Hoekom was daar “vuurtonge” op die dissipels se koppe?
Hoekom was daar “vuurtonge” op die dissipels se koppe? – Kobus Kok
Iemand wat na ons weeklikse (Vrydag oggende om 08:00) radioprogram “Verstaan jy wat jy lees?”op radiokansel luister, het die volgende interessante vraag gevra: “Hoekom was daar vuurtonge op die dissipels se koppe toe die Heilige Gees uitgestort is?” Wat was die betekenis van vuur vir die antieke mense?
Die verhaal van die uitstorting van die Heilige Gees word in Handelinge 2:1vv vertel. Kom ons lees eers saam uit die Nuwe Afrikaanse vertaling van 1983:
Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.
5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ‘n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere-ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”
12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”
Interpretasie
1. Agtergrond:
Die dag waarop die uitstorting van die Heilige Gees plaasgevind het, was op Pinksterdag. Laasgenoemde was op daardie stadium in die konteks van die Joodse kalender een van die belangrikste Joodse feeste. Dit het presies 50 dae plaasgevind na die Sabbat van Paasfees (Lev 23:15-16). Dit het in die Ou Testamentiese tyd ook bekend gestaan as die fees van die oes (Ex 23:16); die fees van die weke (Deut 16:10) of die fees van die Eerstelinge van die Oes (Num 28:26). Dit was dan presies hierdie konteks: Die fees van die eerste vrugte, wat die perfekte konteks geskep het vir die “eerste vrugte” van die Nuwe Testament. Geleerdes soos James Dunn van Durham in Engeland merk tereg op dat Pinkster die geboortedag van die kerk is. Dit is waar die nuwe lewe en die nuwe dimensie van die geesvervulde kerk ontstaan het.
Lukas, wat eers Lukas en toe Handelinge geskryf het, het vroeg in Lukas gesê Jesus sal kom om hulle met water en met vuur te doop. En toe gebeur presies dit – die dissipels ontvang die uitstorting van die gees en Lukas beskyf dan in Handelinge hoe dit gebeur het deur middel van ryk betekenisvolle metafore.
In die Griekse teks is dit duidelik, en dit kom ook uit in die meeste vertalings dat daar skielik ʼn geluid in die vertrek was waar die dissipels bymekaar was en dat die geluid geklink het soos ʼn stormwind. Vir die mense van die eerste eeu was die metafoor van die wind baie belangrik. Ons kan sommer terugdink aan 1 Kon 19 waar die aarde beef en die stormwind waai as Elia vir God wil ontmoet op die berg: 11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.” Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte.13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ‘n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”
Destyds is die wind geassosieer met teofanie – met Goddelike verskyning. In die Hebreeuse OT vind ons die woord roag wat met asem of wind vertaal kan word en dit verwys na God se teenwoordigheid. God se gees of wind het oor die water gesweef voor die skepping van die aarde en daarvan lees ons in die eerste hoofstukke van Genesis. God blaas ook lewensasem in die klei-mens Adam (Gen 2:7) wat kort daarna gevul word met splinternuwe lewe. In Esegiël 37 lees ons van die profeet wat deur die Here beveel word om oor die dooie beendere te blaas en dan bring die wind die dooie beendere tot lewe. In die Ou Testament is wind dus by uitstek verbind aan teofanie, of aan die verskyning en teenwoordigheid van God, en gekoppel aan lewe.
Toe die dissipels dus teenwoordig was in die bokamer en die geluid soos ʼn stormwind daar verskyn, het dit vir die mense van daardie tyd die denotatiewe en konnotatiewe betekenis gedra van die teenwoordigheid van God wat daar is.
Dan gebeur ʼn tweede verskynsel wat ook met teofanie of met die teenwoordigheid en verskyning van God gekoppel kan word en dit is dat die Gees op die toneel verskyn in iets wat soos vuurvlamme gelyk het. Dit is dus duidelik dat Lukas hier nie sê dit was vuur nie, maar dat dit soos vuurtonge gelyk het en dit het op elkeen van die dissipels gaan sit. Vuur was ook die OT ʼn baie belangrike simbool wat gekoppel was aan die teenwoordigheid van God. Dink maar aan Moses daar in die woestyn toe hy skape opgepas het en toe God in ʼn brandende doringbos aan hom verskyn het. Verder het vuur vir die mense van die eerste eeu en in die OT die konnotasie gehad van suiwering en van oordeel. Dit was gekoppel aan suiwering omdat hulle metale soos silwer of goud sou suiwer deur die brand daarvan. Dit is gekoppel aan oordeel omdat die vernietiging daarvan en die wegbrand van die ou gras en kaf en die nuwe lewe wat daaruit voortspruit vir hulle bekend was in hulle denkwêreld. In die tempel moes daar ook altyd ʼn vuur brand om die teenwoordigheid van God te versimboliseer. Hy is immer die lig, maar ook die een wat op die groot dag van die Here kan oordeel. Die meeste geleerdes dink egter dat die beeld van die HG as dat dit in die vorm van vuurtonge gekom het, gekoppel kan word aan die teofanie beeld, naamlik dat dit sinspeel op die teenwoordigheid van God. Sommige geleerdes gaan selfs so ver as om dit te koppel aan die vuur van die offeraltaar en meen dat die dissipels daar gesuiwer word om die evangelie met hulle tonge te kan bring en dat dit soos ʼn offer aan God is (dink bv aan Jes 6:6) Ek dink dit is dalk ʼn bietjie te ver gevoer in eis-eksegese – dit beteken die inlees van betekenis in ʼn teks wat meer inlees in die teks as wat die teks self probeer sê. Myns insiens dui al twee beelde, die wind en die vuur op die teenwoordigheid van God en verwys dit in die vroeë kerk na die Gees. In Johannes wat teen ongeveer 90-110 n.C. geskryf is en dus die laaste evangelie was om gelees te word sê Jesus in Johannes 3 vir Nicodemus wat nie mooi verstaan hoe die wedergeboorte plaasvind nie dat die Heilige Gees soos ʼn wind is. Jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie en jy kan hom nie beheer en vasgryp nie. Net so werk dit met die wat weer gebore word. God is die een wat dit bepaal en beheer. God het Sy Gees uitgestort op die dissipels. Hulle het nie die beheer daaroor gehad nie. Net so kan ons nie die Gees beheer nie. Dit is eintlik anders om. Paulus voer dieselfde argument in 1 Kor 12 as hy sy groot hoofstuk oor die gawes van die Gees skryf en sê dat die God die Gawes gee aan wie Hy wil en wanneer hy wil.
Ons sien later in die pastorale briewe hoe daar deur die skrywer van 2 Timoteus 1:6-7 vir Timoteus gesê word dat hy egter die vuur van die Gees moet aanblaas en nie moet blus nie: 6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas. 7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Die Gees kan dus geblus word en dit kan aangevuur word. Ons moet naby genoeg aan God leef sodat die vuur van die Gees aangeblaas kan word en nie gedemp hoef te word nie. Die simbool van die vuur herinner ons daaraan dat ʼn rein lewe ook die konteks skep waarbinne die Gees se werk aangevuur kan word en ʼn onrein lewe die konteks skep waarbinne die Gees se werk geblus word.
Outeur: Dr Kobus Kok