Hoekom preek ons

image_pdfimage_print

 

The church is not a store, where everyone can obtain supply for all his needs at will.” –Abraham Kuyper

 

Hoekom preek ons

Dit word beweer (verkeerdelik) dat Franciskus van Asissi gesê het: “Waar jy ook al gaan, verkondig die evangelie. Indien nodig, gebruik woorde.” Hierdie aanhaling word veral gebruik om te sê dat woorde goedkoop is, maar wat werklik saakmaak, is dade. Ons leef vandag in ‘n tyd waar mense agterdogtig oor woorde is. Baie openbare figure skryf nie hulle eie toesprake nie – bedoel hulle enigsins wat hulle sê? Geen wonder mense is sinies oor woorde nie. Moet ons dan nie maar hierdie raad volg nie: doen goeie dade en gebruik woorde oor Jesus net as dit absoluut noodsaaklik is?

 

Oppas vir hierdie of – of strik. As ek die een doen, moet ek nie die ander een doen nie. Lees ons die Skrif is dit duidelik dat ons beide moet doen. As jy wil weet of die kerk iets moet doen, moet jy dit deur drie lense filtreer: die Skrif, die tradisie van die kerk en die insig van die huidige kultuur. Hierdie drie is nie van gelyke belang nie.

 

Eerstens: Die Skrif is die belangrikste – begin altyd by die Bybel. Kom ons kyk na Romeine 10:14 – 15: Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo, as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” Let op die stapsgewyse logika van Paulus se argument.

 

In die Nuwe Testament word die koms van Jesus eerstens deur ‘n prediker – Johannes die Doper – aangekondig. Sy prediking kan dien as model vir predikers:  sy prediking berei die mense vir Jesus Christus voor. Jesus self was ‘n rondreisende prediker wat dikwels van gelykenisse gebruik gemaak het om met die skares wat na Hom kom luister het, te verbind.

 

Ons lees van predikers wat gepreek het ten spyte van persoonlike risiko’s. Soms is die reaksie positief – dink aan Petrus se preek op pinksterdag in Handelinge 2 waar 3 000 tot geloof kom. Dan was daar preke soos Paulus se preek in Troas waar Eutigus op die vensterbank aan die slaap geraak het en tot op die grond geval het (Handelinge 20).

 

Ons eerste toets was om vas te stel wat die Skrif sê. Ons word duidelik gesê dat daar moet gepreek word. Jesus, die apostels en die vroeë kerk het gepraak.

 

Tweedens: hier kyk ons na die tradisie van die kerk.  God het die kerk oor die afgelope 2000 jaar gelei. As die kerk iets vir ‘n baie lang tyd gedoen het, is dit waarskynlik die manier waarop die Heilige Gees die kerk gelei het. Prediking was nog altyd deel van die geskiedenis van die kerk. Daar was nog altyd prediking gerig op diegene wat Jesus nog nie geken het nie, maar ook vir diegene wat Hom reeds geken het.

 

Derdens: die kultuur. Die kultuur kan nie vir die kerk sê wat hy kan doen nie. Wat die kultuur wel kan doen, is om vir die kerk te sê hoe om dit te doen. Die kultuur verander. Daar was ‘n tyd toe mense ure lank na preke geluister het. Mense luister vandag anders as ‘n geslag gelede. Die een is nie reg en die ander verkeerd nie – die kultuurkonteks het net verander.

 

Moet ons preek in ons kerke? Al drie lense – Skrif, tradisie en kultuur – bevestig dit.

image_pdfimage_print