Jesus kom gou – Hermie van Zyl

Jan Smith vra:

Onderwerp: Matt 16: 28

Boodskap Teks: Die Skrif sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.

Die inhoud van die teks is nie vir my duidelik nie.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie sogenaamde nabye verwagtingstekste of termynuitsprake van Jesus is seker van die moeilikste om vanuit ons konteks, amper 2000 jaar later, te verstaan. Want ‘n mens se eerste reaksie is: Maar dan was Jesus mos verkeerd in sy “voorspelling” dat Hy nog in die leeftyd van die eerste Christene sou terugkeer aarde toe, m a w, dat die wederkoms van Christus binne enkele jare na sy eerste koms sou plaasvind.

Om hierdie verse te verstaan, moet ons egter die hele saak vanuit die eerste eeuse konteks benader, en nie in die eerste plek vanuit óns konteks nie. Laat ek verduidelik.

Hierdie uitsprake dat Jesus “nog in hierdie geslag” met krag sal kom in sy koninkryk, kom in Matt 16:28; Mark 9:1; Luk 9:27; Matt 24:34; Mark 13:30 en Luk 21:32 voor. Eersgenoemde drie het met Jesus se profesie oor sy naderende dood te doen, en laasgenoemde drie kom in die sogenaamde profetiese rede van Jesus oor die “eindtye” voor. Bloot die feit dat hierdie nabye verwagtingstekste in twee verskillende kontekste voorkom – in uitsprake oor Christus se naderende lyding in Jerusalem, en in dié oor die eindtye – wys dat mens versigtig moet wees om te sê dat hulle uitsluitlik op die wederkoms van toepassing is. Die bewoording van hierdie tekste dui ook daarop dat hulle nie pertinent van Jesus se “terugkeer” of “wederkoms” praat nie, maar van “hierdie geslag” of “sommige wat hier staan” wat nie “die dood sal smaak” voordat “die koninkryk (in krag) gekom het”/ “hulle die koninkryk gesien het” nie. Baie geleerdes interpreteer dit dan ook so dat hierdie tekste primêr op die kruisiging en opstanding van Jesus betrekking het. Ander noem dat hulle ook op die uitstorting van die Heilige Gees op die pinksterdag of op die val van Jerusalem in 70nC kan slaan. Veral laasgenoemde was vir baie Jode en Jode-Christene so ongeveer die einde van die wêreld. So gesien handel al hierdie gebeure oor die koms van die koninkryk (in krag) en het dit in die meeste van die aanvanklike hoorders se leeftyd plaasgevind. In daardie sin het Jesus se profesie dus reeds in vervulling gegaan teen die laaste helfte van die eerste eeu nC.

Soos wat die tyd aanbeweeg het (tweede eeu nC en verder), het hierdie tekste egter ‘n eksklusiewe toepassing op die wederkoms van Christus begin kry. So gesien is die koms van Jesus in krag nog ‘n uitstaande werklikheid, maar het die nabyheid en dringendheid daarvan weens die tydsverloop uit die meeste Christene se eindverwagtinge verdwyn. So was dit egter nie in die eerste eeu nie. Die vroeë kerk het ‘n dringende wederkomsverwagting gehad, vgl 1 Kor 7:26-31 waar Paulus sê dat die tyd min is en dat mense liefs moet bly soos hulle is; hulle moet bv nie gedruk voel om ten alle koste getroud te kom nie.

Saamgevat: Matt 16:28 en parallelle tekste kan slaan op Jesus se koms (met krag) tydens sy kruisiging, opstanding, uitstorting van die Heilige Gees, val van Jerusalem én wederkoms van Jesus. Dit is nie vreemd dat profetiese uitsprake meervoudige toepassings het nie; trouens, dit is kenmerkend van sulke uitsprake dat hulle eerder ‘n aanspraak maak op die verbeelding as dat hulle eksakte voorspellings is en daarom net een spesifieke gebeure in die oog het. Hulle kan dus meermale in vervulling gaan. Hulle behou egter hulle karakter as tekste wat die dringendheid en nabyheid van die eindgebeure onderstreep. Hulle kan enige tyd in vervulling gaan, want God se tyd is nie ons tyd nie. Ons moet dus altyd wakker en nugter lewe, met ons oë gerig op die wolke, by wyse van spreke, al is hierdie woorde reeds ongeveer 2000 jaar gelede uitgespreek en al het hulle reeds (voorlopig) in vervulling gegaan in die eerste eeu nC. Feit is dat die finale vervulling daarvan – die wederkoms van Christus in heerlikheid – nog uitstaande is.

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl