Is jou kerk ‘n koninkrykskolonie of ‘n buiteklub

Today, and it breaks my heart to say it, finding a homeless person who has died of cold, is not news. Today, the news is scandals, that is news, but the many children who don’t have food – that’s not news. This is grave. We can’t rest easy while things are this way.” Pous Fransiskus

Is jou kerk ‘n koninkrykskolonie of ‘n buiteklub

Een van die oudste klooster in die wêreld is Sint Katharina. Dit is deur keiser Justinianus gebou om die monnike aan die voet van Sinai-berg te beskerm. Die mure is van graniet en tussen 8 en 35 meter hoog. Tot in die laaste eeu was daar net een ingang – ‘n klein deur ongeveer nege meter bokant die grond. Jy het toegang verkry met ‘n stelsel van katrolle en toue. Die klooster bevat baie antieke ikone en skatte, maar was tot betreklik onlangs ontoeganklik vir buitestanders.

 

Trevin Wax vra ‘n baie interessante vraag: Word ons kerke nie mettertyd soos hierdie klooster nie – ‘n versterkte organisasie sonder deure nie? ‘n Organisasie wat fokus op sy eie oorlewing en nie op sy spesifieke roeping nie. Die neiging is om te vergader met mense net soos ons. Ons sit spieëls om die evangelie – alles weerkaats na binne – in plaas daarvan dat ons groot vensters maak.

Die kerk is tog veronderstel om ‘n kolonie van die hemelse koninkryk te wees. Maar so dikwels verander ons die koninkrykskolonie in ‘n buiteklub. Ons fokus is die gemak en behoud van ons lidmate. Die groot opdrag om na die gemeenskap uit te reik, het in die proses verlore geraak.

Mense sê dat ‘n gemeente of ‘n oorlogskip of ‘n plesierboot is. Albei seil, maar hulle doel verskil radikaal. Die oorlogskip is daar vir ander – dit penetreer die vyand se gebied en veg daar. Die plesierboot is daar vir die gemak van sy passasiers. Luukse en gemak is die kernwaardes.

Het ons die gesindheid van ‘n plesierboot  word die kruis en opstanding van Christus gereduseer tot ‘n boodskap van persoonlike gemak. Ons eredienste vermaak ons. In plaas daarvan dat ons byeenkomste as basis dien vanwaar individuele Christene oor die wêreld versprei om die evangelie uit te dra,  bou ons mure om ons kerke om ons te beskerm teen die bose wêreld daar buite.

Die belangrikste waarde van gelowiges met ‘n plesierboot gesindheid is selfbehoud – hoe kan ons onsself beskerm teen mense wat van ons verskil. Persoonlike en kulturele voorkeure word absolute beginsels. As almal net meer soos ons sal wees, sou die wêreld ‘n beter plek gewees het!

Met ‘n oorlogsboot mentaliteit gaan dit nie oor selfbehoud nie, maar oor selfopoffering. Die geloofsgemeenskap bestaan nie vir homself nie, maar vir ander.