Jesaja – Die Skepper wat loskoop, vergewe en ontheilig (Jesaja 43:1-28) – Francois Malan
Die hooftemas van Israel se geloof word in hierdie hoofstuk aan hulle voorgehou: Die Here is innig toegewy aan Israel en gaan optree om hulle te verlos uit die ballingskap. Die Here is in sy wese soewerein en sal hard met Israel handel as hulle ongehoorsaam is en nie op sy roepstem reageer nie. Sy toegeneëntheid teenoor Israel blyk duidelik uit die verlossingswoorde van verse 1-7, 14-21, sowel as die verbasende vers 25. Sy gestrengheid teenoor Israel word sterk verwoord in verse 22-24,26-28.
‘n Derde motief is die Here se dagvaarding van Israel om vir Hom te getuig in die saak voor die hof. Die gawes en vereistes van die Here verseker dat die lewende verhouding van Israel se lewe saam met die Here dinamies, verrassend en soms duur kan wees. Die verlossingsboodskap van 43:1-7 volg op die harde woorde van 42:21-25, en die streng slot van 43:22-28 word beantwoord met 44:1-8 se vaderlike versekerings.
Die Here se liefde vir Israel (43:1-7)
Die uitspraak, wat die Here se liefde vir Israel uitspel, is gebou rondom die herhaalde vertroosting in vers 1 en 5: Moenie bang wees nie, om Israel se gevoel dat die Here hulle verlaat het, te oorwin.
43:1 In die eerste Moenie vrees nie-uitspraak is die Skepper en Formeerder van Israel, wat ook die Skepper van die wêreld is, aan die woord. Die rede vir die uitspraak is dat die Here hulle losgekoop het, die Hebreeuse term ga’al uit die familiereg vir die sterker familielid wat vir die swakker een se beswil intree. Dit word ondersteun met ‘n aannemingsformule: Ek het jou op jou naam geroep – jy is nou Myne, my kind! En die Here weier om van sy regmatige besitting beroof te word. Teenoor die donker hede van Israel se nood en sonde stel die profeet hier weer die blye toekoms, die hoofstuk begin met: Maar nou – dit verwys na die aanstaande omkeer van hulle omstandighede.
43:2 Die intieme verhouding met die Here verseker sy hulp in elke gevaar: vloedwater (soos deur die Rietsee?), vuur (soos die hitte van die woestyn?) – metafore vir enige soort bedreiging.
43:3 Die Here (die persoonlik teenwoordige Ek is), die Heilige (die Toegewyde) van (aan) Israel, jou Helper (mosji‘ah) sê Hy is besig om Israel se loskoping te onderhandel sodat hulle kan terugkom na hulle land. Hy gee Egipte en Etiopië (Kus en Seba) as losprys (kofêr). Kores se seun en opvolger, Kambésus, het later Egipte en sy omringende gebiede ingeneem.
43.4 Die Here doen dit alles vanweë sy groot liefde vir sy volk Israel – die klein ellendige en onbelangrike groepie ballinge wat gaan terugkeer is die volk van die Here, kosbaar in sy oë net so armsalig as wat hulle is. En dink wie sê dat hulle kosbaar is in sy oë – Hy is die Here, die God wat altyd persoonlik teenwoordig is, die Heerser oor alle magte en gesagdraers, oor die ganse geskiedenis en oor sy hele skepping!
43:5-6 Die ‘Moenie vrees nie’ van vers 1 word herhaal met die versekering dat die Here by hulle is. Die terugkeer van die verstrooide Israel van die uithoeke van die aarde af waarheen hulle verstrooi is, word geskilder as die bewys van die Here se aktiewe teenwoordigheid. Die Here noem hulle ‘my seuns en my dogters.’ Reeds in Eks 4:22 sê die Here dat Israel, wat toe Egipte se slawe was, sy oudste seun is. Hy roep sy dienaars bymekaar deur sy woord, en maak deur sy dienaar Kores dit vir hulle moontlik. In Lukas 13:29 belowe Jesus dat mense uit die ooste, weste, noorde en suide sal aansit aan die feesmaal in die koninkryk van God, al is dié wat deur die smal deur sal ingaan maar min (Lk 13:24; Mt 7:21-23).
43:7 Die terugkeer van die ballinge kom deur die Here se groot liefde vir ‘my volk, my seuns en dogters,’ ‘elkeen wat na my Naam genoem word’ – hulle naam Israel beteken ‘hy worstel/voer stryd met God’ of ‘God seëvier,’ Gen 32:28 (vgl Hand 11:26: die naam ‘Christene vir Jesus se volgelinge is in Antiogië die eerste keer Christene genoem; so beteken die woord kerk wat ‘n vertaling is van die Griekse kuriake, die Here s’n) – ‘wat Ek vir my eer geskep het (bara’)’ – om die Here groot te maak en te dien – ‘wat Ek gevorm het (jatsar)’ – soos ‘n pottebakker ‘n kleipot na sy hand vorm (Jer 18:3-4) – ‘ja, wat Ek gemaak het (‘asah)’ – elkeen met die Here se spesifieke doel met hom/haar.
Getuienis vir die Heilige Ware God (43:8-13)
43:8 Die beeld van ‘n hofsitting word weer gebruik, soos in 41:1-7 en 21-29. Hier vir die Here se dispuut met die ander gode om te bepaal wie die ware God is wie gedien, vereer en gehoorsaam moet word. Die nuwe aspek van hierdie hof is dat die blinde en dowe Israel opgeroep word as die Here se getuies (soos in vers 10 uitgespel). Hulle moet in hulle blindheid en doofheid kom om oog- en oorgetuies te wees dat die Here die ware God is. Selfs in hulle gestermdheid is hulle genoegsame getuies vir die Here (vgl. 2 Kor 12:9: My krag kom juis tot volle werking as jy swak is).
43:9 Die nasies en volke en hulle gode moet eerste bewyse voor die hof voorlê: eerstens of hulle sulke aankondigings kan maak soos die Here in verse 1-7 gedoen het; tweedens dat hulle afgode dinge vooruit kon aankondig en deurvoer, sodat dié wat luister kan sê: dit is die waarheid – soos die ou profete wie se woorde later as waar bewys is toe dit gebeur het (vgl. bv Elia se voorspelling van droogte, 1 Kon 17:1). Jesus se stelling dat Hy van die waarheid moet getuig het Pilatus se vraag ontlok: wat is waarheid? (Jn 18:38). Dit is die vraag wat deur die eeue aan die gelowiges gestel word, en moes hier deur die ‘blinde en dowe’ Israel voor die wêreld beantwoord word.
43:10 Soos ‘n advokaat sê die Here vir Israel voor, wat om te antwoord; hulle is sy getuies, sy dienaar wat Hy uitgekies het om Hom te ken en in Hom te glo en te besef dat Hy die Here is – Jahweh, die aktiewe teenwoordige God, die enigste wat kan voorspel en dit uitvoer, sonder enige ander aanspraakmaker daarop voor of na Hom – in elk geval nie Babilon se afgode, of ideologië of magte nie.
43:11 Nogeens word die waarheid wat Israel moet getuig gestel: ‘Ek, Ek (is) die Here (Jahweh) buiten My geen Helper (mosji‘ah, 43:3) – om te red nie. So het net die Here Homself bekendgemaak, en net Hy is die lewende Redder wat hulle uit hulle ballingskap kan lei.
43:12 Wat die Heiland/Helper is, word nader toegelig uit wat Hy gedoen het: Hy het hulle redding aangekondig, hulle gered en dit laat verkondig. In die verlede het Hy baie keer aan Israel sy redding aangekondig en hulle dan gered; daarna, in nuwe noodsituasies van Israel, het Hy dikwels sy heilsboodskap laat hoor deur die profete. Die vreemde gode het dit nooit vir hulle mense gedoen nie. Daarom kan Israel nou getuig en dat die Here waarlik God is.
43:13 Nou gaan hulle weer sy Redding, wat Hy nou aankondig, sien en beleef. En as Hy optree kan niemand jou uit sy hand ruk nie (Jn 10:28-30) en niemand kan sy reddingswerk keer nie.
Skrywer: Prof Francois Malan