Jesus is die opstanding en die lewe (11:17-27)
Jesus is die opstanding en die lewe (11:17-27) – Francois Malan
11:17 Die inwoners van Betanië het Jesus skynbaar tegemoet gegaan en die nuus meegedeel oor Lasarus se dood vier dae tevore. Volgens gebruik is Lasarus op die dag van sy dood begrawe (in die Joodse gedagte het die gees van die mens nog vir drie dae naby die graf vertoef, en dan eers finaal verhuis). Vir almal is dit duidelik dat die ontbinding reeds begin het. Terwyl die opwekking van die dogtertjie van Jaïrus en die seun van die weduwee van Nain op die dag van hulle sterwe geskied het, is daar geen twyfel dat Lasarus finaal dood is nie.
11:18-19 Betanië lê 15 Griekse stadia, dit is ongeveer 3 km van Jerusalem af, net aan die anderkant van die Olyfberg, minder as ‘n uur se stap. Die suggestie van die skrywer is dat die mense wat kom simpatiseer het met Lasarus se dood van Jersusalem af gekom het, en dat hulle getuies in Jerusalem kan word na wat met Lasarus gebeur. Johannes gebruik ‘die Jode’ telkens om die vyande van Jesus aan te dui. Die gebeurtenis sal ‘n finale beroep op hulle wees om Jesus as die Messias te aanvaar, maar hulle besluit om die teenoorgestelde te doen (v45 e.v.).
11:20-22 Maria, die stille, nadenkende (Lk 10:38-42), sit in die huis en rou. Marta, die aktiewe een, reageer op die berig dat Jesus aan die kom is, gaan Hom tegemoet en verwoord haar verdriet met haar geloof in Jesus se wondermag deur sy verhouding tot God. Sy glo Hy sou haar broer kon genees het. Nou is dit te laat, maar al is hy nou dood, glo sy nog in Jesus se almag – wat Hy ook al van God vra, sal God aan Hom gee. Sy wonderdade sien sy as gebedsverhorings deur God. Haar broer se dood het nie haar geloof in Jesus vernietig nie. Sy verwag egter nie ‘n opwekking uit die dood nie (v39), maar is seker van die krag van Jesus se gebed in alle gebeurlikhede.
11:23-24 Jesus se profetewoord is dubbelsinnig en openbaar die diepste geheimenis van Jesus se wese: ‘jou broer sal opstaan’. Marta verstaan dit as ‘n verwysing na ‘die laaste dag’ wanneer almal wat die stem van die Seun van die mens hoor, sal uitgaan uit die grafte, en opstaan tot die lewe of tot veroordeling, soos Jesus gesê het in Jn 5:28-29 (die Sadduseërs het dit nie geglo nie, die Fariseërs wel, Hand. 23:7-8. Onder invloed van die Griekse onsterflikheidsleer het die gedagte van lewe na die dood begin posvat onder die Jode, vgl. Daniël en die 2e eeu v.C. se boek Henog). Johannes is die enigste NT skrywer wat die uitdrukking ‘die laaste dag’ gebruik (6:39,40,44,54; 12:48). Die ander Bybelskrywers verwys na die tyd voor die wederkoms as ‘die laaste dae’ (Hand.2:17; 2 Tim 3:1; Jak 5:3). Vir Marta beteken die opstanding op die laaste dag berusting, met hoop op die toekoms.
11:25-26 Marta se nie-verstaan-nie kan slegs deur Jesus self opgelos word deur sy selfopenbaring: ‘Ek is die opstanding en die lewe…’ “Ek is’ verwys na Eks 3:14 (God se selfopenbaring aan Moses ). Die koninkryk van God, wat Marta verwag op die laaste dag, met al sy seëninge vir die mensdom, is gesetel in Jesus. Marta verwag die ewige lewe wat begin met die mens se opstanding uit die dood. Jesus het gekom om dié opstanding moontlik te maak met sy sterwe en opstanding uit die dood, en die lewe nou reeds in oorvloed te skenk aan ‘wie in My glo’ al sterf hy/sy ook, ‘en elkeen wat (nou) lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.’ Marta kyk nog na die verre toekoms. Jesus staan voor haar. Wie in Hom glo het reeds opgestaan en het deel geword van die ewige lewe in jou verhouding met God, die Ek is, wat die opstanding en die lewe is. En jou verhouding met Jesus word nie deur die aardse sterwe beïnvloed nie. Jesus vra vir Marta: ‘glo jy dit?’ Dit is noodsaaklik dat Marta dit te begryp en Jesus te vertrou, voordat sy reg sal verstaan wat Jesus nou gaan doen.
11:27 Haar antwoord gaan verder as ‘n blote ‘Ja’. Dit is ‘n volle verklaring van geloof in Jesus (i) as die verwagte Christus (Grieks vir ‘Gesalfde’, Messias in Hebreeus), Israel se ‘Gesalfde’ koning wat hulle kom verlos; (ii) dat Jesus die Seun van God is, meer as die aardse Messias wat hulle verwag (vgl. Jn 1:49). (iii) die Een wat aan kom is na die wêreld – Ps 118:26, vgl. Mt 11:3; deur die profete aangekondig, deur God gestuur, wat God se beloftes kom vervul, die Redder van die wêreld (Jes.25:8). Die minderbekende Marta gee die betekenisvolle getuienis oor Jesus.
Skrywer: Prof Francois Malan