Jesaja – Die gesag van die Here agter Jesaja se boodskap (6:1-8) – Francois Malan
6:1-4 Teenoor die sterflikheid van die menslike koning Ussia word die ewige Koning geskets, die Here, die Eienaar van die ganse skepping, wat op ‘n baie hoë troon sit, verhewe bo sy skepping, en slegs die onderste deel van sy kleed vul die tempel in Jerusalem (die Hebreeuse woord vir tempel kan ook verwys na die paleis of die troonsaal). Die hele aarde is vol van die magtige teenwoordigheid van die HERE van die leërskare (Jahweh die ‘Ek is’, wat oral aktief teenwoordig is en opdrag gee aan die leërs van die aarde; Die tempel het vol rook geword (v4) – ontoeganklik vir (sondige) mense (vgl. Eks 19:18,21-22; 40:34-35). Jesaja word egter tot die troonsaal van die regeerder oor die skepping toegelaat. Hy sien die sesvlerkige serafkoor voor die Here, met vreugde geheel aan Hom toegewy, met bedekte gesig en voete, en vleuels om sy opdragte uit te voer. Hulle besing sy heilige toewyding aan sy skepping met hulle skynbaar onafgebroke pryslied. Hulle sing van die heiligheid, heerlikheid, glorie en onuitspreeklike majesteit van die hemelse heerser wie se heerskappy oor die hele aarde strek (In Openb 4:8 herhaal hulle nog steeds dag en nag die drievoudige heiligheid van God). Hulle lied begin met die heiligheid van God en eindig met die glorie van God wat albei die oorweldigende onberekenbare andersheid van God erken, waaraan alles en almal hulle moet oorgee. Johannes 12:41 verwys na die heerlikheid van Jesus, wat Jesaja hier gesien het en oor Hom gepraat het, en die rede waarom die mense nie tot geloof in Jesus kon kom nie (Jn 12:37-40).
6:5 In die teenwoordigheid van God se oorweldigende heiligheid en grootsheid sien die profeet homself, sy sondigheid en nietigheid om in die heilige teenwoordigheid te wees. Hy sê: ‘O wee my (die klaagsang by ‘n dooie), want ek is verlore (letterlik: ek is stil/stom – hy wil saam prys, maar durf nie, want…), want ek is ‘n man met onrein lippe en ek woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is.’ Hy word ‘n nietigheid in sy eie oë; ‘en my oë het die Koning, die Here van die leërskare gesien’ – volgens Eks 33:20,23 beteken dit die dood, vgl. wat van die Here gesien word in 6:1 en in Eks 24:10. In 1:4 het Jesaja reeds die wee oor die volk uitgespreek. In die teenwoordigheid van die heilige God staan hy ook veroordeeld as deel van die veroordeelde gemeenskap.
6:6-7 Die seraf reinig Jesaja se onrein lippe met ‘n gloeiende kool van die altaar af – as simbool dat God ook die middel het om die onheiliges te reinig en nuut en bruikbaar vir Hom te maak (soos die ‘iets soos tonge van vuur’ op die Pinksterdag smet die uitstorting van die Heilige Gees op die dissipels, Hand 2:3 ). Volgens Jeremia 1:9 het die Here sy hand utgesteek en Jeremia se mond aangeraak as teken dat Hy sy woorde in Jeremia se mond gelê het. Hoewel Jesaja se mond aangeraak is, is die verklaring vir die simboliese gloeiende kool dat Jesaja se oortredinge deur die Here vergewe is en sy sonde versoen is, sodat hy in ‘n nuwe verhouding tot God staan, wat deur die Here herstel en reggemaak is (soos die bloed van Jesus ons versoening met God bewerk, Rom 3:25-26)
6:8 Die doel van die Here se magtige verskyning word hier uiteengesit. Dit is nie vir persoonlike genieting van die goddelike teenwoordigheid nie. Die troonsaal van God is die plek waar die beleid oor sy regering oor die wêreld bepaal word, en vanwaar boodskappe uitgestuur word. ‘Ons’ (wat in 6:3 besing word met ‘n drievoudige ‘heilig’) soek ‘n boodskapper. Die Here soek vrywilligers. Die doel van Jesaja se reining was om hom geskik en bekwaam te maak vir die Here se sending. Jesaja antwoord op die uitnodiging van die Here: ‘Hier is ek’ – teenwoordig, Hy reageer positief op die oproep. Hy kon weier, maar meld vrywillig aan: ‘Stuur my’ ek is beskikbaar vir die Here en sy boodskap. Met die aanvaarding van die uitnodiging word Jesaja se boodskap ook gelegitimeer, dit kom direk van die Here af en dra die gesag van die Here self.
Skrywer: Prof Francois Malan