Jesus antwoord op besware van die Jode (6:41-51)

image_pdfimage_print

Jesus antwoord op besware van die Jode (6:41-51) – Francois Malan

6:41 Na Jesus se verklaring dat Hy die brood uit die hemel is, het die Jode teen God en sy Gesant gemor, soos Israel in die woestyn (Eks 15:24; 16:2; 17:3; Num 11:1,4; 14:1).  Ps 78:18-22 sê hulle het God daarmee getart en Hom uitgedaag. Nou glo die Jode ook nie in Jesus nie, en vertrou nie op Hom as die lewegewende Brood nie.

6:42 Wat hulle wel van Jesus ‘gesien’ het, en ken, is dat hulle sy pa en ma ken, gewone mense. Hoe kan Hy beweer Hy kom uit die hemel? Vir hulle sluit sy bekende aardse herkoms sy hemelse afkoms uit. So kan die Messias tog nie verskyn nie, so gewoon, so nederig, so verklaarbaar egte mens. Hier is weer die tipiese misverstand van die ongeloof, wat telkens in hierdie Evangelie opduik. Die menswording van die Seun van God was en bly die groot struikelblok vir die Jode, vandag nog. Maar nie net vir die Jode nie.

 

6:43-44 Jesus gaan nie op hulle argument in nie, maar vermaan hulle om nie onder mekaar te mor nie. Die positiewe stellings van verse 37,39,40 oor die wil van die Vader en dat Hy mense gee om in Jesus te glo, word hier skerp negatief gestel: Niemand kan na Jesus toe kom as die Vader hom/haar nie na Hom toe trek nie. Dit geskied deur die werking van die Heilige Gees in die harte van mense. Vir die derde keer gee Jesus die versekering dat Hy elkeen wat die Vader vir Hom gegee het/na Hom toe getrek het, op die laaste dag sal laat opstaan uit die dood. God se genade begin by ‘n mens om jou na Jesus toe te trek, en word voltooi met jou opwekking. Dit is ‘n indirekte oproep tot die Jode om Jesus aan te neem.  

 

6:45 Jesus verwys na Jesaja 54:13 wat in Hom vervul word. Elkeen wat die Vader gehoor het en by Hom geleer het, kom na My toe. Dit is hulle wat die Vader na Jesus toe ‘trek’ (v44), wat gehoor gee aan God se woord en gewillig is om deur Hom geleer te word. Hulle glo in Jesus as die Seun van God wat self vir ons kom leer het (vgl. Jeremia 31:33; 1 Tessalonisense.4:9). God se Woord het mens geword en deur die Heilige Gees woon sy Woord/woord in ons.

 

6:46 Om misverstand te voorkom, asof enigiemand vir God direk sou ‘sien’, sê Jesus dat net Hy die Vader gesien het (vgl. 1:18). Maar wie die Seun ‘sien’ en in Hom glo, sal die ewige lewe hê (v40; 14:9). Dit is deur die Seun dat God die mense leer.   

 

6:47 Die mens se verantwoordelikheid word voorop gestel, ingelei met ‘voorwaar, voorwaar’ om die erns en sekerheid daarvan aan te dui. In die geloofskeuse vir Jesus word die welbehae van die Vader voltrek. Jesus is die ewige lewe (14:6). In die geloof gee die gelowige sy selfhandhawing prys en werp homself slegs op God vir sy behoud, nie op menslike moontlikhede nie.

 

6:48 Op grond van sy uitspraak in vers 47 oor geloof in Hom, herhaal Jesus sy uitspraak wat aanstoot gegee het (v41). Daarmee word die volgende verse ingelei oor hoe in Jesus geglo moet word, en wat die ewige lewe inhou.

 

6:49 Jesus kom terug op die Jode se argument in v31. Hulle voorouers het wel in die woestyn God se manna geëet, waarmee hulle liggaamlik gevoed is, maar dit het geen uitwerking gehad op die lewe na die dood nie. Hulle het almal gesterwe.

 

6:50 Die brood wat uit die hemel kom,  moet geëet word om nie te sterf nie. Die metafoor word in vers 51 verduidelik, maar is reeds in verse 41en 47 uitgespel: Jesus is die brood van die lewe, en om die brood te eet, beteken om in Hom te glo. ‘Gesterwe’ in v49 verwys na die liggaamlike dood van die voorouers in die woestyn. ‘Nie te sterf nie’ in vers 50 verwys na die ewige dood as jy nie in Jesus glo nie.

 

6:51 Die kontras tussen die manna van die voorouers wat gesterf het (v49) en Jesus as die brood wat lewe gee (v50) is ‘n waarskuwing aan die Jode van Jesus se tyd (en latere lesers) sodat die lot van die voorvaders hulle nie tref nie, en is ‘n oproep om te ‘eet’ en te lewe. Die twee redes waarom die Brood die lewe gee is (i) die ‘lewende brood’ het uit die hemel neergedaal, die Woord van God het mens geword (1:14), en Hy het die lewe in Homself (5:26); (ii) die ‘brood’ is sy liggaam wat Hy as offer gaan gee vir die lewe van die wêreld – Hy gaan sterf sodat die wêreld mag lewe (10:11,15; 11:51,52).  Johannes  6:4 plaas hierdie gesprek in die tyd van die paasfees van die Jode met die slagting van hulle paaslammers, en Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29). 

            Hier plaas Johannes die klem op Jesus se dood vir die lewe van die wêreld (vgl. 3:16; 12:32,33). Vir die lewe van die wêreld word die Seun van God met sy swakke menslike liggaam aan die kruis gehang as die ‘Brood uit die hemel’ wat ‘geëet moet word en nou reeds deel word van die ewige lewe.

            Vir die Jerusalemmers was die verbreking van die sabbat die steen des aanstoots – tussen hulle en Jesus staan hulle wettisisme. Die Galileërs word van Jesus geskei deur hulle wêreldse begrip van die Messias – hulle verwag ‘n Moses met  daaglikse manna. As die gekruisigde is die Messias egter die ewige lewensbrood.   

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...