Jesus se begrafnis – hoe het dit gebeur? – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Jesus is gekruisig en dit was, soos ons gesien het, nie ‘n eervolle manier om dood te gaan nie. Dit was ook nie outomaties dat mense wat gekruisig is sommer begrawe is nie. Ons moet onthou dat die mense wat gekruisig is ernstige kriminele in die oë van die staat was. Hulle het volgens die staat eintlik nie ‘n behoorlike begrafnis verdien nie. Ons het verhale uit die ou tyd wat vir ons vertel dat die lyke dikwels sommer so aan die kruis gelos is om te vergaan of deur die voëls opgeëet te word. So iets kon dae duur. In Palestina was dit darem ‘n bietjie anders. Die Romeine het  die Joodse godsdiens gerespekteer en hulle toegelaat om hulle lyke af te haal voor die Sabbat sodat die Sabbat nie onteer word nie. In ander gevalle is die liggame wat wel van die kruis afgehaal is, sommer saam in ‘n gat of selfs op die ashoop gegooi waar dit deur diere opgevreet is.

Ons weet ook dat die lyke van die kriminele nie mooi van die kruis afgehaal is nie. Die enkelbene van iemand wat in die ou tyd gekruisig is, is in Palestina opgegrawe. Die spykers het nog aan die bene vasgesit, wat natuurlik beteken dat die persoon se been net bokant die enkel afgekap is. Die enkel en voet het dus aan die hout agtergebly. Dit was natuurlik dikwels nodig om vinnig te werk, veral as die son begin sak en die Sabbat nader kom. Die spykers was dik en groot en is omgeklink aan die agterkante. Om so spyker uit te kry was nie maklik nie. Daarom was die ‘afkapmetode’ die vinniger en makliker een.

In Jesus se geval het dit anders gewerk. Wat Jesus se volgelinge oor sy begrafnis te sê gehad het, lees ons op die volgende plekke in die Nuwe Testament: Mat 25:57-66; Mk 15:42–47; Luk 23:50–56; Joh 19:38–42.

Die son het begin sak en die Sabbat het begin nader kom (dit was reeds laat middag, vertel die Bybel ons – Mat 27:57). Wat moet met Jesus se liggaam gebeur? Ons lees dat ‘n belangrike Jood, wat lid van die Joodse Raad (hulle ‘parlement’) was, naamlik Josef van Arimatea, moed bymekaar geskraap en vir Pilatus gaan vra het of hy Jesus se liggaam kon kry. So het hy gekeer dat Jesus se liggaam miskien op die ashoop kon land. Ons lees wel dat in die gesprek Pilatus verbaas was dat Jesus reeds dood is. Hy het toe die offisier laat roep om dood seker te maak dat Jesus wel dood was. Daar is dus nie ‘n kans dat Josef Jesus lewend van die kruis kon  afneem nie. 

Josef was een van Jesus se volgelinge en sou later in die geskiedenis ook ‘n belangrike rol onder die Christene speel. Sy familiegraf was naby die plek waar Jesus begrawe is. Dit was die gebruik in daardie tyd om familiegrafte te hê. So ‘n graf was eintlik ‘n tipe grot of kamer wat uit die rots gekap is – daarom kon daar ‘n rots voor die ingang na die grot gerol word. In die grot was daar dan gewoonlik ook meer as een plek vir ‘n liggame, byna soos rakke. Gewoonlik is ‘n liggaam vir ‘n jaar op een van die ‘rakke’ gelos. Dan is die bene bymekaar gemaak en in ‘n spesiale kissie saam met die familie geneem of in die graf op ‘n spesiale plek op ‘n hoop gegooi. Dit is wat die Bybelse uitdrukking ‘by die beendere van die ouers versamel wees’ beteken. Dan was die ‘rak’ in die graf weer beskikbaar vir ‘n volgende lid van die familie. Die Bybelskrywers vertel ons dat Jesus in ‘n nuwe graf  wat volgens Johannes in ‘n tuin geleë was, begrawe is. Dit beteken bloot dat daar nog nie ander liggame op die ‘rak’, of selfs in die graf, waar Jesus begrawe is, gelê het nie.

Ons word ook vertel dat Jesus se liggaam in doeke toegedraai is. Daar is so bietjie onsekerheid wat daar presies gebeur het. Volgens Johannes het Nikodemus letterlik ‘n vrag olie wat lekker ruik gebring en saam met Josef van Arimatea Jesus se liggaam gebalsem het, soos dit die gebruik onder die Jode was (Joh 19:39). Die balsem was onder ander om met die reuke van ontbindende liggame te help, aangesien ons weet dat van die familie die graf gaan besoek het. Daar is selfs met opgrawings oorblyfsels van etes in die grafte gekry, wat wys dat die mense daar gaan eet het, waarskynlik as tipe godsdienstige gebaar. As ons egter die ander Evangelies lees, dan klink dit daar nie genoeg tyd was om Jesus se liggaam te balsem nie. Die Sabbat was te vinnig op hulle. Hulle het Jesus wel in doeke toegedraai (Mat 25:59), maar nie gebalsem nie. Hulle het die olie en salf wat lekker ruik gaan voorberei nadat Jesus reeds in die graf neergelê is (Luk 23:56) en is Sondagoggend vroeg na die graf om Jesus te gaan balsem. Natuurlik was Hy toe nie meer daar nie.

Nadat Jesus dus vir die graf voorberei is, is Hy in die nuwe graf gaan neerlê. Die klip is voor die ingang na die ‘grotkamer’ en boonop verseël. Ons word vertel dat die Jode bang was dat die liggaam gesteel sou word en daarom het Pilatus ingewillig dat wagte die graf oppas (Mat 25:62-66). Tog was die graf die Sondagoggend leeg. Jesus het opgestaan!

‘n Vraag wat sommige mense tog oor wonder is of die manier waarop Jesus begrawe is deel van sy vernedering was. Hulle argumenteer dat Jesus nie ‘n eervolle begrafnis gehad nie. Om eervol in die tyd van Jesus begrawe te wees het beteken dat jy in die familiegraf begrawe is en dat daar behoorlik oor jou gerou is deur jou familie. Dit het nie met Jesus gebeur nie… en dit beteken dat Jesus oneervol begrawe is. Dit beteken dat sy graf as deel van sy lyding en vernedering gesien moet word. Jesus se lyding gaan dus selfs in sy graf aan. Eers met sy opstanding is die oorwinning regtig daar!

Hoewel dit mooi inpas by die lydensverhaal is dit nie seker of Jesus regtig oneervol begrawe is nie. Hy is in ‘n nuwe graf van sy volgeling begrawe en sy ma en Maria Magdalena was by die graf om te rou (Mat ). Ons lees nie dat die res van sy familie in Jerusalem was om te rou nie.

Daar word gesê dat Jesus drie dae in die graf was. As ‘n mens 24-uur dae tel, was Jesus natuurlik nie drie dae in die graf nie. Maar so is dae nie noodwendig getel nie. Dele van dae het ook as dae getel, nie net volle dae nie. So is Jesus op Vrydag begrawe, was Saterdag in die graf en is Sondag uit… drie dae.

Word daar iets gesê oor wat Jesus gedoen het terwyl Hy die drie dae in die graf was? Johannes sê in 10:17-18 dat Jesus wel sy fisiese lewe afgelê het, maar dat Hy geestelik bly leef het, wat maar ‘n ander manier is om te sê dat Hy by God was. As Hy heeltemal dood was, hoe sou Hy weer sy lewe kon opneem, soos wat hy volgens 10:17-18 wel gedoen het? Hy is immers die opstanding en die lewe wat lewe al het Hy ook gesterf (Joh 11:25-26). Petrus gee vir ons ‘n ander kykie op die drie dae: Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het (1 Pet 3:18-20). Volgens hierdie verse sou Jesus in die doderyk – waarheen dooies almal gegaan het – sy oorwinning oor die duiwel en die dood gaan aankondig het. In die drie dae was Hy dus op ‘n oorwinningstog… en die ware oorwinning kon almal sien toe Jesus uit die dood opgestaan het.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...