JESUS SE VERHEERLIKING
“Revelation and faith now mean a personal encounter, personal communion.” – Emil Brunner
Jesus se verheerliking
Jesus se verheerliking vind naby die einde van sy bediening plaas. Sy gehoor bestaan uit drie mense: Petrus, Johannes en Jakobus. Hierdie gebeurtenis gee vir ons inligting oor Jesus, maar kommunikeer ook iets baie belangrik van sy bediening. Matteus beskryf hierdie gebeurtenis in 17:1 – 8.
Jesus is besig om sy bediening af te rond. Hy berei Hom voor om na Jerusalem te gaan. Hy weet daar wag lyding en dood op Hom. Hy en sy drie dissipels gaan na ‘n hoë berg waar hulle alleen sou wees. Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. Jesus se uiterlike vorm het verander.
Sy gesig het begin straal soos die son
Sy gesig begin straal met die intensiteit van die son. Dit herinner aan Moses wat God se heerlikheid wou sien (Eksodus 33:18 – 23). God beweeg verby Moses terwyl hy in ‘n rotsskeur versteek is. Toe Moses van die berg afkom, het sy gesig geskyn tot so ‘n mate dat hy dit moes bedek. Hier was net heerlikheid wat weerkaats is – dit kom nie van Moses self nie. Tydens die verheerliking op die berg weerkaats Jesus nie die heerlikheid van God nie – dit kom van Homself. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God (Hebreërs 1:3).
Paulus het die heerlikheid van Christus op die Damaskus-pad gesien. Hy was op pad om die Christene in Damaskus te vervolg. Skielik skyn daar ‘n lig uit die hemel; hy val neer op die grond; hy hoor ‘n stem wat vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Paulus wou weet wie dit is en Jesus antwoord: Ek is Jesus … Dit is My wat jy vervolg (Handelinge 9:3 – 5). Hierdie lig was so helder dat dit hom tydelik verblind het.
In Openbaring lees ons van die nuwe Jerusalem, die stad van God se mense – die nuwe aarde. Die stad het nie die son en maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp … daar sal nie meer nag wees nie (Openbaring 21:23, 25).
Petrus, Johannes en Jakobus het iets hiervan ondervind toe Jesus op die berg verheerlik is. Jesus openbaar aan hulle sy ware heerlikheid. Dit is iets wat hulle nooit sou vergeet nie. In die proloog tot sy evangelie skryf Johannes: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (1:14).
Sy klere het wit geword soos die lig
Markus sê dat by sy verheerliking het Jesus se klere blink geword – spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie (9:3).
‘n Wolk en ‘n stem
Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat. Moses en Elia verteenwoordig die wet en die profete en hulle praat met Jesus oor sy bestemming – oor die taak wat vir Hom voorlê. Om die wet en die profete te vervul, moes Jesus ly en sterf. Dit kon Petrus nie hanteer nie; hy begin babbel: As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia. Maar terwyl hy nog gepraat het, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Die dissipels sien nie net nie, hulle hoor ook. Die Vader sê nie net wie Jesus is nie, maar voeg by dat Hy Hom in sy Seun verheug – net soos By Jesus se doop. Hy beveel ook die dissipels om te luister na wat Jesus sê.
Toe die dissipels dit hoor, word hulle baie bang en val op die grond neer. Jesus kom na hulle en raak hulle aan en sê vir hulle: Staan op en moenie bang wees nie. Toe hulle weer opkyk was Moses en Elia weg. Hulle sien Jesus soos hulle Hom nog altyd gesien het – die metamorfose is verby.
Alle gelowiges gaan op een of ander stadium die verheerlikte Jesus sien. In die nuwe aarde en hemel sal Hy nie meer vir ons verborge wees nie – die helder, blink lig van die heerlikheid en sy Lam sal ons elke oomblik kan sien.