Jesaja – Hiskia se loflied Hoofstuk 38:1-22 – Francois Malan

Hoofstuk 38 bevat die lofsang van Hiskia (9-20), wat nie in 2 Konings 20 voorkom nie, maar is hier ingevoeg in die berig oor Hiskia se siekte in 2 Konings. Daarom is 31:21-22 ná die lofsang ‘n eienaardige herhaling van Jer. 38:6-7, wat 2 Kon 20:7-8 blykbaar uit Jeremia oorgeskryf het.

38:1-8 Hiskia se siekte

38:1 Hiskia, wat in Jesaja geskilder word as ‘n model van vertroue op die Here, teenoor sy pa Agas se vrese sonder  vertroue in die Here, word in daardie dae (in dié tyd) ernstig siek (letterlik: siek tot die dood toe). In opdrag van die Here kom die profeet Jesaja aan die koning bevestig dat hy terminaal siek is. Die boodskap brei nie uit op die aard van die siekte nie, maar is ‘n opdrag aan Hiskia om sy sake te reël vir sy familie en vir sy opvolger, want ‘jy gaan sterf en nie lewe nie’.

Hierdie eerste boodskap van die Here en sy tweede boodskap (38:6) bevestig dat die Here die seggenskap het oor lewe en dood.

38:2-3 Hiskia draai sy gesig na die muur toe om met die Here te praat. Hy verwys na sy lewe voor die aangesig van die Here, sy gedrag (in waarheid/trou)  en sy  gesindheid (onverdeelde hart/volle oorgawe), sy dade (wat goed/reg is in U oë).

2 Konings 18:5-6 is nog ‘n mooier beoordeling van Hiskia. Hiskia bid nie om genesing nie, maar hy herinner die Here aan sy lewe voor die Here en laat dit in die Here se hande.  En hy het groot/hardop/bitterlik gehuil voor die Here. Hiskia se gewaarwording op daardie oomblik word weergegee in sy lofsang (38:10-14).

38:4-6  Volgens 2 Kon 20:4 was Jesaja nog in die binneplein van die stad toe die Here se antwoord op Hiskia se gebed kom. Die gebed van sy kinders kan die Here van besluit laat verander (vgl. Moses se pleit in Eks 33:5,17). Die oorspronklike besluit oor Hiskia se sterwe bly, maar die Here stel dit vir 15 jaar uit – ‘Ek voeg 15 jaar by jou dae by’ – ons tye is in sy hand (Ps 31:16). Hiskia gaan egter nie net van sy siekte bevry word nie, maar ook van die hand van die Assiriese koning (wat moontlik bygedra het tot sy siekte?) en die stad sal saam met hom gered word, soos in 37:35 beloof is. Die Here antwoord Hiskia se gebed uit sy goeie guns en ryke genade. Volgens 37:35 doen die Here dit nie omdat Hiskia so’n vroom man was nie, maar om sy eie ontwil en om sy dienaar Dawid se ontwil luister Hy na Dawid se vrome nakomeling (2 Sam 7:16).

38:7-8 Die teken is hier ‘n ekstra gawe wat die Here aan Hiskia gee omdat die Here graag vir Hiskia wil verseker van sy belofte (in v22 vra Hiskia om ‘n teken, soos in 2 Kon 20:8). Die wonderteken in die natuur, dat die skaduwee van die ondergaande son tien trappe terugskuif op Agas se sonwyser (letterlik: trappe), is ‘n bewys dat die Here die normale gang van die tyd kan omkeer, soos wat Hy Hiskia se dood met 15 jaar uitgestel het (vgl. die stilstaande son in Jos 10:12-14). Die teken van God se soewereine seggenskap oor sy skepping bevestig die betroubaarheid van sy belofte, en dat Hy aktief betrokke is by sy skepping as die Here, Die Ek is.

38:9-20 Hiskia se dankgebed en loflied oor die Here

39:9 Die inleiding maak dit duidelik dat die koning hierdie psalm ná die verlossing en sy genesing geskryf het, en dat dit later hier ingevoeg is, ná die teken wat die Here aan Hom gegee het in 38:7-8. Die gedig kom nie in 2 Konings voor nie. Die eerste deel, 38:10-14 gee eers ‘n oorsig oor die ellende waarin hy verkeer het, en begin met ‘Ek het gedink…’ Die tweede deel, 38:15-17 begin met ‘Wat kan ek sê?…’ en besing die Here se verlossing. 38:18-20 is ‘n slot met sy dankbaarheid.

38:10 Die digter sê wat hy gedink en gesê het toe hy voor die poorte van Sjeool, die doderyk, gestaan het – die geslote poorte laat hom dink aan ‘n tronk waaruit hy nie weer kan ontsnap nie; ek is in die bloei van my dae vir die doderyk bestem vir die res van my jare – slegs die Here besluit oor die dag van ons dood. Die koning het duidelik alle hoop op lewe laat vaar en aanvaar dat sy tyd gekom het.

38:11 Hiskia het geen verwagting om in die gemeenskap van die Here te wees in die doderyk, soos wat hy in die tempel die Here se teenwoordigheid beleef het nie, en sal ook nie meer gemeenskap met mense hê nie. Die dood skakel die twee verhoudings uit wat aan die lewe sin en betekenis gee: die verhouding met God en met mense.

38:12-14 Met vyf vergelykings word Hiskia se gemoedstemming oor sy aanstaande dood kleurryk beskryf:

Sy lewe is: So broos en maklik afbreekbaar soos ‘n skaapwagter se tent

Soos geweefde materiaal wat van die weefstoel afgesny is – en nie verder geweef sal word nie

Die Here wat sy bene gevorm het (Ps 139:15)  breek sy bene soos ‘n leeu sy dooie prooi se bene breek

Soos ‘n voël het hy gekerm; soos ‘n duif wat kla (soos die Groenvlerkduifie se “Good Lord deliver us’)

Die digter waag dit om te pleit: Here betaal asb. die borg om my uit my verdrukking te verlos. Dit is ‘n hof term. Hy vra die Here om namens hom te betaal wat dit sal kos om hom te bevry van die bande van die dood.

38:15 Wat sal ek sê? Hy het dit aan my belowe en Hy het dit ook gedoen – sy borg is betaal om hom te bevry van die dood. Hoe sal hy nou lewe? In rou stadig loop oor al die smart wat hy al verduur het? Die idee word dadelik van die tafel gevee.2

38:16 Die vers is ‘n nagmerrie vir vertalers en uitleggers omdat die Hebreeuse teks vermink is, veral in die eerste twee strofes. Here, mense leef met die dinge (my Here het my verberg), en in al hierdie dinge is die lewe van my gees (my hart, laat daar vir jou lewe wees/ek sal daarmee kan saamleef/die HERE het rus vir my gees gegee)O

Oor die laaste twee strofes is daar meer duidelikheid: U sal my genees en my laat leef. In een vertaling spoor die digter se hart en gees hom aan  om te reageer op die lewe wat hy ontvang het.  Ander sien dit as ‘n gebed om te lewe en gesondheid.

38:17  ‘Kyk! vir sjalom (vrede, welwese) was bitterheid bitter vir my’ – die benoudheid van die Assiriese beleg en van sy siekte was vir hom bitter, die lyding het egter bygedra tot sy goeie lewe wat gekom het, want ‘U het my lewe uit die put van vernietiging uit liefgehad/weggehou, want U het al my sondes agter U rug gegooi’ (vgl. Jes 43:25; Ps 103:12 –  God se genade het Hiskia se verlossing bewerk, soos hy Jerusalem van vernietiging deur die Assiriërs gered het (hier is ‘n aanduiding van die Ou Testament se algemene gebrek aan ‘n positiewe verwagting oor die lewe na die dood).

38:18 Teenoor dié wat nog lewe (v19), stel vers 18 die onmoontlikheid om die Here te loof/bely en te prys in die doderyk (dié wat daar is) en die dood (dié wat dood is). Die dooies is afgesny van God en die aanbidding van God (so anders as die verwagting van die Nuwe Testament met ‘n groot menigte voor die troon en die Lam, Openb 7:9-17). Die getrouheid/trou/waarheid van die Here word in verse 18 en 19 onderstreep. Niemand in die put (van die dood) kan meer hoop op die getrouheid van die Here nie.

38:19 ‘die lewende, net die lewende sal U dank, soos ek vandag; die vader sal U getrouheid/trou/waarheid aan die kinders bekendmaak.’ Hiskia sien sy verlossing en genesing as die gevolg van God se getrouheid (emet) wat veel groter is as Hiskia se getrouheid (emet) waarop hy gepleit het in 38:3, want die Here het hom uit die dood gered, en al sy sondes vergewe (38:17). Die trou van die Here is meer fundamenteel as die rede vir redding, meer wesenlik vir die lewe, en meer deurslaggewend dat die dood nie die laaste sê het nie. Dit word aan die kinders vertel. Die redding van die koning is gegrond in die karakter van God as die getroue. Die klem van dié deel van die gedig is op die Here en sy getrouheid.

38:20 Die opsomming van die gedig is: God red/ons sing. ‘Jahweh (die aktief teenwoordige Ek is) is daar tot my redding! En ons sal al die dae van ons lewe met begeleiding van snaarinstrumente in die huis van die Here sing.’ Wat kan Israel anders doen ná so’n wonderwerk as om uitgelate te sing en te jubel oor die onverstaanbare wat gebeur het om Jersusalem te red. Geen verklaring word gegee vir die gebeure nie – slegs ‘n blye oorgawe van hulle lewe aan die HERE van die lewe (Ps 23:6) vir hulle verlossing.

38:21-22 word uit 2 Konings 20:7-8 aangehaal, sonder die melding van die vyekoek, terwyl die genesing en teken reeds in 38:7-8 gestel is.

Skrywer:  Prof Francois Malan