Jesaja – Die verlies as die Here ‘verwyder’ word (3:1-12) – Francois Malan

3:1 Vers 1 begin met : ‘want kyk!’ om die vorige vers te verduidelik, dat jy nie op mense moet staatmaak nie, en vra aandag vir die Here se optrede teen Jerusalem en Juda. Soos in die vorige verse probeer die digter om sy lesers ‘n tafereel te laat sien van die uiterste verlies, verwarring en kwesbaarheid wat sal kom, omdat die Here Juda se oneerlike selfbevredigende gemeenskap gaan beëindig. Die hele gedeelte volg op die eerste vers, waarin drie dinge gesê word, wat in die res uitgespel word:

  1. Die Here die Almagtige God, letterik vertaal: Die Here HERE van die leërskare (die Here,

Adonai=heer, die HERE Jahweh=Die Ek is, die persoonlik aktief teenwoordige, Seba’oot=van die leërskare – Hy word voorgestel as die aanvoerder van ‘n magtige leër wat teen Juda optrek – die res van die hoofstuk verduidelik wat Hy gaan doen.

 

2 Die Here gaan verwyder, wegneem, sodat Jerusalem en Juda nie meer daar gaan wees nie – hoe dit gedoen gaan word, word nie uitgespel nie (later, in hoofstuk 8 word na Assirië verwys wat eintlik die 10 stamme van Israel wegvoer, hoewel dit later Babel is wat Juda heeltemal vernietig).

 

3 Die Here gaan dit doen aan sy eie mense, Juda en Jerusalem – die oordeel begin by die huis van God (1 Petr 4:17) – die stad en sy omgewing wat so vol geld, vol wapens en vol gode is (Jes 2:7-8). Die Here gaan dit alles van hulle wegneem: Elke stut, steunpilaar en versorger van brood en water; ‘n hele land gestroop van basiese lewensbehoeftes, van alles en almal wat vir die bestaan en welvaart van die volk verantwoordelik is.

 

3:2-3 Dié verse noem die rykes en vooraanstaandes. Hulle gaan deur die ‘verwydering’ getref word. Die lys sluit alle leiers in die gemeenskap in – godsdienstig, polities en militêr. Of die gebrek aan basiese behoeftes hulle gaan tref, en of hulle, as die steunpilare, verwyder gaan word, word nie uitgespel nie. Juda se hele infrastruktuur is op die spel. Omdat hierdie rolspelers hulle gesag verloor het, is die samelewing in gevaar. Dit het met die tien stammeryk gebeur in 722 v.C., en begin gebeur met Juda en dreig om met Jerusalem te gebeur, wat egter nog

genadetyd kry, totdat Nebukadneser die stad kom inneem, 125 jaar later, in 597 v.C. (2 Kon 24:14-16 ; in 612 v.C. het die Assiriese ryk tot ‘n val gekom voor die magte van die Babiloniërs).

 

3:4 Die gevaar word op drie maniere uitgespel: (a) ongeskoolde onvolwasse leiers, letterlik: ‘Ek sal seuns as hulle prinse gee, en kinders sal oor hulle heers’ – met verwysing na regters en offisier. Die orde van die samelewing word omgekeer. Onvolwassenes ontvang gesag oor die volk. Daar is verwarring en anargie wat lei tot burgeroorlog; en wetteloosheid vier hoogty.

 

3:5 (b) die gewone hoflikheid van respek en ontsag waarop ‘n gemeenskap gebou word, sal verbrokkel. Die gemeenskap word ‘n oerwoud van roofsugtige uitbuiting: man teen man, vriend teen vriend, seuns wat grysaards te lyf gaan, gepeupel trap op geëerdes (soos Job hoofstuk 30 kla).

 

3:6-7 (c) ‘n volslae gebrek aan leierskap. Die omstandighede sal so ondraaglik word en die vooruitsigte so treurig dat niemand die verantwoordelikheid van leierskap wil aanvaar nie, al word dit opgedring aan die persoon wat nog ‘n band met sy ouerhuis behou het, en nog behoorlike klere het as aanduiding van sy status. Maar hy sê hy het nie eers meer brood en klere nie.

In die verse teken die digter ‘n gemeenskap wat totaal gefaal het, sonder hoop of uitsig – omdat die Here die lewensmiddele en leiers, ‘elke stut en steunpilaar weggeneem/verwyder’ het (3:1).

3:8 Die vers trek die voorlopige konklusie: dit gaan alles gebeur omdat Jerusalem en Juda, die stad en sy heersers, hulle lewe teen die Here ingerig het en Hom die ereplek ontsê het; wel nie direk en blatant nie. Daar is nog baie ‘godsdiens’ (1:10-15). Dit gaan eerder oor hulle lewenswyse – hulle tong en hulle optrede is teen die Here – ekonomies, militêr en polities, ten koste van die lewe van die gemeenskap.

 

3:9 Twee feite bevestig dat hulle die ramp verdien: (i) korrupsie in die regspraak – letterlik: hulle astrante gesig getuig teen hulle – ‘n Hebreeuse segging vir onbeskaamde partydigheid in die regspraak (vgl. Deutr 1:17 waar dieselfde uitdrukking gebruik word). (ii) sedelike verval, soos Sodom se openlike onsedelikheid en geweld.

 

3:10-11 Oor die motief vir die oordeel verwys die digter na die reël van vergelding: sê vir die regverdige ‘dit is goed,’ want hulle sal die vrug van hulle dade eet; wee! (sê vir) die slegtes: ‘dit is sleg’, want die vergelding van sy hand sal aan hom gedoen word – hulle word slagoffers van die gevolge van hulle eie keuses en beleid. Met die regverdiges sal dit goed gaan – hulle sal die vrug van hulle dade geniet; vir die skuldiges is ellende die vrug van hulle dade. Die woord tsadik beteken ‘die regte ding’ (Ps 51:21), ‘reg optree’ Ps 15:2, geregtigheid voor die wet,’ ‘reg laat geskied teenoor iemand’ Ps 35:27, ‘regverdig wees’ (Ps 7:9,10), God se ‘geregtigheid’

‘regverdigheid’ (Ps 7:10,12,18).

 

3:12 Die vers brei uit op v4. Die roekelose verdrukkers van my volk is kinders, en vroue heers oor hom. Die gebrek aan verantwoordelike leierskap het die gemeenskap aan die grille van roekelose kinders laat beland en verleidelike vroue lei die volk in sonde. O my volk, jou leiers laat jou wegdwaal en sondig, en hulle maak die rigting van jou paaie korrup. Dit gaan om die alledaagse lewe, eet, drink, die stryd om oorlewing en om met mekaar saam te lewe. Juda word magteloos verlam as die Here ‘wegneem,’ hulle aan hulleself oorgee.

Skrywer: Prof Francois Malan