Jesus is groter as Abraham en die profete (8:48-59)
Jesus is groter as Abraham en die profete (8:48-59) – Francois Malan
8:48 Smalend antwoord die Jode: ons het tereg gesê – reeds tevore so oor Jesus gepraat: Jy is ‘n Samaritaan en het ‘n duiwel. Die Jode het die Samaritane verag, gehaat en beskuldig van towery (vgl. Hand.8:9); Jesus het gesê die duiwel is hulle vader – die Jode beantwoord dit met: jy het ‘n duiwel – is een van die onderdane van die duiwel (vgl. Mat 12:24; Mk 3:22).
8:49 Jesus ignoreer die skimp dat Hy ‘n Samaritaan is – Hy het immers ook vir die Samaritane gekom (4:40-42). Maar die beskuldiging dat Hy ‘n duiwel het, word weerlê deur sy woorde en dade, nl. dat Hy die wil van sy Vader doen en daardeur die Vader eer. Maar hulle verwerp sy woorde en doen Hom oneer aan met hulle belediging, en daarmee ook aan God, sy Vader.
8:50 Christus kom egter nie vir sy eie eer op nie. Daar is Een wat dit soek en oordeel, en Hy is die Regter in hierdie geding tussen Jesus en die Jode. Hulle ‘soek’ Hom met bose bedoelings, naamlik om Hom dood te maak (5:18; 7:1,19,25,30; 8:37,40, ens.). Sy Vader ‘soek’ om sy Seun te verheerlik en aan Hom goddelike eer te gee (8:50,54; 11:4; 13:31-32; 16:14). Voor die regterstoel van die Vader sal die Jode moet rekenskap gee van die oneer wat hulle Jesus aandoen (8:49).
8:51 Voorwaar, voorwaar, verseker Jesus hulle: as iemand sy woord steeds gehoorsaam deur dit te glo, daaraan vas te hou, dit te doen, en daarvolgens te lewe, het hy reeds deel vaan die soort lewe wat die fisiese dood nooit kan uitwis nie. Die koninkryk van God het gekom, in die lewe, bediening, dood en opstanding van Jesus, en in sy stuur van die Heilige Gees. Die lewe is beskikbaar vir elkeen wat in Jesus glo. Die verwysing na die Regter (v50) gee daartoe aanleiding dat Jesus die uitspraak maak oor die bestemming van die mens wat in Hom glo. Sy woord is die volle omvang van sy prediking, die blye boodskap van verlossing. Hy is die Woord van God, die versoening van ons sonde voor God, wat ons kinders van God maak (vgl. 5:24 het die ewige lewe). Vir die Jode is dit andermaal ‘n uitnodiging om Jesus te aanvaar as die Woord van God
8:52 Die Jode maak sy uitnodiging af as onsin van ‘n mal man, deur sy woord hulle mis te verstaan. Hulle verstaan die woord ‘dood’ as liggaamlike dood, en verstaan die woord ‘ewigheid’ as ‘nooit nie’. ‘n Ewige voortsetting van die liggaamlike lewe is ondenkbaar – van die ‘ewige lewe’ het hulle geen begrip nie. Abraham, die voorvader van die volk Israel, en die profete, wat in die Gees van God gewerk het, die groot godsmanne van die verlede, het gesterf – dit is die menslike ervaring van die dood. Uit hulle ongeloof weet hulle Hy het duiwel.
8:53 Hulle meen Hy oorskat Homself en sy volmag mateloos, en dit teenoor die groot manne uit die verlede van God se openbaring aan die mens. In 5:18 was hulle oordeel: Hy maak Homself gelyk aan God – want God alleen is ewig en kan ewige lewe gee. Daarom was sy woorde vir hulle godslasterlik. Die Jode interpreteer sy woord as grootdoenerige voorgee om ‘n mag te besit wat Hy nie het nie.
8:54 Jesus antwoord op hulle vraag. Hy soek nie sy eie eer nie (v50). Sy Vader sal Hom verheerlik as Hy verhoog word aan ‘n kruis en alle mense na Hom toe trek (3:14; 12:32-33), soos ‘n graankorrel wat sterf om baie vrug te dra (12:23-24). Dit is die kloof tussen Jesus en die Jode se idee van God en van Jesus. God se manier om Jesus te verheerlik is deur sy selfopoffering, deurdat God self ‘n swakke mens word onder mense (1:14) en ‘n skandelike dood sterf om mense aan die dood te ontruk en aan hulle die ewige lewe te gee. Sy selfopoffering is so ver van selfverheerliking af as die hemel van die hel. En hulle durf van die Vader sê dat Hy hulle God is!
8:55 Hulle ken nie die God op wie hulle hul beroem nie! Hulle het ‘n verkeerde idee oor God. Jesus ken Hom en as Hy sou sê dat Hy God nie ken nie, sou Hy ‘n leuenaar wees, soos hulle – wat sy dood soek (8:44). Die Seun ken die Vader in die allernouste manier, waarby geen mens kan kom nie. Jsus hou Hom gebonde aan die woorde van die Vader om in gehoorsaamheid te doen en te sê wat die Vader aan Hom opdra.
8:56 Abraham het hom uitermate verheug oor die dag van Jesus, oor sy koms na die wêreld. Dit is so anders as die Jode wat nie deel in hulle voorvader se vreugde oor Jesus nie. Abraham het hom verheug oor die blye vooruitsig van ‘n nakomelingskap op grond van God se belofte (Gen.12:3). In die seun wat aan Abraham beloof is sou al die volke van die aarde geseën word. Abraham het wel die vervulling daarvan gesien en hom verbly – waarskynlik vanuit die hemel (vgl. Luk. 16:22).
8:57 Die Jode hou vas aan die letterlike betekenis van Jesus se woorde en dit lei tot ‘n nuwe misverstand. Hulle lei af dat Jesus vir Abraham gesien het. Dit is tog onmoontlik aangesien Jesus nog nie eers 50 jaar oud is nie. Volgens Num 4:3, 39; 8:24-25was die werksjare van ‘n Leviet van hy 30 word tot hy aftree op 50. Jesus is nog nie eers ‘n senior nie, en as ‘n junior maak Hy daarop aanspraak dat Hy Abraham gesien het, wat eeue gelede geleef het. Die aanspraak van Jesus is vir hulle lagwekkend, en duidelik ‘n leuen, omdat hulle nie sy godheid raaksien nie.
8:58 Weereens bevestig Jesus sy volgende woorde as die absolute waarheid: ‘Voor Abraham geword het, is Ek.’ Die kontras word onderstreep tussen ‘n bestaan wat met geboorte begin (vgl. Joh.3:6 wat uit die mens gebore is, is mens) en die ewige ‘Ek is’ wat Hom aan Moses bekendgemaak het (Eks 3:14; die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, Eks. 3:15; vgl. Ps 90:2). Jesus se woord ‘voor Abraham was, is Ek’ is die grond vir die belofte van die verlossing van God se volk. Daarom kan Jesus die ware vryheid gee (Jn 8:31-32) en die lewe wat die dood oorwin (8:51).
8:59 Die Jode begryp dat Jesus Hom met God gelyk gestel het. In hulle oë is dit godslastering, waarvoor iemand gestenig moet word (Lev. 24:16). Maar dan moes hy eers deur die Raad verhoor en skuldig bevind word. Maar in hulle woede dink die Jode nie aan die regsproses nie. Hulle wil die wet in eie hande neem en begin klippe optel om Hom te stenig. 1983-vertaling: ‘Maar Jesus het gaan skuil’ – letterlik staan daar: ‘Maar Jesus is verberg’; die werkwoord is ‘n passief (vgl. sy optrede in Nasaret toe hulle Hom by die krans wou afgooi, Lk 4:30) . Sy ‘uur’, deur God bepaal, het nog nie gekom nie (2:4; 7:30; 8:20). En Hy het van die tempel af weggegaan.
Skrywer: Prof Francois Malan