Jesaja – Die nasie uit die verte (5:25-30) – Francois Malan
5:25 Die tweede ‘daarom’ stel dit duideliker: Omdat Israel die Here verwerp gaan Hy aktief in toorn optree met ‘sy uitgestrekte hand teen hulle’ – dit is met direkte magsoptrede. Sy optrede is so sterk dat dit beelde van lyke en dood skilder. Hulle het kontak verloor met die bron van lewe en krag. Deur sy woord te verwerp het hulle hulle van sy lewenskrag afgesny. As Eienaar van die wingerd tree Hy op om die wingerstokke wat net stinkende druiwe voortgebring het te verwyder. Sy uitgestrekte hand verwyder die beskermende heining en die wagtoring; en sonder sy beskeming word die wingerd vertap (5:5-6). Die refrein van die laaste deel is: ‘met dit alles is sy toorn nie weggedraai nie, maar sy hand bly uitgestrek.’ Dit word herhaal in 9:12,17,29; 10:4. Die gebeure van hoofstuk 5 voor die dood van koning Ussia (6:1), word voortgesit in 9:8-10:23 tydens die regering van koning Agas, totdat Israel en die grootste deel van Juda vertrap is. Die toorn van die Here en sy verwerping van hulle is die rede vir die verlies aan politieke, sosiale en
ekonomiese orde en stabiliteit wat die laaste 32 jaar van die koninkryk van die tien stamme van Israel gekenmerk het: Sagaria regeer 18 maande (754-753v.C. 2 Kon 15:8), Sallum vermoor hóm, word koning en regeer ‘n maand en ‘n paar dae (753 v/C. 2 Kon 15:13), Menahem maak hóm dood en regeer 10 jaar in Samaria nadat hy almal in Tirsa doodgemaak het en die swanger vrouens laat oopsny het (751-742 v.C. 2 Kon 15:14), sy seun Pekahia volg hóm op en regeer 2 jaar (742-741 v.C. 2 Kon 15:23), sy adjudant Peka maak hóm dood en word koning vir 20 jaar (740-732 v.C. 2 Kor 15:27), Hosea maak hóm dood en word koning vir 9 jaar (731-723 v.C. 2 Kon 15:30; 17:1), sy laaste drie jaar was Samaria deur die Assiriërs beleër en Hosea in die tronk gestop. Daarna is Israel in ballingskap weggevoer na Assirië (722 v.C. 2 Kon 17:6) omdat hulle ander gode vereer het, en geleef het volgens die gebruike van die nasies wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. (2 Kon 17:7-8).
5:26 Verse 26-30 onderstreep die dreiging in vers 25, om te verseker dat dit nie gemis word nie, en dat dit van die Here kom, wie se toorn nie bedaar het nie. Letterlik staan daar: ‘En Hy sal ‘n vaandel oprig vir die vér nasies – waar hulle kan bykaarkom vir die oorlog. – en Hy sal een van hulle roep van die eindes van die aarde af ; en kyk! (let op) met spoed, vinnig, kom hulle.’ Die dreiging van die Here word nou werklik, en sy straf op Israel word uitgevoer deur ‘n groot leër, wat Hy van vér af laat kom – die leër van Assirië was saamgestel deur baie nasies wat deur hulle oorgeneem was. In 5:19 het Israel gevra dat die Here moet gou maak dat hulle sy plan kan
sien. Maar hulle het nie die massiewe vinnige leër van Assirië verwag nie. Menahem het nog die leërs van Assirië gekeer deur 34 ton silwer aan hulle koning te betaal (2 Kon 15:19). Die Assiriërs het gespog oor die spoed en beweeglikheid van hulle leërs. Nineve het die eerste beroepsleër in die wêreldgeskiedenis gehad. Later sou Babilon netso toeslaan op Juda en Jerusalem. So gebruik die Here van tyd tot tyd instrumente in sy hand om die volke te straf wat nie lewe volgens sy woord en riglyne nie.
5:27-28 Die profeet teken die voortreflike uitrusting, moed en slaggereedheid van hierdie aanstormende leërmag. Hulle is magtig, sterk, goed toegerus, onweerstaanbaar, gedetermineerd. Met hulle metaalharnasse, swaar bewapende strydwaens, geoefende boogskutters en ruitery, was hulle inderdaad ‘n gedugte en gevreesde mag.
5:29 Die leër is soos sterk jong leeus wat brul, hulle prooi bespring en wegsleep sonder dat iemand dit kan afvat. So magteloos sal die Here se verbondsvolk wees teenoor die Here van die leërskare se instrument om hulle te straf (vgl. Amos 3:12).
5:30 Na die ballinge weg is, wat word dan van die land wat verlate agtergegelaat word? duister – ellende – lig word verduister deur die (onweers)wolke (8:22). Die brul van die leeu Assirië word op daardie dag van oordeel die brul van die Here, soos die aanhoudende gedreun van die see. Die lig van God se genade word ook uitgedoof (2:6; maar vgl. 60:2). Die aankondiging van oordeel, vyf hoofstukke lank, laat die hoorders en lesers in duister en ellende, sonder ‘n uitsig op hoop, soos die gedig bedoel was om die hoogmoed en selfvertroue van mense te breek.
Skrywer: Prof Francois Malan