Jesaja – Die oordele oor ander nasies (hoofstukke 15-27) – Francois Malan
Die res van hoofstukke 13-23 se oordele oor die ander nasies sluit die volgende in:
Hoofstukke 15-16 is ‘n uitgebreide uitspraak van oordeel oor Moab (nageslag van Lot (Gen 19:37), wat oos van Jerigo en die Dooie See gewoon het. Hulle koning Balak het vir Bileam geroep om Israel te vervloek (Num 22-25). Later was Israel 18 jaar lank onder Moabitiese bewind tot die linkshandige rigter Ehud die Moabitiese koning Eglon vermoor het, Israel se manskappe geen Moabiet deur die Jordaandriwwe laat kom het nie en 10,000 Moabiete verslaan het (Rigters 3:14,21,29). 1 Sam14:47 vertel van Saul se oorlog teen Moab; Dawid skuil tydelik vir Saul in Moab (1 Sam 22:1-5), maar verslaan hulle later toe hy koning word (2 Sam 8:2). Later veg Moab saam met Nebukadnesar van Babel teen Juda (2 Kon 24:1-2). En in Jesaja 15-16 voorspel die Here die uitwissing van Moab. Hulle vernaamste god was Kamos.
Hoofstuk 17 het ‘n uitspraak van die Here teen Damaskus/Arameërs en Efraim/Israel, wat in koning Agas van Juda se tyd die land Juda wou oorneem (1 Kon 16:5; 2 Kronieke 28:5-8). Aan die einde (17:12-14) is daar ‘n algemene uitspraak teen die baie nasies wat Juda aanval en stroop.
Hoofstuk 18 voorspel dat die lang mooi (gladde vel) mense van Etiopië (Kus, suid van Egipte), wat nie teen Assirië veg nie, na Jerusalem vir die Here geskenke sal bring met hulle papirusbote (ná Jerusalem se wonderbaarlike redding uit Assirië se hand soos in Jesaja 36 beskryf is?).
Hoofstuk 19 se eerste 15 verse is in digvorm met die aankondiging van die Here se oordeel oor Egipte wat toe waarskynlik deur die sterk Etiopiese koning Sebaka oorgeneem word (716 v.C.) en ‘n droogte die Nyl laat opdroog (19: 5-10) Verse 16-25 bestaan uit vyf prosa-gedeeltes wat elkeen begin met ‘op die dag’ wanneer die Here Egipte genadig sal wees, ingelei met Egipte se vrees vir die Here (19:16-17) en verder uitgewerk word met hulle aanvaarding van die Here as hulle God, met vyf Joodse kolonies en tempels in Egipte.
Hoofstuk 20 vertel van Jesaja wat drie jaar lank kaal moes loop (net in onderklere?) as simbool vir Etiopië en Kus oor wat met hulle sal gebeur as hulle in opstand teen Assirië kom. Egipte is agtereenvolgens in 670 v.C. en 667 v.C. deur Assirië verower.
Hoofstukke 21-23 is oordeelsuitsprake oor vyf lande:
Babel (21:1-10), moontlik toe Hiskia die Babiloniese afvaardiging te vriendelik ontvang het (2 Kon 20:12-16) ,
Edom, nageslag van Esau, woon suid van Juda (21:11-12).
Arabië (21:13-27) lê oos van Moab, en word ook deur Assirië ingeneem.
Jerusalem/Juda (22:1-25) wat soos die ander nasies geword het, word nou saam met die nasies veroordeel. Ten spyte van die profete se visioene van waarskuwing gaan hulle rustig voort en sê: ‘Laat ons eet en drink, want môre sterf ons’ (22:13; in 1 Kor 15:32 aangehaal). In 22:15-28 word Sebna, die vertroueling van die koning Hiskia in Jerusalem veroordeel, wat waarskynlik die opstand teen Assirië organiseer, maar sy opvolger Eljakim kry dieselfde oordeel.
Tirus/Fenisië (23:1-18) lê noord van Israel met Tirus op ‘n eiland in die Middellandse See, die sentrum van die handel in die Ooste, wat strek van Babel, Egipte, Siprus, tot Tirus in Spanje; ook Tirus sal onder gaan (23:1-16) maar weer deur die Here herstel word tot ‘n land wat sy winste aan die Here sal wy (23:17-18).
Hoofstukke 13-23 beskryf die Here se oordeel oor die vreemde volke, maar die fokus is op Juda, om hulle te oorreed om nie ooreenkomste met die volke te sluit nie, want hulle bied ‘n valse hoop aan. Die volk van die Here, deur Hom gemaak (14:32), moet die Here alleen vertrou vir hulle hulp. Hy heers oor Juda en sy amptenare, en oor al die nasies en alle mense (as hulle Maker 17:7), oor die wêreld-ekonomie, oor die natuur (reën en droogtes 15:6;
19:5, oeste en misoeste, 16:9-10), oor die mens se denke (19:14, 21); Hy stel mense aan en verwyder hulle uit hulle amp (22:19,21); Hy laat koninkryke ondergaan en herstel hulle (16:13; 23:9,17).
Hoofstukke 24-27 verkondig en beskryf die oordeelsdag oor alle nasies van die wêreld (vgl ‘die dag van die Here’ in 24:21; 25:9; 26:1; 27:1; 27:12), ‘n dag van oordeel oor die vyande van Israel, maar verlossing vir Israel en dié vreemde nasies wat die Here se koningskap aanvaar. Bonatuurlike en aardse vyande word vernietig (24:21-22; 27:1); so ook die dood (25:8; 26:19,21 van die min tekste in die O.T. wat ‘n opstanding uit die dood in die vooruitsig stel). Dit alles is rede vir lofsange wat die Here besing en dank (25:1-5 vir sy verlossingsplan wat Hy deurvoer en as toevlug vir die armes; 25:9-11 Hy het ons gered; 26:1-6 Hy is ons beskermer, ‘n veilige toevlug). Dit gaan nie net oor die verre toekoms nie, maar ook oor Jesaja se tyd vir Jerusalem/Juda (24:23; 26:1), Moab 25:10), Egipte en Assirië (27:12-13). Die hoofstukke is waarskynlik later in die boek Jesaja ingevoeg, na die tyd van die ballingskap in Babel.
Skrywer: Prof Francois Malan