Hoofbedekking van vrouens – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Hoofbedekking

1.1 Wat word bedoel met vroue moet hul hoofde bedek “ter wille van die engele” (1 Kor 11:10)?

1.2 Watter tipe bedekking word bedoel?

1.3 Is die verwysing na enige vrou, of getroude vrouens?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

  1. Hoofbedekking

1.1        Wat word bedoel met vroue moet hul hoofde bedek “ter wille van die engele” (1 Kor 11:10)?

Net eers ‘n bietjie agtergrond om hierdie vers in sy konteks te plaas: Paulus is in 1 Kor 11:2-16 besig om ‘n netelige situasie in die gemeente rakende die erediens te ontlont (11:4-5 – “bid of profeteer” – dui op handelinge in die openbare erediens). Daar was blykbaar vroue wat hulle nuutgevonde vryheid in Christus gebruik het om téén die gebruike van die tyd in sonder hoofbedekking die erediens by te woon (oor die hoofbedekking van vroue, kyk verder onder 1.2). Dit het baie gemeentelede ontstem, want dit het ‘n konnotasie met losbandigheid en prostitute meegebring. Loshangende hare, of hare wat heeltemal afgeskeer was, is veral met opstandigheid, losbandigheid en prostitute in verband gebring (vgl Paulus se argument in 11:5-6). Gemeentevroue wat hieraan meedoen, se goeie reputasie kom dus onder verdenking. Die situasie in die gemeente het gedreig om hande uit te ruk en Paulus probeer nou om orde te skep. Hy doen dit deur veral vier argumente te gebruik: die teologiese orde (11:3-7), die skeppingsorde (11:8-10), die natuurlike orde (11:14-15), en argumente uit die sosiale gebruike van destyds (die hele kwessie van vroue se haredrag, 11:5-6,10). Paulus se basiese argument is een van orde: dat God die hoof is van Christus, Christus die hoof van die man, en die man die hoof van die vrou. Die man en vrou moet daarom, volgens die gebruike van die tyd, ‘n sigbare aanduiding hê van hierdie gesagsverhoudings. En volgens die sosiale gebruike van destyds was ‘n hoofbedekking aanduiding dat die vrou die man se gesag aanvaar en haarself so gewillig laat inskakel by God se orde vir die gemeente.

Terloops, dit is moeilik om te sê of Paulus hier net van die getroude vrou praat. Nêrens word dit eksplisiet gesê nie. Vanuit wat ons weet van destyds, sal dit in die eerste plek hier gaan oor die getroude vrou, hoewel dit tog lyk asof Paulus opmerkings maak oor die posisie van man en vrou in die algemeen, getroud of nie.

In 11:10 maak Paulus dan melding van die dra van die hoofbedekking “ter wille van die engele”. Dit is deel van die skeppingsorde-argument. Engele het in die Joodse teologie van destyds ‘n belangrike bemiddelende rol gespeel. Hulle het dikwels as God se boodskappers opgetree (vgl Luk 2:10), en volgens Paulus het God selfs sy wet deur middel van engele aan die volk Israel gegee (Gal 3:19). Selfs nadat die skepping tot stand gekom het, het die engele/hemelwesens ‘n rol gespeel (Job 38:7). Hulle is getuies van alles wat God doen (1 Kor 4:9; Ef 3:10; 1 Tim 5:21). Hulle is dus ook getuies van die orde wat God in die skepping daargestel het vir man en vrou. Die mees voor die hand liggende verklaring vir “ter wille van die engele” is gevolglik dat Paulus die vrou oproep om nie net ter wille van die man nie, maar ook ter wille van die engele wat alles volgens God se orde wil laat geskied, die hoofbedekking te dra as simbool van haar aanvaarding van God se skeppingsorde. Paulus voer waarskynlik die engele in die argument in om dit vir die vrou makliker te maak om God se orde te gehoorsaam. As sy miskien nog twyfel oor die man se gesag, dan kan sy tog nie twyfel hê oor die engele nie. Hulle is God se diensknegte in die hemel. Ook hulle verwag dit van die vrou; hulle waak immers oor God se gesag, en die vroue wil hulle tog nie teleurstel wees nie.

Net vir die interessantheid: Daar is ook ‘n ander verklaring vir die uitdrukking “ter wille van die engele”, naamlik dat vroue ‘n hoofbedekking moet dra om hulle te beskerm teen die blikke van (bose) engele wat die vroue dan sou wou verlei (vgl Gen 6:2). Daar is egter te veel besware teen hierdie verklaring om dit ernstig te neem (bv, Paulus verwys nooit na bose engele in sy briewe nie). Dié verklaring word dus daar gelaat.

Dít is dan hoe die saak staan met die argument vir destyds. Die vraag is nou: wat moet ons met Paulus se argument maak vir vandag? Het dit nog enige relevansie vir hedendaagse kerklike verhoudings tussen man en vrou, of selfs vir die kleredrag van vroue – in die algemeen en in die kerk? Dit is duidelik dat Paulus se hele argument geklee is in die opvattings van destyds. Hy probeer verhoed dat ‘n potensieel plofbare situasie hande uitruk en die gemeente skade ly. Daarom waarsku hy dat mense nie twisgierig moet wees nie (11:16). Dis asof hy daarmee wil sê: die hoofbedekking-kwessie is na alles nie so belangrik nie; wat belangrik is, is julle gesindheid en houding oor en diensbaarheid in die gemeente volgens die orde wat God daargestel het. Aanvaar dit en konsentreer op die belangrikste dinge. Hy volg dieselfde strategie later ook in 1 Kor 13:13. Wanneer hy die gawes van die Gees behandel in 1 Kor 12 en 14, wat baie emosie gaande gemaak het, handel hy tussenin (1 Kor 13) oor die belangrikste, die liefde. Dis asof hy wil sê: die gawes is belangrik, maar die heel belangrikste is die liefde; daarsonder beteken die gawes eintlik niks.

Verder moet ons ook opmerk dat hoewel Paulus ‘n bepaalde orde vir man en vrou handhaaf in 1 Kor 11, hy in dieselfde asem ook noem dat vrou en man gelyk is voor God: ook die man is nie sonder die vrou nie, en in elk geval is beide onder God se gesag (11:11-12). Paulus werk dus in die rigting van gelykheid van man en vrou voor die aangesig van God. In Gal 3:28 stel hy dit ronduit dat daar nou in Christus nie meer man of vrou is nie, maar dat beide een is in Christus. Dít is vir Paulus die belangrikste. Ja, die vroue moet ter wille van die vrede en hulle diensbaarheid in die gemeente die orde aanvaar soos deur God bepaal, maar die eintlike ding wat Paulus wil sê – revolusionêr vir sy tyd! – is dat God man en vrou gelyk gemaak het voor sy aangesig en dat elkeen vanuit eie aard God van harte moet dien. In Ef 5:21-33, waar Paulus ook oor die verhouding tussen man en vrou handel (hier spesifiek oor die getroudes), sê hy ronduit dat man en vrou aan mekáár onderdanig moet wees – uit eerbied vir Christus (5:21). En hoewel hy later praat oor die man as hoof van die vrou, gaan dit vir hom meer daaroor om die man in te bind onder die gesag van Christus en om hom dit op hart te druk dat hy as hoof van die vrou haar moet versorg en liefhê soos Christus die gemeente liefhet (5:25-30). Dit gaan dus nie daaroor dat die een oor die ander heers nie, maar dat hulle mekaar in liefde dien.

Mens kan dus nie vanuit 1 Kor 11:2-16 op ‘n reglynige manier vandag daarop aandring dat vroue moet aantrek soos in die antieke tyd (hoofbedekking) as aanduiding daarvan dat hulle die man se hoofskap aanvaar nie. Dit was spesifieke opdragte vir ‘n bepaalde tyd en sosiale omstandighede. Intussen het opvattings verander en leef ons in ander tye. Die klem behoort nou meer te val op die vennootskaplike verhouding tussen man en vrou – waar take, verantwoordelikhede en wedersydse respek op ander maniere uitgeleef word as destyds. God se orde kan steeds gerespekteer word – mans hoef nie vroue te wees, en vroue nie mans nie, maar elkeen moet na eie skeppingsaard uitdrukking gee daaraan dat hulle gelyke vennote van mekaar in diens van God is.

 

1.2        Die tipe hoofbedekking wat destyds gegeld het, verskil van volk tot volk en van streek tot streek. Historiese ondersoek toon duidelik dat daar nie ‘n absolute eenvormige drag vir vroue was nie, ook nie wat die hare betref nie. Sommige het slegs die hare opgebind met ‘n ornamentele bandjie of strikkie in die hare (amper soos wat mens vandag sien), ander het sommer die los oorrok hoër opgetrek sodat dit die kop toegemaak het, nog ander het die tipiese loshangende sluier gedra wat die hare en soms ‘n gedeelte van die gesig bedek het. Ons kan dus nie met alle sekerheid sê dat ‘n vrou wat destyds in die openbaar sonder ‘n sluier verskyn het, sonder meer as iemand met losse sedes gesien sou word nie. Wat ons wel kan sê, is dat Joodse vroue, waar hulle ook al gewoon het in die destydse Romeinse Ryk, oor die algemeen meer beskeie geklee gegaan het as die gemiddelde Griekse of Romeinse vrou. Die meeste Joodse vroue het in die openbaar gesluier gegaan, wat die kop en gesig taamlik dig gesluier gelaat het sodat in bepaalde gevalle selfs die gelaatstrekke nie sigbaar was nie. Maar ook hier was daar nie ‘n vaste patroon nie.

Wat Paulus se voorskrifte oor die vrou se drag in 1 Kor 11 betref, moet ons eerder aanvaar dat hy na ‘n tradisie verwys wat in die kerke gevolg is wat uit sy bediening tot stand gekom het (11:16). Dit het spesifiek oor die drag en gedrag van vroue in die erediens gehandel. Hieroor was daar waarskynlik ‘n bepaalde tradisie waar vroue gesluier gegaan het (vgl 11:2) en wat breedweg met die sosiale patrone van destyds verband gehou het. Miskien het Paulus in navolging van strenger Joodse gebruike daarop aangedring dat vroue meer beskeie in hulle kleredrag moet wees en nie die avant-garde modegiere van bevryde Griekse en Romeinse vroue, in die kerk moet invoer nie. In die gemeentes van Christus gaan dit nie oor persoonlike vryheid wat ten alle koste nagejaag moet word nie, maar oor die onderwerping aan God se orde en gesag. En vir Paulus het dit tot uitdrukking gekom in ‘n meer beskeie kleredrag vir vroue, wat die sluier ingesluit het. Die klem moet op aanbidding en diensbaarheid val, nie op persoonlike vryheid en die nuutste modegiere nie.

1.3        Reeds beantwoord onder 1.1 hierbo.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl