Jesaja – Die koningskap van Hiskia (36:1-39:8) – Francois Malan
Die vier hoofstukke vorm ‘n eenheid in die boek. Dit dek dieselfde geskiedenis as 2 Konings 18:13-20:19, met kleiner variasies en sonder die boete wat Hiskia aan Sanherib betaal het, 2 Kon 18:14-16. Hiskia se lied in Jes 39:9-20 kom weer nie in 2 Konings voor nie. Dit gaan oor die bedreiging deur Assirië, die opkoms van Babilon as ‘n wêreldmag, en die ingewikkelde interaksie tussen die profeet Jesaja en die koning van Juda, Hiskia, die seun van Agas.
Die profeet Jesaja se werk is toegespits op sy eie tyd met die Assiriese bedreiging aan die begin van die 8e eeu v.C. Die drie uitdagende toesprake in 36:4-10; 13-20 en 37:6-13 toon die arrogansie van die Assiriese ryk en die profetiese wyse waarop die bedreigings aangebied word. Die klem lê op die kompetisie tussen die Here en die Assiriese gode, met die oppergesag van die Here. Daarom is die effektiewe reaksie op die arrogante bedreiging van Assirië die gebed van die vrome koning Hiskia (37:16-20) en die woord van die Here wat Jesaja gebring het, waarmee die bedreiging oorwin is (37:22-29). Die hoofstukke kulmineer in ‘n wonder-verlossing van ‘n magtelose Jerusalem (37:33-38), wat die spilpunt is van die opkomende Sion-tradisie as sou Jerusalem nie kan ingeneem word nie. ‘n Eeu later met die Babiloniese invalle, word hierdie vertroue van die Jode as ‘n groot fout bewys.
Die hele eenheid hfs 36-39 roep op tot vertroue op die Here in tye van nood, twyfel en vrees.
Die gedeelte is ook duidelik aangepas by die omstandighede van ‘n eeu na Jesaja, tydens die Babiloniese krisis, soos blyk uit die inbring van Babel in hoofstuk 39 en die profetiese woord van oordeel in 39:5-7. Daarop volg dan die Here se nuwe verlossing in 40:1-2. Dit is ‘n tweedelige boodskap van oordeel en genade, Jerusalem wat verwoes word en dan weer herstel word. Die boek Jesaja gaan oor die Here wat die vreemde, vir Hom uitsonderlike, taak het om sonde in toorn te straf (28:21), wat gevolg word deur sy eintlike werk van genade. So gaan die hele boek oor twee aspekte van God se handelinge: hoofstukke 1-39 fokus op sy oordeel en hoofstukke 40-66 op sy genade wat deur lyding tot openbaring kom.
Sanherib bedreig Jerusalem oor sy geloof (36:1-37:38)
Die Assiriese koningsdokumente ondersteun die Bybelse berig oor Sanherib se opmars en beleëring van Jerusalem in 701 v.C. toe die stad op wonderbaarlike wyse gered is. Die Bybel wil egter nie ‘n geskiedeniskroniek aanbied nie, maar is ‘n weergawe van God se handelinge wat ’n boodskap is, om die Here te alle tye te vertrou soos Hiskia, en nie soos sy vreesagtige pa Agas nie.
36:1 In die veertiende jaar van Hiskia se regering, nadat hy al ‘n hele aantal hervormings teweeg gebring het (2 Kon 18:4-6), is al die vestingstede van Juda reeds deur Assirië ingeneem, en net Jerusalem is nog oor, soos ‘n voëltjie in ‘n kou.
36:2 Lakis was die tweede belangrikste vestingstad in Juda. In Nineve is ‘n relief ontdek waarin die beleëring van Lakis geskets is, met grondwalle wat gebou is om oor die stad se muur te kom. Die hoofadjudannt (‘rabsake’) van die koning trek teen Jerusalem op met ‘n groot leër wat ook hier ‘n wal om die stad gooi sodat niemand kan in of uitkom nie en hongersnood in die stad veroorsaak. Die Assiriese leiers ontmoet vir Hiskia op dieselfde plek waar Jesaja vir Agas ontmoet het in Jes 7:3. Daarmee word die gelowig-vertrouende koning Hiskia teenoor die twyfelende ongelowige Agas gestel. Twee modelle van geloof/twyfel waartussen Israel altyd moet kies.
36:3 Van Sebna en Eljakim se latere geskiedenis is reeds in Jes 22 berig. Hiskia stuur sy drie hoogste amptenare om met die hoofadjudant van Assirië te praat.
36:4-6 Die eerste toespraak begin met ‘n vermetele eis waarmee die ‘groot koning’ van Assirië aan homself die gesag opeis, en hom opstel teenoor die profetiese ‘So sê die Here.’ Die term ‘vertrou/vertroue kom ses maal in die gedeelte voor in spotvrae aan Hiskia en die volk (vv 4,5,6,6,7,9). Dit is juis wat Jesaja van Agas en Juda gevra het, dat hulle op die Here moet vertrou (7:9; 8:17; 10:20). Daarteenoor staan Assirië se ‘strategie en mag,’ waarop Assirië vertrou.
Met twee retoriese vrae daag die Assiriër vir Juda uit: waarop is jou vertroue gebou? Op woorde? Wat nie strategie of oorlogsmag kan vervang nie! Op wie vertrou jy? Op Egipte? Wat ‘n gebroke riet is wat in jou hand steek as jy daarop leun! (Die Here verbreek egter nie ‘n geknakte riet nie en sy dienskneg word nie geknak nie (43:2,3).
36:7 Soos met Egipte kan julle ook nie op die Here vertrou nie, want Hiskia het mos juis die Here se altare in Juda afgebreek sodat hulle net in Jerusalem sal aanbid (2 Kon 18:4). Sanherib het geen begrip daarvoor nie dat die Here die enigste ware God is op wie Hiskia vertrou (2 Kon 18:5), en dink die Here is beledig met Hiskia se afbreek van die afgode.
36:8-9 Die toespraak word spottend gerig teen Juda se militêre mag in vergelyking met die groot leër uit Lakis. Hulle word uitgedaag om genoeg soldate te voorsien vir 2,000 perde wat Assirië sal voorsien om ‘n bietjie sports te hê. Egipte sal nie strydwaens en perde aan Juda kan voorsien nie, want hulle is klaar oorwin.
36:10 Die laaste uitdaging aan Hiskia se vertroue op die Here wil die mat onder sy voete uitpluk. Soos Jesaja gesê het in 10:5-19, is dit die Here wat Assirië gestuur het as sy stok om Israel te straf vir sy verwerping van die Here