Jesaja – Geen uitweg vir Jerusalem nie (36:11-22) – Francois Malan
Jerusalem is heeltemal vasgespin in die web van Assirië, hulpeloos met geen uitweg nie!
36:11 Die eerste antwoord van die drie afgevaardigdes van Hiskia is geen antwoord nie, maar ‘n versoek om sagter te praat in die taal van Assirië wat Hiskia se drie amptenare verstaan, sodat die volk wat op die stadsmuur sit nie die uitdagings hoor en verstaan hoe ernstig die toestand is nie. Van hulle het uit hulle dorpe, waar Hiskia hulle afgodsaltare afgebreek het, na Jerusalem gevlug tydens Assirië se opmars.
36:12 Deel van Assirië se strategie is juis propaganda om die volk se vertroue op die Here en ondersteuning vir Hiskia af te breek (vgl. Deutr. 20:8). Die gevolge vir die volk word nou hard uitgespel sodat hulle kan hoor wat met hulle sal gebeur as hulle op die Here en Hiskia vertrou. Dit is sielkundige oorlogsvoering voor die slag.
36:13-15 Die tweede toespraak, 36:13-20, is teen die versoek van vers 11 met ‘n luide stem gerig aan die bevolking in Hebreeus, die ‘taal van die Judeërs,’ om ‘n wig in te dryf tussen die bevolking en hulle koning en sy vertroue op die Here. In die eerste toespraak het die hoofadjudant reeds gesê die Here kan hulle net so min help as Egipte. Nou wil hy hulle vertroue op Hiskia ondermyn.
Waar die tema van die eerste toespraak Jerusalem se ‘vertroue’ is, is die tema van die tweede toespraak of die Here of enigiemand Jerusalem uit die hand van Assirië kan ‘red.’ Die woord ‘red’ word sewe keer gebruik (36: 14, 15, 18, 18, 19, 20, 20).
36:16-17 Ten tweede maak die Assiriese koning ‘n positiewe teen-aanbod:’ maak ‘n vredesverbond met my en kom uit na my toe…’ dit beteken gee oor aan my. Die eufemisme verberg nie die werklikheid nie. Die oorgawe word in twee dele aangebied: daar sal eers ‘n tussentyd van vrede wees met elkeen sy eie wingerdstok, vyeboom, put waarvandaan hulle gevlug het om in Jerusalem te kom skuil. Die ellendige situasie in oorvol Jerusalem sonder kos en water maak die aanbod baie aantreklik. Maar die langtermyn strategie is verbanning uit hulle eie land om te verhoed dat hulle teen Assirië sal rebelleer, na ‘n vrugbare ander land met koring en wyn, maar in ballingskap.
Soos Sanherib die doel van die Here met Assirië, as sy stok om Israel te slaan, misverstaan het (36:10), verstaan Sanherib ook nie dat geen ander land die Judese bevolking se land, wat die Here aan hulle gegee het, kan vervang nie.
36:18-20 Niemand kan tog dink dat die Here hulle uit die hand van die magtige Assirië kan red nie. Geen ander god van die lande, wat Assirië reeds ingeneem het op pad na Juda toe, kon hulle red uit Assirië se hand nie. Soos hy die betekenis van land van Juda misverstaan het, verstaan die Assiriër ook nie die God van Juda nie, die Here is anders as die ander gode.
Die gevolgtrekking van die tweede toespraak is dieselfde as van die eerste: Juda het geen opsie nie – nie ‘n militêre of ‘n godsdienstige nie. Almal moet buig voor die mag en wil van Assirië.
36:21-22 Die eerste reaksie van die Joodse leiers in verse 11-12 is kort en gedemp. Met die Assiriër se tweede toespraak daag hy Juda minagtend uit en minag hy selfs die Here wat hom sou gestuur het (36:10), en hulle reaksie kom in drie fases: eers bly hulle net stil omdat hulle niks te sê het om te bewys dat die Here anders is as die ander gode nie (volgens 2 Koning 18:36 is dit die manskappe op die mure wat stilbly). Verslae kom die drie koninklike gesante met geskeurde klere by Hiskia aan met hulle verslag van die onderhandelings, as teken van hulle neerlaag en rou oor Jerusalem se sekere ondergang, aangesien die res van die hele Juda reeds deur Assirië ingeneem is.
Skrywer: Prof Francois Malan