Innige verhouding met Jesus – Hermie van Zyl

Charlotte vra:

Ek het baie raad en leiding nodig. Ek voel my verhouding met Jesus ly skade en ek weet nie hoe moet ek dit regkry nie. Wat ek verlang, is ’n verhouding met Jesus waar ek Hom kan hoor en ervaar. Ek hoor Hom nie; ek weet dis my fout, my sonde. Wat beteken dit as ek nie antwoord kry of nie lewend voel nie. Ek vra en ontvang nie, als gaan maar net so aan. Ek soek Hom en ek wil Hom ervaar en hoor.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:                                                                                                                                                                                                                                                         

Prominent in ons korrespondent se vraag is die frase: “hoor en ervaar”. Twee keer word dit genoem. Dit word ook gekwalifiseer met uitdrukkings soos: “Ek vra en ontvang nie”; “ek kry nie antwoord nie, ek voel nie lewend nie”. Dit is duidelik dat sy ’n persoonlike en innige verhouding met Jesus begeer, maar op die oomblik voel dat daar geen “konneksie” is nie.

Daar kan verskillende redes vir ons korrespondent se gevoel van “diskonneksie” met Jesus wees. Die een noem sy self, naamlik sonde. Sonde het ’n manier om ons verwyderd van God te laat voel. Ons weet daar is dinge in ons lewe wat verkeerd is, maar ons is nie bereid om daarmee te breek nie. Die gevolg is ’n gevoel van vervreemding. Dis met enige aardse verhouding ook so. Wanneer ’n man sy vrou verwaarloos of haar sleg behandel (of die vrou haar man), dan is daar ’n gevoel van verwydering. Dis asof daar ’n muur tussen hulle opgerig is. Eers wanneer man en vrou vir mekaar jammer sê en mekaar van harte vergewe, kom daar weer vrede en beweeg hulle nader na mekaar toe, kan hulle weer vreugde vind in mekaar se nabyheid en ontstaan daar weer ’n innige verhouding. In Ps 32 beskryf Dawid die verwydering tussen hom en God vanweë sy sonde. Hy sê sy liggaam het uitgeteer en sy krag het opgedroog toe hy sy sonde probeer bedek het. Eers toe hy sy sonde bely en God se vergifnis aanvaar het, het daar kalmte en rustigheid gekom. Ook in Ps 51 bekla Dawid sy gevoel van verwydering as gevolg van sy sonde. Hy verlang na ’n rein hart en vernuwing van gees omdat sy sonde hom voortdurend aankla. En hy weet dat slegs ’n hart vol ootmoed en berou voor God vir hom rus sal bring. As daar dus iets spesifiek is waarvan ons vraagsteller weet wat verwydering gebring het tussen haar en God, moet sy dit bely, God se vergifnis aanvaar en daaruit leef. Dit sal weer die gevoel van innigheid terugbring. (Tussen hakies: Onthou dat sonde óns van God vervreem, nie Hóm van ons nie. Hy is altyd naby, selfs as ons gesondig het; gereed om die verhouding te herstel as ons Hom in berou en ootmoed nader. Dink aan die gelykenis van die verlore seun (Luk 15): Toe die seun uiteindelik besluit om terug te keer na sy vaderhuis, vind hy dat sy vader hom van ver af sien aankom. Die vader het elke dag vir hom gewag, sy oë seer gekyk na die horison. So is God ook: Hy wag vir ons; Hy is naby aan dié wat Hom nader met ’n berouvolle hart [vgl Ps 34:19; 145:18].)

Maar dikwels is daar nie ’n spesifieke sonde wat verwydering tussen jou en God gebring het nie. En dan moet mens nie gaan grawe in jou verlede na sondes om te bely nie. Dan word dit ’n siek situasie. Ons is in elk geval gebroke mense, vol tekortkominge en sonde. Ons kan nooit ’n volmaakte verhouding met God hê nie. Tog kan ons elke dag uit God se genade, liefde en barmhartigheid leef en vreugde daarin vind. En dit bring my by die volgende saak wat ’n gevoel van verwydering kan veroorsaak. Ons moenie te hoë eise aan onsself stel oor hoe die verhouding met God moet wees nie, anders gaan ons blywend voel dat ons tekort skiet. Paulus verwoord iets van die onvolkomenheid wat eie is aan die verhouding met God in 1 Kor 13. Hy sê dat ons nou net gedeeltelik ken, dat ons soos in ’n dowwe spieël ’n raaiselagtige beeld sien. Ons verstaan nie alles nie, nie eens onsself nie, wat nog te sê vir God. Sy gedagtes en weë is nie ons s’n nie. En vanweë hierdie onvolkomenheid raak ons dikwels moedeloos; ons voel af, alleen en verwaarloos, en raak gefrustreerd dat dinge nie uitwerk soos dit moet nie. En dan projekteer ons dit op God, dat Hy ons nie raaksien nie, nie sien hoe swaar ons kry nie. Dan begin twyfel oor God se goedheid, trou, sorg en nabyheid ons bekruip. Dis menslik. Die Psalmdigter het al in Ps 22 sy gevoel van alleenheid uitgedruk: “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? … ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.” Dis woorde wat Jesus ook geuiter het toe Hy aan die kruis van God verlate gevoel het. Die lewe met sy druk, ons omstandighede, ons persoonlike samestelling, kan ons maklik van balans ruk en ’n gevoel van Godverlatenheid by ons laat ontstaan. Maar dis dan dat ons moet besef: God is nie werklik weg nie, dis net ons wat so voel. Hy verlaat ons nooit nie. En ons moet ook onthou: solank ons op aarde is, leef ons nie in aanskoue nie maar in geloof. Ons sien nie altyd hoe God met ons besig is nie, Hy is dikwels verskuil teenwoordig in ons midde. Dis dan dat geloof inskop. Geloof laat ons dinge sien wat ons gewone oë nie sien nie – hoe God aan die werk is. Heb 11:1 sê dat geloof ons die onsienlike laat sien, ons oortuig van die dinge waarop ons hoop. Om God eenvoudig op sy woord te neem en uit sy beloftes van nabyheid te leef, laat die gevoel van ’n innige verhouding met God ’n werklikheid word. Gevoel volg geloof, nie andersom nie. Geloof laat sien, nie andersom nie. Ons wil dikwels wag op sigbare tekens van God se nabyheid, terwyl ons eintlik maar net moet glo dat Hy daar is, daaruit lewe, en dan ervaar hoe Hy deur sy Gees ons tegemoet tree en innerlik versterk. Die “hoor en ervaar” waarna ons vraagsteller so verlang, is ten diepste ’n produk van ons geloofsomgang met God. Hoe meer ons in die geloof wandel – dat God dáár is en dat Hy vir mý daar is – hoe meer ontstaan daar ook die gevoel dat Hy naby is en dat Hy my hoor.

Laastens, wat behels hierdie wandel in die geloof? Dit is hier waar die praktyk – die dissipline – van ’n gesonde geloofslewe belangrik word. As ons nie moeite doen om die aangesig van God as ’n lewenswyse op te soek nie, sal God grotendeels as afwesig en veraf beleef word. Dit help nie jy verlang na ’n innige verhouding met Hom maar jy plaas jouself nie daar waar Hy jou kan ontmoet nie. En die Bybel is nou maar eenmaal die manier waarop Hy ons ontmoet; dit is sy gedagtes, sy Woord. Daar is dus geen plaasvervanger vir daaglikse Skrifstudie en gebed nie. Hoe meer ek my in sy Woord verdiep, dit bepeins, daaroor bid en dit toepas in my lewe, hoe meer sal God vir my werklik word, hoe meer sal ek Hom ervaar. Die kerk het sedert die Middeleeue reeds hierdie omgang met God se Woord beskryf as die lectio Divina (Goddelike lees). En dit word vandag weer nuut ontdek en toegepas. Dit is om die Bybel met die verwagting te lees dat daar ’n ontmoeting met die lewende God sal wees. Die lectio Divina bestaan uit vier dimensies wat onderskei maar nie geskei kan word nie; hulle vorm ’n verweefde eenheid: lectio (lees), meditatio (nadenke), oratio (bid) en contemplatio (toeëiening). Prakties behels dit die volgende. Lectio: Lees ’n bepaalde gedeelte van die Bybel (bv Joh 15:1-8) woord vir woord en stadig deur. Laat dit by jou insink. Meditatio: Dink daaroor; probeer agterkom hoe steek die gedeelte in mekaar; wat is die gang van die argument; wat is die punt wat gemaak word. Dit help as mens ’n hulpmiddel kan gebruik om die gedeelte vir jou ’n bietjie oop te maak. Daar is baie sulke hulpmiddels in die handel beskikbaar wat Bybelgedeeltes verduidelik. Oratio: Bid tot God oor die gedeelte; praat met Hom daaroor; laat Hom toe om vir jou uit te wys wat vir jou lewe belangrik is. Contemplatio: Maak die gedeelte jou eie deur die boodskap daarvan vir jou lewe te aanvaar en ook in die daaglikse praktyk uit te leef. Om elke dag so met God om te gaan, word sy gedagtes jou gedagtes, word sy wil jou wil, word Hy algaande ’n groter werklikheid, ja – hoor en voel jy sy teenwoordigheid. Dit word ’n lewenstyl. En jy sal verbaas wees waar jy oor ’n jaar in jou verhouding met God staan.

Ek vertrou dat bostaande gedagtes sal help om ons vraagsteller op die pad na ’n innige verhouding met God, deur Jesus, te lei.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl