Hoekom moes Jesus gedoop word?

Hoekom moes Jesus gedoop word? – Kobus Kok

Hoekom moes Jesus gedoop word, as die doop die groot teken was van die afwassing van sondes? Jesus het mos nie sondes gehad nie. Verder, hoekom ontvang Jesus die Heilige Gees met sy doop as Hy dan self God is? Hoe kan God Homself ontvang? Dit is die interessante vraag van een van ons intekenaars. Hierdie vraag sal beantwoord word deur op die evangelie van Markus te fokus en die doop van Jesus binne die groter konteks en verloop van Markus 1 te interpreteer.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Hoekom moes Jesus gedoop word, as die doop die groot teken was van die afwassing van sondes? Jesus het mos nie sondes gehad nie. Verder, hoekom ontvang Jesus die Heilige Gees met sy doop as Hy dan self God is? Hoe kan God Homself ontvang? Dit is die interessante vraag van een van ons intekenaars. Hierdie vraag sal beantwoord word deur op die evangelie van Markus te fokus en die doop van Jesus binne die groter konteks en verloop van Markus 1 te interpreteer.

Ons lees van die doop van Jesus in al die evangelies (vergelyk Matteus 3:13-17; Lukas 3:21-22; Johannes 1:29-34). Die evangelie van Markus begin so effens anders as die ander, en wel by die optrede van Johannes die Doper en nie soos sommige van die ander evangelies by die geboorte van Jesus nie.

Johannes die Doper het so te sê die geestelike pad vir Jesus se koms voorberei (Markus 1:1-3) en luidkeels verkondig: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Markus 1:4). Johannes se bediening was ʼn profetiese bediening en hy het soos die profete van ouds die volk van God opgeroep om hulle harte weer terug te draai na God. Maar hy het die heeltyd vir mense duidelik gesê dat Iemand binnekort op die toneel gaan kom (vgl. Markus 1:7) – iemand wat ook gaan doop – maar Sy doop gaan bietjie anders wees – Hy gaan mense met die Heilige Gees doop (vgl. Markus 1:8). Johannes se bediening en Johannes se doop was dus ʼn teken wat heengewys het na die Een wat sou kom en die geestelike dimensie wat sou aanbreek die oomblik as Hy op die toneel verskyn.

In die volgende vers (Markus 1:9) lees ons dan hoe Jesus van Nasaret inderdaad op die toneel verskyn en deur Johannes in die Jordaan gedoop word. Jesus word hier gedoop – nie omdat hy sondes het en tot bekering moet kom nie – maar omdat hy sommer van die begin af wys dat hy deel uitmaak van die groter prentjie van God se plan met die wêreld. Daarom sien ons ook as Jesus uit die water uitkom, hoe die hemel oopskeur en die Gees soos ʼn duif na Hom toe neerdaal (Markus 1:10) en daar dadelik ʼn stem uit die hemel kom waarin God die Vader sê: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug ek my.” Dit gebeur – nie omdat hy nie die Gees gehad het nie of omdat Jesus nie geweet het dat God sy Vader is nie, (so asof hy dit toe vir die eerste keer hoor nie) – maar eerder as bewys vir die mense dat hierdie Jesus inderdaad die gesalfde is – die gestuurde en gesanksioneerde Seun van God wat nou met die outoriteit en bemagtiging van God optree. Die doophandeling en oproep van Johannes het dus die ruimte geskep waarbinne mense hulle opnuut tot God kon wend – en die ruimte  voorberei waarop Johannes kon getuig van die ware Een wat aan die kom is. Dit is binne hierdie atmosfeer van verwagting waarin Johannes se oë die heeltyd oop was in die verwagting dat die Een wat God beloof het, binnekort sal kom.

Miskien het Johannes met die doop van Jesus aanvanklik gedink dit is maar net nog ʼn Jood wat in die ry af kom om gedoop te word. Maar nét toe Jesus uit die water uitkom (kyk Markus 1:10), het die hemel oopgeskeur. Johannes het waarskynlik net daar ook besef – hier is dit nou. Met die oopskeur van die hemel en  onder die geklank van God se stem het Johannes besef dat die gestuurde van God hier reg voor hom staan. Net daar het hy besef dat die tyd waarop hy gehoop het aangebreek het. Die uur is uiteindelik hier! Die Gees wat vanuit die hemel soos ʼn duif (let op die vergelyking) neergedaal het was ook die teken dat die verwagte uur aangebreek het – die uur waarop Jesus se publieke aardse bediening sou begin en dat hierdie Jesus nie sommer net enige man is nie – Hy is deur God gestuur. Ek kan persoonlik nie sien hoe dit anders kon gebeur het nie. Dit sou nie werk as Johannes hier in die Jordaan vir mense preek en hulle doop en sê dat die Een op pad is en Jesus aan die ander kant van die wêreld begin werk nie. Dit maak sin dat Jesus dáár, in die midde van die aksie, in die konteks van die doop van honderde mense wat tot bekering kom, sou arriveer en dat Hy deel sou wees van dit wat God daar aan die doen was. Daarom is Jesus ook gedoop, omdat dit binne daardie ruimte was wat God Johannes geroep het om die weg voor te berei vir die Een wat Hy sou stuur. As Jesus daar gedoop word, breek die nuwe dimensie egter deur – en word Jesus se publieke bediening in ‘n nuwe rat geplaas.

Onmiddellik na Jesus se doop en na die stem uit die hemel wat verklaar dat Jesus die gestuurde is, word Jesus deur die Gees die woestyn in geneem vir veertig dae (Markus 1:12-13). Soos verwag kom die grootste vyand van God, die duiwel daar aan en versoek Jesus, maar kom gou agter dat hierdie Jesus groter is as wat hy gedink het. Markus het nie eers nodig om meer as twee verse daaroor te skryf nie. Dit is sommer van die begin af ‘n uitgemaakte saak – hierdie Jesus is baie sterker…

In die volgende vers (Markus 1:14) begin Jesus om die goeie nuus van God te verkondig met die belangrike woorde wat tot vandag toe nog die preekwoorde van Jesus eggo: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:15).

Daarna, in die volgende vers loop Jesus langs die see van Galilea en roep die eerste dissipels – die manne wat uiteindelik op Pinksterdag, na Jesus se dood, opstanding en hemelvaart self die uitstorting van die Gees sou beleef. Hieruit is dit ook duidelik dat die uitstorting van die Gees ná Jesus se dood, opstanding en hemelvaart anders is as die neerdaal van die Gees wat met Jesus se doop plaasgevind het.

In die toekoms sal ek ʼn artikel skryf oor die verskil. Hier is dit miskien genoeg om net daarop te wys en sensitief daarvoor te wees.

 

Outeur: Dr. Kobus Kok