Jesaja – Die Visioen van Jesaja (1:1-3) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Tyd en plek van die visioen (1:1)

1:1 Die visioen (chazoon) beskryf die inhoud van die hele boek tot by hoofstuk 66. Die inhoud van die boek getuig van die teenwoordigheid en doel van die Here (Jahweh die persoonlik aktiewe teenwoordige Ek is, Gen 3:14 ). Die boek bied ‘n unieke siening van die geskiedenis met die Here se heiligheid (sy toewyding in liefde) in die sentrum van die geskiedenis, wat verskil van die konvensionele geskiedenis of politieke moontlikhede.

Jesaja word nie genoem as die skrywer van die boek nie, maar sy visioen is die onderwerp van die boek, en impliseer dat die visioen ook sy idees oor die Here oordra (vgl 2:1; 7:1-6; 13:1 en in hoofstukke 6,8, 20,37,38,39 waar Jesaja genoem word). Jesaja geld egter as outeur van hoofstukke 1-39 of dele daarvan, wat in sy en die vier konings se tyd afspeel, toe Assirië die wêreldmag was. In 612 v.C. kom Assirië tot ‘n val en neem Babel oor, wat in 539 v.C. deur die Perse onder Kores ingeneem word. Vanaf Jesaja 40 handel die visoen oor hoe die Here die Perse gebruik om Israel te laat teruggaan na die beloofde land en Jerusalem in 538 v.C., bykans 150 jaar ná Jesaja.

Jesaja sien die Here in die jaar van Ussia se dood (6:1), die sterk koning van Juda wat lank regeer het (766-740; in 2 Kon 15:1-7 word hy Asarja genoem. In sy laaste regeringsjare was hy melaats weens sy arrogansie toe hy eenmaal die mag gekry het, volgens 2 Kron 26:16-21). Sy seun Jotam, wat vir 7 jaar regeer en gedoen het wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 15:34), volg hom op (739-734 v.C., toe Miga begin profeer het, Miga 1:1). Jotam se seun Agas is ‘n swak koning van Juda in die oë van die Here, wisselvallig en onbetroubaar (734-715 v.C.; 2 Kon 16:1-5). Gedurende Agas se tyd word Israel se 10 stamme onder koning Hosea van Israel in ballingskap weggevoer na Assirië (722 v.C; 2 Kon 17:6). Agas se seun Hiskia is koning van Juda van 714-686 v.C. In skerp kontras met sy vader is hy ‘n sterk, onafhanklike en betroubare koning wat die vervalle tempeldiens weer oprig (2 Kon 18-20:21). Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 18:4-8). Jesaja 36-39 handel oor Hiskia se regering, en sluit die tyd af waarin Jesaja gelewe het.

Agas en Hiskia word simbole van die lewe van Israel: Agas is ‘n simbool van Jerusalem se weiering om die Here te vertrou, waardeur Israel misluk en eventueel deur die Here in ballingskap gestuur word om te leer om Hom lief te hê; Hiskia is simbool van die vertroue wat Israel kan hê op die Here, wat lei tot ‘n gemeenskaplike bestaan vir Juda en die oorblyfsels van Israel, tot in die ballingskap en daarna (vgl. 2 Kron 29:1-5; 30:1; 10-13; 31:1).

Die eerste vier hoofstukke van Jesaja berei die leser voor vir ‘n buitengewone siening op die gebeure in die gekiedenis van Jerusalem se godgegewe en godbestuurde bestemming. Vers 1 nooi die leser om deur Jesaja, die ontvanger van die visioen, te kyk na die Outeur van hierdie gesig en die eintlike Bepaler van Jersalem se bestemming, naamlik die Here!

 

‘n Negatiewe oordeel (1:2-3)

1:2-3 Die hemel en die aarde, so wyd as moontlik, God se hele skepping, word opgeroep as getuies van die ongelooflike dwaasheid van God se kinders. Israel word aangekla. Hulle word beskryf as my kinders, wat Hy van kleins af gevoed het en grootgemaak het as Israel vir wie God die nuwe naam gegee het (Gen 32:28; 35:10), as my volk oor wie Hy as koning regeer. Maar hulle het teen My in opstand gekom, gerebelleer, onwillig om die besondere verhouding te erken van kinders wat afhanklik en verbonde is aan hulle Vader, en van ‘n volk aan hulle Koning. Dat hulle hulle rug op hulle Oorsprong en liefdevolle Leier gedraai het, word nou luid bekendgemaak vir almal om te hoor. Israel het opsetlik hulle verhouding verbreek met die God wat met hulle sy genadeverbond gesluit het, dié verhouding wat hulle karakter bepaal as God se volk, as die Here se kinders.

‘n Os en ‘n donkie openbaar ‘n beter oordeel as Israel en weet wat hulle eienaar vir hulle beteken, dat hulle heeltemal van die betroubaarheid van hulle eienaar afhanklik is. Maar anders as die werksdiere wat instinktief weet dat hulle afhanklik is van hulle vertroue op hulle eienaar om te oorleef, weier Israel hierdie basiese vertroue op hulle Eienaar. Die Here kla hulle aan: mý volk ken My nie en gee geen ernstige aandag (aan wat Ek vir hulle doen nie). Hulle steur hulle nie aan die verhouding wat hulle hele lewe bepaal nie, en sal daarom sterwe. Wat ‘n manier om ‘n Bybelboek mee te begin!

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...