Jesus se doop

image_pdfimage_print

Jesus se doop – Coen Slabber

Jesus se doop deur Johannes kan as ‘n oorgang tussen Johannes se doop en die Christelike doop gesien word. Dit word algemeen aanvaar dat Jesus se doop deur Johannes ‘n historiese gebeurtenis was – dit het werklik plaasgevind. Omdat die mindere gewoonlik deur die meerdere gedoop word, sou die doop van Jesus deur Johannes as ‘n verleentheid gesien kon word. Daarom beklemtoon al vier evangelies Johannes se verklaring dat die Een wat na hom kom groter as hy is en dat sy doop ook met die Heilige Gees sal wees (Matteus 3:11; Markus 1:7 – 8; Lukas 3:16; Johannes 1:26 – 34).

Johannes se doop was ‘n bekeringsdoop: Bekeer julle, want die koninkryk van die Hemel het naby gekom (Matteus 3:2). Dit was bekering gevolg deur vergifnis van sonde. Nou die dilemma: Hoekom sou Jesus Hom laat doop het, want Hy was tog sonder sonde? Dit word gesien as voorbereiding vir Jesus se aardse bediening – dit is in werklikheid die begin van die Christelike verhaal.

In die evangelies word die doop van Jesus verbind met Jesus se erkenning en aanvaarding van sy spesiale verhouding met God, sy Vader. Jesus se doop was ‘n spesiale gebeurtenis. Die verklaring dat Jesus die Seun van God is en die koms van die Heilige Gees op Hom tydens sy doop, loop parallel met die beloftes gekoppel aan die Christelike doop.

Wat sê die evangelies van Jesus se doop?

  1. Markus (1:9 – 11). Jesus kom van sy tuiste in Nasaret en word deur Johannes in die Jordaan gedoop. Jesus het besluit om erkenning te gee aan Johannes se bediening. In 1:5 lees ons dat die mense wat na Johannes gekom het om gedoop te word hulle sondes bely het. Jesus doen dit nie. Jesus is deur Johannes gedoop – Johannes het die doop waargeneem. In 1:10 kry ons ‘n balans: Jesus kom uit die water en die Gees daal uit die hemel neer. Die Gees wat soos ‘n duif neerdaal, mag herinner aan Genesis 1:2 waar die Gees oor die waters gesweef het. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My. Dit herinner aan Psalm 2:7: Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader. In Psalm 2 word na die koning verwys. Dit word ook toegepas op die dienaar van die Here (Jesaja 42:1). Daar word dit gevolg met die belofte: Ek laat my Gees op hom kom. Hierdie samestelling van Psalm 2 en Jesaja 42 wys vir ons dat Jesus die Koning is, maar ook die lydende Dienaar.
  2. Lukas (3:21 – 22): Alhoewel Lukas se beskrywing die korste is, voeg hy drie belangrike besonderhede by wat ons nie elders kry nie:

(a) Terwyl Hy staan en bid. Hy bid nadat Hy gedoop is. Dit was nie ‘n gebed van berou nie.

(b) Hy identifiseer die Gees as die Heilige Gees.

(c) Hy sê dat die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal het. Die koms van die Heilige Gees op Jesus was sy salwing as Messias.

  1. Matteus (3:13 – 17): Die beskrywing stem grotendeels met dié in Markus en Lukas ooreen. Daar is wel ‘n paar onderskeidende punte. Hier lees ons dat Jesus van Galilea na die Jordaan gekom het om deur hom gedoop te word. Ons lees ook dat Johannes beswaar gemaak het: Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe? Hierdie gesprek tussen Jesus en Johannes is waarskynlik ingevoeg as reaksie op die probleem wat baie ondervind het dat Jesus gedoop is. Iemand sonder sonde het tog nie die doop nodig nie. Jesus antwoord dat Johannes Hom wel moet doop, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen. Hiermee stel Hy ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid vir ons. Matteus verwys ook na die Gees van God en sê: Dit is my geliefde Seun en nie Jy is my geliefde Seun nie.
  2. Johannes. Daar is geen direkte verwysing na Jesus se doop in hierdie evangelie nie. Die skrywer aanvaar die gebeure is bekend en al wat hy doen, is om dit te interpreteer. Die doel van die doop was om Jesus te identifiseer. Johannes getuig dat hy die Gees op Jesus sien neerdaal het: Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God (1:34). Johannes getuig ook dat Jesus Christus die sonde van die wêreld sal wegneem. Johannes is die enigste evangelie wat vir ons vertel dat Jesus en sy dissipels mense gedoop het (3:22 – 23; 4:1 – 2). Dat Jesus self gedoop was en dat Hy en sy dissipels mense gedoop het, verduidelik waarom die dissipels kort na Jesus se opstanding die dooppraktyk ingestel het.

Die koms van die Gees soos ‘n duif word in al vier evangelies genoem. ‘n Ander aspek wat ons in al vier evangelies kry, is dat Jesus in die toekoms met die Heilige Gees gaan doop.

Maar hoe het die Christene die doop van Jesus geïnterpreteer? ’n Algemene siening was dat Jesus nie reiniging vir Homself nodig gehad het nie, maar deur sy doop maak Hy voorsiening vir ons reiniging. Soos Ambrosius dit stel: Ons menslike natuur is saam met Jesus in die water.

Deur Hom aan die doop te onderwerp, het Jesus Hom ten volle met die mensdom geïdentifiseer. Sy doop wys dus vir ons dat Hy werklik en ten volle mens was. Vroeë Christelik skrywers verwys gereeld na Jesus se geboorte en besnydenis plus sy doop as tekens van sy menslikheid.

Op 6 Januarie (die fees van Godsverskyning) word Jesus se doop herdenk. Hierdie is die geleentheid waar daarop gelet word dat Jesus deur sy doop water geheilig het en so die basis vir die Christelike doop gevestig het. Soos Gregorius dit stel: Christus is gedoop, laat ons saam met Hom afdaal sodat ons ook saam met Hom kan opstyg.

Die algemene uitgangspunt was dat Jesus, deur Homself te laat doop, die doop geheilig het. Daarom moet ons ook gedoop word. Eintlik het ons meer rede om gedoop te word, want ons is sondaars.

Ter opsomming:

  1. Jesus se doop word gesien as ‘n model vir die Christelike doop.
  2. Die teenwoordigheid van die duif trek ‘n verband tussen die doop en die koms van die Heilige Gees.
  3. Dit word gesien as die oorgang van die ou na die nuwe verbond.

Bibliografie:

Ferguson, Everett (2009); Baptism in the Early Church. William B. Eerdmans Publishing Company

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

image_pdfimage_print

You may also like...