Hou reg en geregtigheid in stand (Jes 56-66) – Francois Malan
Hierdie elf hoofstukke weerspieël waarskynlik die lewe van die teruggekeerde Israel Hoofstukke 40-55 het hoofsaaklik gehandel oor die terugkeer van die ballinge, oor die uitnodiging en die vreugde om terug te gaan, met ‘n wonderlike verwagting vir die nuwe lewe wat voorlê. Klanke daarvan kom ook voor in hoofstukke 60-62 en 65 wat steeds hoop dat die Here se bedoeling met die terugkeer sal uitwerk in omstandighede wat al swakker lyk.
Toe Israel in 538 v.C. vanuit die hele Persiese ryk begin terugkom in Kanaän (Esra 1:1-4), was daar mense wat tydens die ballingskap agtergebly het en steeds daar gebly het en ook van die hervestigde volke van elders (vgl. 2 Kon 24:24). Daar was verskille tussen die teruggekeerdes en die mense wat daar gebly het, en ook verskille onder die teruggekeerdes oor hoe om aan die nuwe lewe met die Here vorm en orde te gee. Die profete Haggai, Sagaria en deels Jeremia spreek dieselfde omstandighede aan. Dit was waarskynlik tydens en ná die herbou van die tempel 520-515 v.C. en voor en tydens Esra (458v.C.) en Nehemia (445 en 430 v.C.) se aankoms. Hoofstukke 56-59 gee getuienis oor dispute wat ontstaan het oor die omvorming van Judaïsme, of dit ‘n oop gemeenskap moet wees vir alle mense, of ‘n geslote gemeenskap wat slegs vir getroue Jode bedoel is. Hoofstukke 60-62 verheug hulle oor ‘n beter toekoms wat te wagte is. In hoofstukke 63-66, wat ‘n verskeidenheid van gesigpunte het, kom die klem op die visies van hoofstukke 60-62 en die dispute van hoofstuke 56-59 na vore. Ná hoofstuk 65 se verwagting dat die Here Jerusalem nuut gaan skep en ook ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, wys die slothoofstuk dat daar nog steeds baklei word of die nuwe lewe oop moet wees vir almal en of hulle ‘n geslote Joodse gemeente moet wees, amper ’n honderd jaar na hulle begin terugkeer het.
56:1-2: Dié verse, uit ongeveer 10 jaar na die ballingskap, stel die hooftema wat die visoen oor die nuwe pad vir Israel aandui. Teenoor die Here se woord aan die hardhorende onbekeerlike bevolking voor die ballingskap (6:9-11), wys die Here hier wat sy gedagtes vir hulle nuwe lewe is. Twee woordpare word daarvoor gebruik, wat albei in noue verband met mekaar staan:
Die eerste woordpaar is ‘reg en regverdigheid,’ wat dikwels in die Ou Testament en Jesaja gebruik word (bv. Jes 9:6) – ‘die reg (misjpat) bewaar/sorg vir/in stand hou,’ en ‘doen wat reg/regverdig/billik(tsedaka) is. Daardeur word sterkes en swakkes, ryk en arm aan mekaar verbind en word die pad vir die Here se verbondsgemeenskap uitgestippel. Dit verseker sekuriteit, waardigheid en welsyn vir elke lid van God se volk. Dit is juis wat ontbreek het voor die ballingskap (5:7).
Die tweede woordpaar is ‘my verlossing/hulp’ (jesju ‘ah) en ‘my geregtigheid’ (tsedaka, 1983: redding). Wat in die eerste woordpaar van sy volk teenoor mekaar vereis word, is reeds deur God aan hulle uit genade geskenk. Sy verlossing het Hy reeds deur die Persiese konings gegee, en sy geregtigheid verwys na die volk se regte verhouding tot die Here. Deur die ballingskap het Hy hulle reeds gelouter van hulle onreg teenoor mekaar, van hulle afgodediens en onsedelike lewe (1:22,25; 48:10; Jer 11:4). Hy het sy verhouding met hulle herstel en duidelik gesê: Hier is Ek! (40:9; 52:6), die persoonlik aktief teenwoordige by julle, die ‘Ek is’ van Eks 3:13-15.
Die gevolg van ‘n lewe van reg en geregtigheid in die samelewing, wat voortspruit uit die Here se verlossing en geregtigheid, is lewensgeluk/blydskap, die Here se seën op jou lewe (vgl. Ps 1:1; Mat 5:3-12). Wat mense onderskei van mekaar is of jy reg en geregtigheid doen of nie. Jou volk, geslag, status, ekonomiese krag of politieke status is nie vir die Here belangrik nie (vgl. Gal. 3:28). Letterlik begin vers 2 met: ‘Gelukkig is die mens (’enosj) wat dit (reg en gergtigheid) doen en die seun van die mens (ben ’adam afgelei van die rooi grond ’adamah se stof waaruit die mens gevorm is en waarheen hy terugkeer Gen 2:7; 3:19), wat daaraan (reg en geregtigheid) vashou.’ Die twee woorde vir ‘mens’ is soortname en sluit alle mense in.
‘Wat die sabbat hou en nie ontheilig nie, en sy hand weerhou om enige kwaad te doen.’ Die onderhouding van die sabbat het die deel van Israel, wat uit die ballingskap teruggekeer het, onderskei van die ander Jode en volke, as mense wat ernstig volgens die tien gebooie van die Here lewe. Tydens die ballingskap het Esegiël juis daarop gewys dat hulle nie die sabbatte gehou het nie en daarom in die ballingskap beland het (Eseg 20:12vv; 22:8,26). Negatief word gestel dat geluk voortspruit uit die vermyding van die bose, van alles wat die Here verbied (vgl. Job 28:28; Ps 1:1; Spr 3:7).
Die begeerde visie van die twee verse is ‘n gemeenskap wat toegewy sal wees aan die wet (torah lering) van die Here. Toe Esra kom, het hy probeer om die wet van die Here streng toe te pas (vgl. Esra 9:14; 10:11).
Skrywer: Prof Francois Malan