Jesaja -Die Here vernietig arrogante Babel (13:14-22) – Francois Malan
13:14-16 Mense sal so kwesbaar wees soos skape sonder herders en wildsbokke, wat blootgestel is aan roofdiere wat tevergeefs vir hulle lewe weghardloop. Die opstandelinge teen die Here vlug voor die leërs, maar word deur die wrede soldate mishandel, verkrag en vermoor word. Dit is nie slegs die soldate wat val nie, maar ook hulle babas en vroue en huise val voor die aankomende leër en sy wrede soldate, wat optree volgens die oorlogsgebruike van die Assiriërs en die Babiloniërs. Soos die Babiloniërs met die ander volke en Juda gemaak het, sal met hulle gemaak word.
Die inwoners van Babel wat betyds gevlug het na hulle lande van herkoms, mense uit Israel en Juda wat terugkeer na die Here vir wie hulle verlaat het, kan die geweld en die toorn van die Here ontkom. Hulle is soos die takkie uit die stomp van Dawid (11:1), die skaars klompie waarvan vers 12 praat, die oorblyfsel van Jes. 1:9; 10:21,22.
Hoewel 13:1 vir Babel aanwys as die skuldige wat aangespreek word, is die gedig in verse 2-16 heel algemeen en nie net op Babel van toepassing nie. Dit sluit selfs die hemellggame in en dit pas by enige tyd en optrede van mense wat teen die Here en sy woord lewe, en die kinders van die Here vervolg. So word Babilon, soos Sodom en Gomorra, ‘n model en voorbeeld vir enige mag wat teen die wil van die Here optree. In Openb. 18 word Babel steeds gebruik as simbool vir die bose, en toe het die stad Babilon vir eeue reeds nie meer bestaan nie.
In die volgende verse word weer spesifiek verwys na die hoogsontwikkelde en magtige maar arrogante Babel en sy bevolking, wat vir ‘n tyd lank Galdeërs genoem is toe ‘n suidelike Galdeërstam seggenskap gekry het oor die regering en 5 agtereenvolgens leiers opgelewer het, o.a. Nebukadneser.13:17 Die agente van die Here, wat sy oordeel oor Babilon voltrek, is die Meders wat sterker geword het en die Babiloniërs bedreig het. Eintlik is Babel deur die Pers Kores oorgeneem. Medië (noord) en Persië (suid) het aan die oostekant van Babel/Mesopotamië gelê. Babilonië is rofweg die huidige Irak en Medië-Persië die huidige Iran. Die Mediërs was reeds in Gen 10:2 genoem as afstammelinge van Jafet.
Van dié leërs van Medië-Persië en hulle leiers word gesê dat hulle nie omgekoop kan word – om Babel te spaar met ’n loskoopprys van ’n jaarlikse belasting nie. Hulle gaan Babel verwoes, al die groepe van Babel wat in vers 16 genoem is. Van die invalsmag sê die Here letterlik: ‘Kyk! Ek spoor/wek die Meders aan/op teen hulle…’ (dieselfde werkwoord word in Jes 45:1,13 gebruik, dat die Here vir Kores opgewek of aangespoor het om reg te doen en my ballinge terug te stuur). Die Here sit die hele aksie aan die gang om van Babel rekenskap te eis en sy mag te verbreek.
13:18 herhaal, met ander woorde, wat in 13:16 gesê is (letterlik: jongmanne sal hulle boë in stukke slaan, en op die vrug van die baarmoeder sal hulle geen genade hê nie, op kinders sal hulle oog nie met deernis kyk nie). Hulle word terugbetaal vir wat hulle Juda aangedoen het (Ps 137:8-9).
13:19-22 Babilon verkry nuwe status in die plek van Sodom-Gomorra, wat die ou simbool van God se straf op die sonde was (vgl. Jes 1:9). Die trotse arrogante stad sal ‘n permanente ruïne word, so vernietig en met die grond gelykgemaak dat dit nooit weer sal herstel nie. Weens Babel en sy Galdeër-volk se roem en arrogansie teen die Here en sy volk, word nou aan hulle gedoen wat hulle aan Juda gedoen het (vgl. Jes 47:6; 2 Kron 36:17-20; Jer 50:33) en word hulle verwoes. Die ‘wonderstad van die wêreld’ (sy ‘hangende tuine’ is beskryf as een van die 7 wonders van die antieke wêreld), sentrum van kuns, kultuur en wetenskap, word verlaag tot die status van Sodom en Gomorra, die hoof simbole van die Here se straf en vernietiging.
Nie eers die Bedoeïene skaapwagters sal naby die verwoeste stad kom nie, want roofdiere en wilde diere (o.a. ‘veldduiwels’ letterlik: harige wesens soos bokramme; vgl. Lev 16:21-22) maak dit ‘n verlate en gevaarlike plek, die stad wat eens die sentrum van ‘n wêreldmag was. Dit gebeur nie dadelik nie, al is die waarskuwing bedoel vir enige tiran dat sy ondergang hier is (letterlik: naby om te kom vir haar, en haar dae sal nie verleng word nie). So sluit die paragraaf af, wat in 13:6 begin het met die dag van die Here wat naby is vir sy verwoesting van Babel.
Die eerste verwoesting van Babel (net na Jesaja se tyd) was deur die Assiriese koning Sanherib in 689 v.C. Honderd en vyftig jaar later, in 539 v.C., het die Meders en Perse onder Kores Babel ingeneem. In 518-465 v.C. het die stad agteruitgegaan onder Darius I en Xerxes. In 312 v.C. het die Griek Seleukes-Nikator, Alexander die Grote se generaal, die stad verwoes. Vierhonderd jaar later is Babel nog steeds ’n simbool van die bose. In die Nuwe Testament word na Babel verwys as ‘n simbool van die sedelose vrou (Openb 17) en die antichristelike ryk (Openb. 18).
Skrywer: Prof Francois Malan