Jesus se toewydingsgebed (17:1-26)
Jesus se toewydingsgebed (17:1-26) – Francois Malan
Na Jesus se openbare onderrig in die wêreld (1:19-12:50), het Hy sy groepie vriende dieper ingelei in die geheim van sy liefde vir hulle, tot die uiterste toe (13:1-16:33). In hoofstuk 17 laat Hy hulle deel word van sy gebedslewe. Hy laat sy vriende insit in sy intieme gesprek met sy Vader. In verse 1-5 gaan dit om sy verhouding tot sy Vader; in 6-19 bid Hy vir sy dissipels; in 20-26 bid Hy vir die hele kerk wat deur hulle getuienis tot stand gaan kom. [Cyrillis wat in 412 n.Chr. biskop van Alexandrië in Egipte geword het, het al gepraat van die ‘hoëpriesterlike gebed’, na aanleiding van die verklaring van Jesus as ons hoëpriester in Hebr.4:14 tot 8:6. Die benaming is in die 16e eeu deur David Chitreus van Rostok in Duitsland gebruiklik gemaak]. Baie van die temas in hoostukke 13-16 word hier herhaal.
17:1 Na Jesus se verklaring dat Hy die wêreld oorwin het, kyk Hy op na die hemel met ‘n feestelike gebed om sy oorwinning te vier: ‘Vader (Aramees Abba – ‘n verkleinvorm van Ab Vader – soos kindertjies hulle pa aangespreek het as uitdrukking van hulle liefdes- en vertrouensverhouding) die uur het gekom!’ Deur die Evangelie het Hy telkens gesê: my uur het nog nie gekom nie (2:4; 7:6,8,30; 8:20) en van hoofstukke 12 en 13 af dat die uur wel gekom het. ‘Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik’ – dit is die grondtoon en samevatting van die gebed. Hier reg voor sy kruisiging is dit Jesus se begeerte dat Hy sy lewe in hierdie uur aan sy Vader sal wy as ‘n aanvaarbare offer vir die sonde van die wêreld (17:19); dat die Vader Hom uit die dood sal opwek tot die troon van heerlikheid (13:31-32); dat almal dit sal erken as die begin van die koms van God se koningskap oor die hele wêreld; dat die heerlikheid van die Vader sal straal uit sy liefde om mense te oortuig en te verlos.
17:2 Die heerlikheid van die Vader en die Seun word aangedui as die seggenskap van die Seun oor die mensheid (oor alle vlees). Hy oordeel oor alle mense. Dié wat in Jesus glo word nie veroodeel nie, maar het reeds die ewige lewe (3:18). Dit is hulle wat die Vader aan Hom gee om in Hom te glo (6:37-40). Die Vader trek hulle na Jesus toe (6:44) en gee dit aan hulle om na Jesus toe te kom (6:65). Daarteenoor bly die straf van God op dié wat ongehoorsaam is aan Jesus en sal hulle die lewe nie sien nie (3:18). Joh. 12:37-42 verwys na Jes.53:1, na die mense wat nie in die lydende Kneg van die Here glo nie, en na Jes.6:10,13 na die volk wat doof bly en net ‘n stomp oorbly. Maar ‘n takkie sal uit die stomp spruit (Jes.11:1) en ‘n oorblyfsel sal terugkom na die almagtige God toe (Jes.10:21). Aan hulle wat in Jesus glo, skenk Hy die ewige lewe, die lewe saam met God, met die inwoning van die ewige God in ons (14:25).
17:3 Die ewige lewe word omskryf as ‘om die enigste ware God en sy gesant, Jesus Christus, te ken.’ Die Griekse woord ‘ken’ het die volgende aspekte: om te leer ken deur persoonlike betrokkenheid, om bekend te wees met, om te begryp en te erken. Die ewige lewe is ‘n persoonlike liefdesvriendskap met die ware God as die God vir wie ons lewe en as Vader wat vir ons sorg, en met sy Seun Jesus (as ons Verlosser uit die mag van sonde), die Christus (gesalf as ons Koning wat oor ons lewe heers met sy opofferende liefde).
17:4 Jesus se ganse bediening was tot verheerliking van sy Vader, wat die opdrag daartoe gegee het. Hy het die werk van sy Vader volbring. Met ‘dit is volbring’ sterf Jesus aan die kruis (19:30) as die kulminasie van sy verheerliking van sy Vader – tot die dood getrou as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29) – van die God wat die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun daarvoor gegee het (3:16).
17:5 Nou vra Jesus dat die Vader aan Hom die heerlikheid, wat Hy voor die skepping by die Vader gehad het, weer sal gee by die Vader self – terug in die gestalte van God (Flp.2:6), aan God se regterhand (Rom.8:34), sodat Hy as God in ons kan woon, en sy werk op aarde deur ons kan voortsit. Op aarde was sy goddelike heerlikheid verberg, en moes dié wat Hom in geloof aanvaar, dit uit sy woorde en optrede aflei, dat Hy vol genade en waarheid is (1:4); deur te glo dat sy wondertekens (2:11) openbarings is van die mag van God, om Hom te verheerlik (11:4,40). Soos sy heerlikheid van die begin af aan die liefde van die Vader verbind was (3:16), so is Jesus se heerlikheid ná sy hemelvaart steeds met dié liefde vervul en daardeur bepaal. Deur sy terugkeer na die Vader behou die Woord van God wat mens geword het (1:14) die heerlikheid van God in die volste sin van die woord as lig tot verligting van die nasies (Luk. 2:32; 2 Kor.4:4,6), as liefdesmag van God se genade (Ef.3:16-19), as openbaring van God se woord en wil aan die mensdom.
Skrywer: Prof Francois Malan