IS ONS GEDULDIG GENOEG?

The religion which man craves after is one of sight and sense, and not of faith – J. C. Ryle

 

Is ons geduldig genoeg?

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Above all, trust in the slow work of God, our loving vine-dresser – Pierre Teilhard de Chardin

Spoed het ons samelewing onomkeerbaar hervorm – vinnige karre/kos/rekenaars … In 1989 word die Slow Food Manifesto vrygestel. Dit was ‘n reaksie teen die vinnige lewe en die homogeniserende effek van globalisering – die verlies aan natuurlike en kulturele diversiteit.

Ons leef in ‘n kultuur van spoed. Dit geld nie net vir die spoed van verandering nie. Vinnig beteken ek is besig, aggressief, analities, bekommerd, oppervlakkig, ongeduldig, aktief, ens. Stadig beteken ek is kalm, versigtig, stil, intuïtief – dit gaan oor die maak van ware en betekenisvolle verbindings met mense, kultuur, werk, kos en enigiets.

 

Wat het dit nou met die kerk te doen?  Die kerk is net so vatbaar vir die aantrekkingskrag van die vinnige lewe soos die res van die kultuur. Die sosioloog, George Ritzer, noem dit “McDonaldization.” Hierdie proses het vier dimensies: doeltreffendheid, voorspelbaarheid, kwantifiseerbare resultate en beheer. Hierdie dimensies kry ons vandag in feitlik elke aspek van ons kultuur – insluitend die kerk in die Weste. Baie gemeentes, veral dié gedryf deur gemeentegroei modelle,  is baie naby om die Christelike geloof as ‘n verbruikersartikel te verpak, te bemark en dit te verkoop. Diep, holistiese dissipelskap, wat elke aspek van ons lewens raak, word nie meer gekweek nie. Die geloofslewe word beperk tot die erediens op ‘n Sondagoggend (veilig en voorspelbaar) en ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus wat ek uit die privaatheid van my huis kan bestuur. Om Jesus te volg is nou verskraal tot ‘n geprivatiseerde geloof en nie meer ‘n lewenslange vakleerlingskap uitgevoer in die geloofsgemeenskap nie.

Die Christelike geloof in die Weste het kortpaaie aanvaar. As ons dit uit die oogpunt van doeltreffendheid – die kortste pad van ongered na gered, van ongelowig na gelowig – bekyk, kry ons indrukwekkende korttermyn resultate. Die kerk is besig. Maar watter langtermyn gevolge het hierdie benadering; hoe volhoubaar gaan hulle wees? Teiken bemarking, bekende (celebrity) leraars, verpakte aanbiddingsgeleenthede, gemeentegroeiformules toegepas sonder inagneming van die plaaslike konteks en programme en programme en programme wat almal wonderlike resultate in enkele maklike stappe belowe, is aan die orde van die dag.

Wat het ons alles prysgegee in ons najaag van die kultus van spoed. Ons moet onsself afvra: Wat beteken dit om ‘n geloofsgemeenskap te wees op ‘n sekere plek en op ‘n sekere tyd? Die Stadige Kerk is ‘n oproep om weer van ons interafhanklikheid bewus te word – ons en die skepping en ons en ander mense. Ons moet weer aandag aan die wêreld om ons gee en dit wat God besig is om daar te doen – ook in ons eie woonbuurt.

Die beginsels van hierdie beweging is:

  • Etiek – verbind tot kwaliteit en nie net aan kwantiteit en doeltreffendheid nie. Die uitdaging is om die beliggaming van Jesus Christus in ‘n spesifieke plek te wees.
  • Ekologie – ons oproep om Jesus Christus te volg moet binne God se sending van die versoening van alle dinge verstaan word. Ons moenie net aan wat ons doen aandag gee nie, maar ook aan hoe ons dit doen.
  • Ekonomie – dit verwys na God se oorvloedige voorsiening vir God se versoeningswerk.

Alles goed en wel, maar is daar ‘n teologiese visie vir die stadige kerk? Daarna kyk ons volgende keer.