Hoe moet gelowiges hulle bestaan in die Hemel voorstel?
HOE MOET GELOWIGES HULLE BESTAAN IN DIE HEMEL VOORSTEL?
Hoe moet gelowiges hulle bestaan in die hemel – die sogenaamde tussentoestand, tussen dood en opstanding – voorstel? Dit sal ‘n tyd wees waar die verlossing van alles wat belemmerend op die verhouding met God en naaste ingewerk het, gevier kan word, waar verdere groei kan plaasvind, en waar mens verder kan meewerk aan die koms van God se koninkryk. Dis geen plek en tyd vir verveling nie.
Hoe moet mens die hemelse bestaanswyse voorstel?
Die hemelse bestaanswyse moet onderskei word van die opstanding. Die hemel is die sogenaamde tussentoestand – tussen ons dood en die einde van die wêreld. Laasgenoemde hou in: die eindoordeel, die opstanding van die dooies, en die nuwe hemel en aarde.
Maar oor hierdie onderskeid stem teoloë nie saam nie. Want die Bybel is nie baie duidelik hieroor nie. Die Bybel praat baie meer oor die transformasie van hierdie sondige bedeling as oor ons bestaan in die hemel. Dit praat oor die opstanding(sliggaam), die koms van God se koninkryk, en die nuwe hemel en aarde. Daarom sê sommige: Ons hemelse bestaan is niks anders nie as die begin van ons bestaan in die nuwe hemel en aarde. Christus dien hier as voorbeeld: Hy het gesterf, en na drie dae opgestaan met ‘n verheerlikte liggaam.
Die teenargument is egter: Nog net Christus het so opgestaan. Hy is die eersteling uit die dood en verteenwoordig ons verheerlikte bestaan tans by die Vader. Na die dood deel gelowiges weliswaar voorlopig hierin, want ons is by Christus. Maar God se koninkryk moet eers finaal kom voordat gelowiges beklee word met verheerlikte liggame.
Indien ons aansluit by laasgenoemde siening, waarin bestaan ons lewe in die hemel dan?
1. Teoloë is dit eens dat menswees, Bybels gesien, ‘n eenheid van gees, siel, en liggaam is. Die dood is dus nie ‘n skeiding van siel en liggaam met die liggaam wat vergaan en die onsterflike siel wat na God terugkeer nie. Nee, die dood is ‘n afbraak van ons totale menswees – gees, siel en liggaam. Ons kan wel sê dat dit wat essensieel ek is, deur God bewaar word in die dood. Paulus sê immers (Filippense 1:23): “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees.” Dis daardie “ek” -die volle mens – wat die hemel saam met Christus bewoon.
2. Ons hemelse bestaanswyse is verder ‘n verloste bestaan. Die hemel is dus veral ‘n verlossingsbegrip. Dikwels, by die dood van iemand wat lank gely het, sê ons: sy/haar dood was ‘n verlossing. Bybels gesien nie ‘n verlossing van die aardse, liggaamlike bestaan, asof dit iets sleg is nie. Daar was inderdaad in die antieke tyd so ‘n standpunt, die gnostiek genoem, wat gesê het dat ons siele gevange gehou word deur ons aardse liggame. Slegs deur kennis kan ons ontkom aan die aardse, met die dood as finale verlossing.
Nee, die hemel is nie ‘n verlossing in hierdie sin nie, maar wel: verlossing van die broosheid, gebrokenheid, lyding en sonde wat die lewe kenmerk. Daarom staan Christus sentraal in die hemel. Daar is geen hemel sonder Christus nie. Die hemelse bestaanswyse het dus twee kante: Enersyds word ons bevry van dit wat altyd gekeer het dat ons voluit mens na God se bedoeling kan wees. Die Hebreërboek praat daarom van die uitstaande Sabbatsrus. Ons rus dan van dit wat ons afgerem en moeg gemaak het. Andersyds: Dan kan die lewe wat God in ons begin het tot volle ontplooiing kom. Dis die lewe in geloof, hoop en liefde, waarvan die liefde die grootste is. Dit waaraan God gebou het tydens ons aardse lewe, breek dan in sy volle glorie deur.
3. Die hemelse bestaan is nie vervelig nie. Baie keer wonder mense: Maar wat gaan ons heeldag doen in die hemel? Teoloë is dit al meer eens dat daar in die hemel steeds ruimte vir verdere arbeid en ontwikkeling sal wees – ‘n verinniging van wat God reeds in ons begin het. Mens kan jou indink dat die moordenaar aan die kruis ‘n paar dinge sal wil regmaak met God en sy naaste. Of dat iemand wat as klein kindjie gesterf het, die wonder van sy of haar kindskap van God verder wil ontdek. Of dat mense wat met allerlei gestremdhede geworstel het, hulle nuutgevonde vryheid sal wil eksploiteer. Ja, daar sal nie een van ons wees wat nie behoefte sal hê aan verdere groei nie. En die hemel is die ideale plek daarvoor. Daar sal ons voluit kan meewerk aan die koms van God se koninkryk. Want dít is die uiteindelike doel van God: die nuwe hemel en aarde. Punt is: die hemel is nie ‘n vervelige plek nie.
Is bogenoemde te spekulatief? Wel, die Bybel nooi ons uit om saam te dink oor waarheen God met ons oppad is, ook oor ons hemelse bestaanswyse. Want dit is ons bestemming, ten minste as ons aan Christus behoort. Solank mens net binne die bane bly wat die Bybel vir ons aanwys, kan mens maar seker bietjie gelowig spekuleer.