Hoe moet ek die profeteboeke verstaan?

image_pdfimage_print

It is only an infinite God, and an infinite good, that can fill and satisfy the precious and immortal soul of man. –Thomas Brooks

Hoe moet ek die profeteboeke verstaan?

Wat het al hierdie snaakse gebeure waarvan die profete praat nou met ons te doen? Al die afgryslike dele oor oordeel soos in Jeremia en Amos kan ons maar oppervlakkig lees. En wat van die onverstaanbare beelde in Esegiël, Daniël en Sagaria? Daarom spandeer ons maar min tyd aan hierdie boeke.

 

Hoe moet ons hierdie boeke verstaan? Ons moet kyk hoe hulle in die konteks van die verhaal van die Bybel inpas. Die Bybel begin met die verhaal van die wonderlike skepping; die mense wat God na sy eie beeld gemaak het, sondig gereeld teen Hom. God se oplossing vir die probleem van die mens se sonde kry ons in sy verbond met Abraham (Genesis 12 – 17). Baie van dit wat nou volg gaan oor God se vervulling van sy beloftes aan Abraham. In Eksodus lees ons dan hoe God sy volk uit Egipte uitlei. God sluit dan ‘n nuwe verbond met die volk by Sinai – die Mosaïese verbond. Hierdie verbond het basies drie bene: Ek sal julle God wees; julle sal my volk wees; Ek sal in julle midde bly.

Net voor die volk die beloofde land intrek, kry ons Deuteronomium 28 waarin ‘n lys van seëninge en strawwe uitgespel word vir die onderhouding of verbreking van die verbond. Dit sluit in die voorwaardes waaronder Israel in die beloofde land kan bly. Israel belowe herhaaldelik om hierdie verbond na te kom.

In Josua tot aan die einde van 2 Konings is die sentrale vraag: Sal die volk getrou bly aan hulle verbond met God soos dit primêr in Deuteronomium beskryf word? Die antwoord is duidelik: Nee. Onder invloed van die buurnasies verwerp God vir Israel en begin afgode te aanbid. Terselfdertyd draai hulle hulle rug op die etiese riglyne en ons lees van geestelike en morele verval. Hierdie agteruitgang word net onderbreek deur die verhale van Samuel en Dawid.

God se geduld is op. Nou stuur Hy die profete  met ‘n finale pleidooi: Bekeer julle; keer terug na julle godsdiens en die ware aanbidding van God soos ooreengekom is in Deuteronomium 28. Indien die volk dit nie doen nie, sal die vreeslike strawwe beskryf in Deuteronomium 28 in werking tree. Die profete wys vir die volk hoe hulle die ooreenkomste met God verbreek het. Die oordeel is nou onvermydelik. Dit kom in die vorm van twee vreeslike invalle:

  • In 722 vC val Assirië die Noordryk in en vernietig die noordelike koninkryk.
  • In 587/586 vC val die Babiloniërs die Suidryk in en vernietig Jerusalem en die tempel.

Israel verloor so die beloofde land.

Die profete verkondig oordeel, maar reik ook terug na God se verbond met Abraham en Dawid. God se verbond met Abraham het veral drie beloftes: ‘n land, ‘n nageslag en dat hy tot seën  van alle nasies sal wees. God se verbond met Dawid is dat Hy vir hom ‘n koningshuis gaan vestig: Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan (2 Samuel 7:16). Daarom voorspel die profete ‘n hersteltyd – ‘n tyd wanneer God ‘n nuwe en beter verbond met sy mense sal sluit. Dit is baie gou duidelik dat hierdie verbond nie tot Israel beperk sou wees nie, maar alle nasies sou insluit – soos God aan Abraham beloof het.

Die boodskap van die profete sluit basies drie punte in:

  • Julle (Israel en individue) het die verbond wat God met Moses gesluit het, verbreek. Bekeer julleself. Hier is ‘n paar sondes wat die profete oor en oor herhaal: afgodery, sosiale ongeregtigheid en ‘n dwase vertroue op godsdienstige rituele.
  • As julle julle nie bekeer nie, is oordeel onvermydelik.
  • Daar is egter hoop vorentoe – na die oordeel. Daar wag ‘n heerlike toekoms en Israel sal herstel word. Maar al die nasies word nou deel van hierdie nuwe verbond.

Met hierdie agtergrond is dit makliker om die konteks van die profeteboeke te verstaan en sal ons die rykdomme in hierdie boeke kan ontgin.

image_pdfimage_print

You may also like...