Jesus se gemeenskap
Tact is the ability to describe others as they see themselves. -Abraham Lincoln,
Jesus se gemeenskap
Hoe lyk ‘n gemeenskap wat op Jesus en sy werk sentreer – in die praktyk? In Romeine 1 – 11 bespreek Paulus die volheid en heerlikheid van die evangelie. In Hoofstuk 12 beweeg hy na ons reaksie in die lig van die evangelie. In die laaste deel van die hoofstuk kry ons praktiese riglyne wat ons help in ons najaag van ‘n gemeenskap wat op die evangelie sentreer.
Nadat hy bewys het dat Christus die een is wat die gemeenskap vestig, rig hy ‘n uitdaging: die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid (Romeine 12:9 – 13).
Kom ons kyk na van hierdie stellings:
Die liefde moet opreg wees. Ware gemeenskap is eg. Die gemeenskap is nie oppervlakkig of vals nie; nie vol maklike antwoorde nie – geen maskers word toegelaat nie. Sonde, vrese, probleme, mislukking word gereeld bely. Gelowiges word in gemeenskap met mekaar geplaas vir een rede: omdat God hulle uit hulle vorige lewenswyse geroep het.
Verafsku wat sleg is. So ‘n gemeenskap erken die teenwoordigheid van sonde, maar reduseer nooit die erns van sonde nie. Verafsku is ‘n sterk woord. ‘n Gemeenskap gesentreer op die evangelie skep ‘n veilige omgewing vir mense om eerlik te wees oor waar hulle is. Hulle bely hulle sonde. As God ons red, verander ons gesindheid teenoor sonde – ons verafsku dit meer en meer. Omdat ons dikwels nie ons eie sonde raaksien nie, het ons ander nodig om dit vir ons uit te wys. Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene (Spreuke 27:6).
Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar. Christene gee om vir mekaar. Maar Paulus gaan verder: bewys eerbied teenoor mekaar – teenoor alle gelowiges die hele tyd. Eerbied en liefde is aan mekaar verbind. As ons God se liefde vir ons – ten spyte van onsself – verstaan, kan ons ander liefhê – ten spyte van hulleself. Liefde vir God lei tot liefde en eerbied vir ander.
Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Hierdie geld nie net vir individuele Christene nie, maar vir die hele geloofsgemeenskap. Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik (1 Johannes 4:10 – 12)
Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Hierdie gemeenskap word gekenmerk deur die warmte en gasvryheid wat voortdurend daaruit spruit. Ons is almal behoeftig. Omdat God in ons behoeftes voorsien het, moet ons in die behoeftes van ons broers en susters voorsien. Maar hierdie behoeftes is nie net materieel nie, maar ook geestelik. God het die geloofsgemeenskap gekies om te verseker dat sy kinders versorg word.
Die gemeenskap wat ons tans ondervind, is slegs ‘n weerkaatsing van die uiteindelike, ewigdurende gemeenskap. Daar is niks sterker en dieper om die gemeenskap op te bou nie as die evangelie nie. Gemeenskap is net so sterk soos dit waarop dit gebou is.