Jesus deur die Hoëpriester ondervra en drie maal deur Petrus verloën (18:12-27)
Jesus deur die Hoëpriester ondervra en drie maal deur Petrus verloën (18:12-27) – Francois Malan
18:12-14 Die kommandant (letterlik:owerste oor duisend) laat Jesus arresteer en boei as ‘n misdadiger. Hulle neem Hom eers na Annas vir ‘n voorverhoor (wat nie in die Sinoptiese Evangelies genoem word nie).
Hoëpriester en voorsitter van die Sanhedrin Romeinse goewerneur in Palestina
6-15 n.C. Annas aangestel deur 6-9 n.C Koponius
9-12 Ambibulus
12-15 Rufus
afgesit deur 15-26 Valerius Gratus
18-36 Kajafas aangestel deur Valerius Gratus
(Annas se skoonseun) 26-36 Pontius Pilatus
afgesit deur 36 Marsellus
36-37 Jonatan aangestel deur Marsellus
(seun van Annas) 37-41 Marullus
Al het die Romeine Annas afgesit behou hy onder die leiers en die volk steeds sy gesag veral oor sy skoonseun en vyf seuns en een kleinseun, wat van tyd tot tyd deur die Romeine aangestel was as hoëpriesters (Luk.3:1 noem hom en Kajafas saam hoëpriesters; vgl. Hand.4:6). Johannes identifiseer wie Annas is nadat Kajafas reeds in 11:49-52 voorgestel is (die ander Evangelies vertel niks van ‘n voorverhoor voor Annas nie). Die tempelkompleks was snags gesluit, en die Joodse Raad het die nag dus onwettig in die hoëpriesterlike kompleks vergader, waar Annas ook in ‘n afdeling gebly het. Die Hoëpriesters van die tweede tempel het ‘n slegte reputasie onder die volk gehad as mense wat met omkoopgeskenke deur die Romeinse regering aangestel is, en met lis en geweld hulle wil op die priesters en die volk afgedruk het.
18:15-16 By die hoëpriesterkompleks word Petrus en die ‘ander dissipel’ in die binnehof toegelaat. Wie die ‘ander dissipel’ was, is onbekend. (sy bekendheid by die hoëpriester pas nie by die visser Johannes uit Galilea nie. As die ‘geliefde dissipel’ nie Johannes was nie, kon hy dalk die ‘ander dissipel’ gewees het, wat miskien die Evangelie geskryf het, soos baie teoloë dink. Johannes laat ons egter in die duister oor ‘n paar name, o.a. 19:34 die soldaat wat die spies in Jesus gesteek het,die ander twee dissipels van 21:2, en die ‘geliefde dissipel’).
18:17 Slegs Johannes sê dat die slavinnetjie, wat vir Petrus gekonfronteer het, die poortwagter was. Petrus verloën eintlik sy eie dissipelskap van Jesus, maar daarmee indirek vir Jesus (13:38). Die slavin se vraag het die opening vir Petrus gelaat: Jy is tog nie een van hierdie man se dissipels nie? suggereer ‘n negatiewe antwoord. Petrus se swakkeling-antwoord ‘Ek is nie’ (ouk eimi) staan in skerpe kontras met Jesus se vreeslose ‘Ek, Ek is’ (egoo eimi,18:5). Petrus se toets het anders begin as wat hy hom voorgestel het met sy brawe uitspraak in 13:37 en met sy konfrontasie met die skare soldate en wagte (18:10). Hy faal egter die toets deur ‘n onskuldig-klinkende vraag van ‘n nederige slawemeisie.
18:18 So onopsigtelik moontlik skaar Petrus hom by die slawe en diensknegte se houtskoolvuur in die lente-koue. Deur hom met die hoëpriester se diensknegte te assosieer kruip hy weg vir enige verband met die Gevangene.
18:19-21 Annas wyk af van die gewone Joodse hofprosedure van getuies wat iemand beskuldig en as hulle saamstem word die man veroordeel, sonder dat hy homself kan verdedig (Deutr.17:6; 19:15). Dit is daarom dat Jesus vra waarom Annas Hom ondervra. Annas se twee vrae begin oor Jesus se dissipels, maar Jesus praat nie oor hulle nie. Hy antwoord slegs oor Homself (twee maal sê Hy met nadruk ‘Ek,’ bygevoeg by die drie werkwoorde in die eerste persoon). Die vraag oor sy leer verwys Hy na die mense wat Hom en sy leer in die openbaar in die sinagoges en die tempel gehoor het. Volgens Deutr. 13:1-10 kom die valse profeet na ‘n enkeling om hom aan te hits tot opstand teen die Here en sy wil, om ander gode te dien (13:1-5) en doen dit in die geheim om jou tot ander gode te verlei (13:6). ‘n Valse profeet verdien die doodstraf (13:5,9) volgens hulle wet. Annas lok Jesus uit om Homself te inkrimineer. Maar Jesus sien deur sy poging en verklaar dat Hy met die mense (letterlik: die mensewêreld) in die openbaar en met vrymoedigheid gepraat het, nie om mense te verlei om ander gode te volg nie. Reeds in 7:12,47 het van die Jode gesê Hy verlei die mense.
18:22-23 ‘n Lid van die tempelpolisie meen hy moet die eer van God se hoëpriester beskerm met ‘n beledigende klap in die gesig van die Seun van God, wat nie voor Annas skuldig bewys is nie – ‘n optrede wat strydig is met die reëls van die Joodse Raad. Jesus verdedig die reg: as ek verkeerd (kakoos sleg) gepraat het, sê dit (letterlik: lê getuienis af – nl. voor die hof van ondersoek) van die boosheid (kakos) – daarvan; as dit reg (kaloos goed) is, waarom slaan jy my? Jesus ontken enige geheime of ondermynende optrede en vereis dat hulle getuies roep om onder eed te kom getuig waarin Hy die mensewêreld sou verlei het (18:19-21). Jesus eis dat reg en geregtigheid in die wêreld en veral in die kerk sal geskied.
18:24 Annas sien hy kan geen bewyse vind of self eer verkry uit hierdie vreemde Aangeklaagde nie, en stuur Hom geboeid na Kajafas, die hoëpriester. Annas erken daarmee dat hy nie dink Jesus is onskuldig nie (Annas het waarskynlik gebaat by die verkopings en geldwisselary wat Jesus uit die tempel verdryf het, 2:14-16, en is waarskynlik nog kwaad daaroor).
18:25-26 Terwyl Jesus geboeid maar vreesloos voor die hoëpriester vir die reg opkom, maak Petrus sy hande warm by die vuur van die diensknegte van die hoëpriester. Soos met die slavinnetjie het hulle vraag ook die opening vir Petrus gelaat: Jy is tog nie een van hierdie man se dissipels nie? Die vraag suggereer ook ‘n negatiewe antwoord. Petrus se tweede verloëning van sy dissipelskap, en daardeur vir Jesus, is weer: Ek is nie.
18:27 Die familielid van Malgus se vraag word so gestel dat ‘n positiewe antwoord verwag word: Het ek jou dan nie saam met hom in die tuin gesien nie?
Vir die derde maal verloën Petrus sy verbintenis met Jesus, en direk daarna kraai die haan, soos Jesus vir Petrus gewaarsku het (13:38). [In Bach se Matteus-passie kraai die haan ‘n paar note hoër op die wysie van Petrus se ‘Ek ken die man nie,’ as eggo van Petrus se ego, wat daardeur afgeblaas word, saam met die aankondiging van die aanbreek van die nuwe dag]
Die drie maal se verloëning word deur al vier Evangelies vertel, maar verskil in die besonderhede daarvan, veral oor die plek daarvan, hier in Annas se binnehof, by die ander drie in Kajafas se binnehof. In Markus 14:69 is dit dieselfde diensmeisie wat hom die tweede keer konfronteer, in Lukas 22;58 ‘n ander manlike persoon. Net Johannes identifiseer die derde ondervraer.
Skrywer: Prof Francois Malan