Hosanna

image_pdfimage_print

To those whom he is a Father, the church must also be a mother – Calvyn

 

Hosanna

Hossana = red ons Here

En die wat voor loop en die wat volg, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here (Markus 11:9 – OAV en ook in Matteus 21:8 – 11 en Johannes 12:13). Ons kry die woord nie in die Lukas-evangelie nie, waarskynlik omdat Lukas  se Griekse gehoor nie die betekenis van die Hebreeuse woord sou verstaan het nie. In baie kerktradisies maak hosanna deel uit van die lofprysing op Palmsondag (= die Sondag voor Pase waarop palmtakke gewy word ter herinnering aan Jesus se intog in Jerusalem).

 

 

Min kerkgangers verstaan die geskiedkundige en teologiese implikasies van die woord. Ons kry die woord hosanna die eerste keer as ‘n pleidooi vir redding in die Psalms. ‘n Voorbeeld is Psalm 118:25: Red tog, Here, gee tog voorspoed, Here! Voorspoed hier verwys waarskynlik na oorwinning in ‘n oorlog.

 

Kort voor Jesus Christus se koms kry die woord hosanna ‘n duidelike Messiaanse verbintenis – die pleidooi vir redding word die uitdrukking van die gemeenskap se verlange na die beloofde Koning van Israel. Hosanna word nou die kollektiewe uitroep van die Judeërs na die hemel vir redding van die onderdrukkers – soos die Romeinse Ryk. Hierdie Messiaanse konteks skep die toneel vir die evangelieskrywers – hulle skilder Jesus as die gesalfde Messias van God.

 

In die vroeë Christelike kerk word die woord gebruik in aanbidding wat verband hou met die nagmaal – ‘n openbare bevestiging dat Jesus Christus inderdaad die rol van God se Messias vervul het. Hy sou sonder enige twyfel God se mense van hulle sondes verlos. In die Didagé (een van die oudste boeke van die vroeë Christelike kerk geskryf iewers tussen 100 en 150) word hosanna saam met amen en marana ta gebruik as deel van die lofprysing tydens die nagmaal.

 

 

image_pdfimage_print