bv. Mt 26:54,56) en die skandelike optrede van die owerpriesters. Hierdie verhaal oor Judas se dood, wat net in sy Evangelie voorkom, is ‘n vervulling van Jesus se waarskuwing in Mt 26:24: ‘Die Seun van die Mens gaan wel heen soos daar oor Hom geskryf staan (Jesaja 53:9), maar ellende wag op daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.’ Die owerpriesters het erken hulle geld is bloedgeld, maar het tog vir Judas daarmee omgekoop, en dit gebruik om die pottebakker se grond te koop as ‘n begraafplaas vir vreemdelinge.
Matteus se weergawe is waarskynlik beïnvloed deur die Sagaria-teks: ek het die dertig silwerstukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi (Sag. 11:13).
In die verlede is pogings aangewend om die twee verhale se verskille te verklaar. Vir die koop van die grond deur Judas self of deur die priesters is voorgestel dat die priesters die geld as die wettige besit van Judas beskou het en die grond daarmee in sy naam gekoop het. So sou hulle naam of die tempel nie daaraan verbind wees nie. Dat Judas homself opgehang het volgens Matteus en hy voorgeval het en oopgebars het volgens Handelinge is deur Augustinus al gekombineer: dat Judas se liggaam afgeval het nadat hy homself opgehang het, en toe oopgebars het; dat Matteus meer klem lê op Judas se wroeging wat tot selfmoord gelei het, terwyl Petrus in Handelinge wys na wat ná Judas se dood plaasgevind het, en die inwoners van Jerusalem die plek ‘Bloedgrond’ genoem het.
Die Johannes Evangelie het net ‘n sydelingse opmerking oor Judas se dood in Jesus se priesterlike gebed in Jn 17:12: ‘…Ek het hulle (wat die Vader aan Hom gegee het om in Hom te glo) beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.’
Terwyl Jesus by hulle op aarde was, het Hy die volgelinge, wat die Vader vir Hom gegee het, in die Naam van die Vader = die openbaring van die Vader, bewaar, deur hulle te hou by die wil en woorde van sy Vader wat Hy aan hulle oorgedra het. Van dié groep het slegs Judas ‘verlore gegaan’ (apooleto kan ook aandui dat Judas homself vernietig het). Jesus verwys na Judas as ‘die seun van vernietiging’ (apooleia soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse pêsja‘ kinders van ‘opstand en oortreding’ in Jes.57:4 weergee). 2 Tes.2:3 gebruik die naam ‘Seun van die verderf’ saam met ‘man van wettelossheid’ vir die Antichris. Met ‘seun van verderf’ word Judas se boosheid en sy einde aangedui. Hy het reeds sy hakskeen teen sy Meester opgelig (vgl. 13:18 wat Ps.41:9 aanhaal). Die dood van sy Meester en sy selfvernietiging is reeds aan die kom. Waarom hy die uitsondering onder die dissipels moes wees, word toegelig met die woorde: sodat die Skrif vervul kan word. Dit verwys waarskynlik na Ps.41:9; en Ps.109:4-13 se beskrywing van die verkragting van die Here se reg en eer, wat ‘n spieëlbeeld word van Christus se lyding, en van Judas se einde soos Ps.109:8 in Hand.1:20 aangehaal word). Judas het die duisternis liewer gehad as die Lig (Joh.3: 18-19) en ‘n simbool geword van God se straf (Joh.3:36; vgl. Ps.69:25-27).
Skrywer: Prof Francois Malan