Jesaja – Teen Assirië (10:5-19) – Francois Malan
Dié komposisie is een van die sterkste litterêre meesterstukke in die hele boek, met balans tussen woorde en hulle samestellings en klanke. Vir dié mense wat meen dat die Here ‘n besonder band met Jerusalem het, is dit onreëlmatig dat die Here hulle vyand teen hulle gebruik as sy verkose instrument (10:7,15). In 10:5-6 word sy opdrag aan Assirië gegee en in 10:12,16-17 belowe Hy om die ambisie van die konng van Assirië te straf. Die leser word in die groot en veeleisende wêreld van die wêreldpolitiek gedompel. Hier en daar word Assirië ‘n simbool vir die super-moonhede van alle tye.
10:5-7 Hier is die Here aan die woord om Assirië se posisie te verduidelik. Die Here het hulle uitgestuur om sy volk, wat Hom diep teleurgestel het deur ‘n godlose nasie te word (9:16 teen Israel, hier teen Juda), te beroof, hulle land te plunder en te vertrap. Assirië is die stok waarmee die Here straf. Maar Assirië het verder gegaan as hulle opdrag en het arrogant opgetree met lafhartige genadeloosheid. Die verkore instrument het te groot geword in sy eie oë en het onafhanklik van God opgetree; hy wou nie net tugtig (as slaanstok en septer, 10:5) nie, maar het probeer om baie nasies te vernietig en uit te roei (10:7). Daarom begin die gedeelte met die klaagsang wat dood voorspel: ‘O wee,’ dié keer nie oor Juda, soos in 5:8-23, en oor Israel in 10:1 nie, maar oor hulle vyand. Die tema wêreldryk teenoor Godsryk wat in hoofstuk 7 begin, word voortgesit.
In 10:8-11 gee die profeet die arrogante woorde van Assirië weer.
10:8-9 Sy grootdoenerigheid baseer hy op sy militêre en administratiewe mag en die suksesse wat hy al in oorloë behaal het. Sy vorste is konings, soos hy state verower, stel hy hulle konings aan as sy vorste wat hom verteenwoordig. Die stede (stadstate) wat genoem word, lê op die roete van sy opmars van Ninevé na Jerusalem.
10:10-11 Die Assiriese koning roem: ‘soos my hand die koningryke van die nietige godjies en hulle afgodsbeelde gevat het, wie is Jerusalem en Samaria dan?’ – die Hebreeuse woord vir dié afgode is minagtend. Die Assiriese koning Tiglat-Pileser erken die rol van godsdiens in elke stadstaat wat hy ingeneem het, maar het nie veel respek vir die god van die mense wat hy platloop nie. Dit was in 733 v.C., toe Peka doodgemaak is, en Hosea in sy plek deur die Assiriese koning aangestel is (2 Kon 15:29-30). Tiglat-Pileser reken die stadstate van Sirië, wat hy ingeneem het – Damaskus in 732 v.C. – het meer en belangriker afgodjies en afgodsbeelde gehad as Jerusalem en Samaria. Wat hy met Samaria van Israel en haar afgodjies gedoen het, sal hy mos met Jerusalem en haar afgodsbeeltjie kan doen. Hoe kan Jerusalem teen hom standhou? (Tiglat-Pileser sterf in 727 v.C., Salmaneser volg hom op, Hosea rebeleer, Salmaneser gooi Hosea in die tronk, Samaria word vir 3 jaar lank beleër, en finaal in 722 v.C. oorwin deur Salmaneser se opvolger, Sargon II; vgl. 2 Kon 17:3-6).
10:12 ‘Die Here wag tot sy werk op Sionsberg en in Jerusalem afgehandel is’ – sy straf word afgehandel deur hulle in 597 v.C. en 587 v.C. in ballingskap na Babel toe te laat gaan – ‘dan sal Hy die koning van Assirië straf oor die vrug van sy astrante brutale hart (houding) en die selfverheerlikking van sy trotse oë/voorkoms.’ Assirië, soos enige nasie of magsbasis val onder die Here se heerskappy, hoewel hulle dit nie weet nie, en waarop Juda in sy vrees nie vertrou nie. Die profete let nie op die nasies se kennis en vrees nie, maar stippel die alternatiewe wêreld van geloof in die Here uit.
10:13-14 In die koning van Assirië se tweede gedig beskuldig hy homself met sy trotse verklarings dat hy die internasionale orde geskend het deur nasionale grense te verskuif. Dit ondersteun die Here se oordeel oor Assirië. Die koning spog oor sy eie mag, insig en verstand (daarteenoor staan die Kneg van die Here in 9:5: ‘n wonderbare raadsman, en sterke God, wat soos ‘n Vader optree en die Vredevors is). Assirië se roofsug om sy grense uit te brei, het duidelik ernstige politieke wanorde veroorsaak – deur die leiers van die onafhanklike volke af te maai; en dit het baie lyding en ontberings veroorsaak – al hulle voorrade is geplunder, om sy strooptogte en sy ryk te finansier; dit word skerp geskets met die beeld van Assirië wat maklik eiers onder ‘n broeihen uithaal, soos ‘n jakkals in ‘n hoenderhok. Daar word egter geen protes aangeteken nie, want niemand waag dit nie.
In 10:15-19 word die uitspraak en vonnis van die Here voltrek oor Assirië se wrede uitvoering van die Here se opdrag aan hom in 10:5-6.
10:15 Die retoriese vrae in 10:15 moet negatief beantwoord word: Die byl kan homself nie verheerlik teen die houtkapper wat hom swaai nie! Die saag kan nie homself grootmaak teenoor die een wat hom heen-en-weer stoot en trek nie (menifo)! So kan die stok ook nie swaai (hanif) teen die een wat hom oplig nie (merimaw)! Ook kan die staf homself nie oplig (harim) teen die hout/boom waaruit hy gesny is nie. Assirië was die byl, saag, stok, staf, die instrument in die Hand van die Here, die Heerser oor alle nasies, om sy volk te straf. Maar Assirië plaas homself in die plek van God, wat hom swaai.
10:16 Daarom – na die beredenering van Assirië se houding en optrede, volg die vonnis – stuur die Here HERE van die leërskare vermaering/uitmergeling onder sy vet prinse (die woord vir prinse beteken ook vettes), en onder (tagat) sy glorie (kebod reputasie, luisterrykheid, maar ook gewig, besit, aansien, en ‘n las) brand (jekad) ‘n vuur (jekod) soos die brand (jekod) van ‘n vuur.’ Die koning van Assirië het hom op sy vorste beroem (10:8) maar die Here sal hulle laat krepeer van ellende; sy onbeskryflik groot geroofde besittings (10:14) sal deur vuur verteer word.
10:17 Die Lig-van-Israel (9:1) sal die vuur wees (nie ‘n vuur veroorsaak nie, maar self die vuur wees), en sy Heilige die vlam – in 5:19,24 is die Heilige die aanvoerder van die Heilige oorlog teen Juda en Jerusalem wat hulle rug op Hom gedraai het met hulle onheilige lewe; hier teen Assirië, die Here se byl om Juda te straf, maar homself bo die Here verhef (10:15). Dat die Here die Lig-van-Israel genoem word impliseer dat die oordeel oor Assirië, Israel se redding sal beteken. Hier gaan dit egter nog eers oor die oordeel oor Assirië. En dit sal sy dorings en sy distels op een dag brand en verteer – in 5:6; 7:23-24 word die stad Jerusalem ‘n woesteny met dorings en distels (vgl. Adam se straf in Gen 3:18); in Jes 9:17 is die goddeloosheid van Israel ‘n vuur wat begin by hulle ‘dorings en distels.’ Dorings en distels wat oorneem is eers ‘n dreiging teen die land van Juda, dan as beeld vir Israel se goddeloosheid en hier van Assirië se goddeloses (1983-vertaling beskou dit as hulle geringes).
10:18-19 ‘En die heerlikheid (1983-vertaling: vernames) van sy bos en sy vrugbare land, van beide sal Hy siel en liggaam vernietig soos ‘n sieke (siek boom?) wat wegkwyn.’ Maar ook van hierdie arrogante koninkryk sal ‘n paar (‘n res) oorbly, so min dat ‘n seuntjie hulle kan tel. Die profeet sien in die geloof dat die Here in staat is om die magtige Assiriese volk, wat in 2,500 v.C. klein begin het (die stad Assur dateer uit 2,600 v.C., hulle hoofgod Assur reeds vanaf 3,000 v.C.), uit te roei tot net enkeles oorbly. Van 634 v.C. af het die Assiriërs onder mekaar begin baklei. In die jaar 612 v.C. het hulle (by Assur en Nineve) geval voor die magte van die Babiloniërs en die Meders en twee jaar later in 610 v.C. het Haran, die laaste bastion van die Assiriërs, geval, en is die ryk van die Assiriërs beëindig. Die oorblyfsel het deel van die Babiloniese ryk geword, maar het in die helfte van die 7e eeu n.C. onder die Moslems byna heeltemal verdwyn. Vandag is daar nog oorblyfsels in die noorde van Irak, Iran, Sirië en die weste van Turkye, waarvan die meeste Christene is (Tiglat Pileser III het die Akadies van die Assiriërs met die Aramese alfabet van die Siriërs vervang, en dit het die omgangstaal van die hele Midde-Ooste geword, wat ook in die tyd van Jesus gebruik is).
Skrywer: Prof Francois Malan